Dinsdag 16 Junie – Die Heer en Lewendmaker
Esegiël 37: 1-14
Esegiël 37 bied aan ons een van die mees dramatiese voorstellings van dit wat ons aangaande die Heilige Gees bely, naamlik: dat die Heilige Gees Heer en Lewendmaker is. Wat geboorte kan gee teen alle waarskynlikheid in. Wat lewe kan gee waar dood heers.
Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom? (Es 37: 3a). Esegiël het geantwoord: Nee, dit weet net U, Here my God (Es 37: 3b). Ons twyfel of God nuut kan maak. Ons antwoord eerder soos Esegiël: aarselend, onseker, vol twyfel. Miskien oorweldig deur die uitgedroogde doodsbeendere in en rondom ons. Nee, dit weet net U Here my God. Of hier weer lewe kan kom? Moet liewer nie vir my vra nie…
Ons eie spreektaal verraai die twyfel (die doodsheid) waarmee ons na die lewe kyk. Ons sê: Iets het binne in my doodgegaan. Of ons liefde vir mekaar is dood. Of, ek is doodmoeg of doodbang, doodalleen, doodbenoud. As dít ons uitsig op lewe is – vasgevang in situasies van doodsheid – watter geweldige sterk teenspraak is ons belydenis dan nie wat sê: Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak! God is by magte om doodsbeendere weer lewend te maak. Dit is die Gees wat lewend maak. Die mens self kan dit nie doen nie (Joh 6: 63).
Hoe maak die Gees lewend? Die Heilige Gees dra, deur die evangelieverkondiging, die heilswerk van die Christus in ons harte in en maak dit tot ons eiendom. Die Gees laat ons deelhê en deelkry aan die Christus en al sy weldade.
As ons na ons geraamtes in ons kas kyk – die doodsbeendere van ons eie sondige bestaan – hoor dan weer God se Woord as troos: God is by magte om die doodsbeendere van en die doodsbeendere in ons bestaan lewend te maak. Trouens, God het dit alreeds gedoen deur Jesus Christus wat lewe gee en dit in oorvloed. Aan beide kante van die graf!
Die Heilige Gees getuig en oortuig my deur die Woord, dat ek aan die gekruisigde en opgestane Here deel het. Daarom glo ek in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak!
Ds André Thomas, Oos-Moot
Dinsdag 8 Julie – Kragtige werkinge
1 Korintiërs 12: 4-11 Ons bely die Drie-enige God: Skepper, Verlosser en Gees. Ons lewe in die bedeling van die Gees. Paulus beskryf die gawes van die Gees ook in die vorm van ’n drie-heid en eenheid: verskillende gawes, maar een Gees; verskillende dienste, maar...
Maandag 7 Julie – Gemaak om te vlieg
Handelinge 2: 36-39 Petrus se preek raak die hoorders. Eers skrik hulle. Kyk hoe lyk die wêreld. ’n Onskuldige mens, Jesus, is doodgemaak. Het die magte van die wêreld dan gewen? Hulle vra: Wat moet ons doen? Dit verwoord hul verlange na iets anders. Dan kom hulle in...
Sondag 6 Julie – Volwasse geloof
1 Korintiërs 2: 6-16 Die Apostoliese Geloofsbelydenis beskryf God as die Skepper en brei uit oor Jesus. Dan volg net: Ek glo in die Heilige Gees. Verder niks. Selfs oor die kerk word meer gesê. Ook die Bybel vertel baie meer oor God en Jesus as oor die Gees. Daar is...
Saterdag 5 Julie – Geesdriftig toegerus (7) – as predikant
2 Timoteus 4: 1-9 Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld...
Vrydag 4 Julie – Geesdriftig toegerus (6) – as ouderling
Handelinge 20: 17-38 Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ’n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun (Hand 20: 28). Wat is ’n...
Donderdag 3 Julie – Geesdriftig toegerus (5) – as diaken
Handelinge 6: 1-8 Die voorstel het by al die gelowiges byval gevind, en hulle het Stefanus gekies, ’n man met ’n vaste geloof en vol van die Heilige Gees... (Hand 6: 5). Ons staan ’n bietjie stil by die besonderse ampte wat die Here vir sy kerk gee, naamlik diaken,...