Vrydag 6 Maart – Die pad van heerlikheid loop deur lyding

Markus 9: 2-3 en 7

Ses dae nadat Jesus met sy dissipels oor sy komende lyding gepraat het, neem Hy Petrus, Jakobus en Johannes saam na ’n hoë berg. Daar, voor hul oë, word Hy van gedaante verander. Sy klere word stralend wit. En dan verskyn Moses en Elia, simbole van die wet en die profete en praat met Hom.

Die toneel is hemels. ’n Gloed van heerlikheid, ’n ontmoeting tussen hemel en aarde, en dan die stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.

Wat ’n oomblik! Geen wonder Petrus wil tente opslaan en daar bly nie. Maar Jesus laat hulle nie toe nie. Hulle moet weer berg af, terug na lyding, verwarring en mense wat nie verstaan nie. Die bergtop was nie die bestemming nie, dit was bloot ’n bevestiging vir die pad vorentoe.

Dis belangrik dat hierdie gebeurtenis kort ná Jesus se woorde oor kruis dra en selfverloëning plaasvind. God wil hê ons moet weet die Een wat sal ly en sterf, is ook die Seun van God. Hy is nie minder God omdat Hy sal sterf nie, Hy ís juis daarom Godself. God se heerlikheid lê nie net in krag nie, maar in gehoorsaamheid; nie net in stralende lig nie, maar ook in donker lyding.

Dis ’n troos vir elkeen van ons wat soms voel dat lyding die laaste woord het. Die verheerliking wys daar is lig op die berg, al is die pad daarheen swaar. Ons sien dalk nie nou die volle heerlikheid van God nie, maar ons hoor die stem: Luister na Hom. En dit is genoeg vir vandag.

Luister, ook as die pad moeilik is. Luister, ook as jy niks verstaan nie. Want die Seun van God stap voor jou uit en Hy is beide Heer en Lyer.

Gebed

Here, gee my geloof om u heerlikheid raak te sien, selfs in die donker. Wanneer ek wil vlug, help my om op u stem te let. Ek wil luister na U, my geliefde Koning. Amen.

Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos

Dinsdag 3 Februarie – Jesus het gehuil

Johannes 11: 33-44 Die wêreld maak seer. Ons sien dit elke dag: siekte, dood, hartseer, moord, ongelukke. Elkeen van ons het al pyn in hierdie wêreld beleef en soms voel dit of dinge net te veel raak. In Johannes 11 lees ons van ’n man met die naam Lasarus wat gesterf...

read more

Maandag 2 Februarie – Wat is liefde?

1 Korintiërs 13 Wat is liefde? Is dit ’n gevoel? Is dit iets wat jy vir ander doen? Is dit iets wat net natuurlik vir mense voorkom? Oor die eeue heen was liefde ’n bekende konsep, en dit is nog steeds. Maar almal verstaan liefde anders. Selfs mense van verskillende...

read more

Sondag 1 Februarie – Wat is hoop?

Romeine 5: 1-11 Hoop. Die lig aan die einde van die tonnel. Die lig wat in die donker skyn. Hoop. ’n Klein woordjie wat eintlik soveel waarde dra. Die woordjie hoop is ’n woord wat ons daagliks gebruik. Maar wat beteken hoop eintlik? Wat beteken die woord hoop vir...

read more