’n Predikant van die Hervormde Kerk en ’n predikant van die NG Kerk deel ’n pastorie… Wat klink soos die begin van ’n grappie wat in teetyd by die AKV oorvertel kan word, is van die begin van 2021 af die werklikheid in ons huishouding.
Met die veranderende omstandighede in Namibië, kinders wat moet begin skool toe gaan, permitte wat al hoe langer sloer en familie wat al hoe verder begin voel, moet ons ongelukkig Namibië vir Suid-Afrika verruil, en so begin ons laat in 2020 met Operasie Beroepsoek. Beroepe in die Hervormde Kerk is so skaars soos hoendertande, so die Kerkbode word ook maar bekyk met die hoop dat ons daar iets sal vind. So kom die beroep vir Nelius toe. Na die NG Gemeente Oranjevallei te Ses Brugge, net buite Upington.
Aanvanklik is dit vir my ’n moeilike pil om te sluk. Ons is albei gebore Hervormers. En om saam “te kerk” is van die begin van ons verhouding af ’n groot deel van ons identiteit. Baie van ons gesprekke handel nog altyd rondom ons Kerk, ons ring, ons gemeente. Ons kinders word groot in die Hervormde Kerk se ringsvergaderings, VTT’s, NHSV konferensies, en hulle het selfs al ’n AKV bygewoon. Dominees Nelius en Marsulizé van Niekerk van die Hervormde Kerk is maar net wie ons nog altyd is, wie ek gedink het ons altyd sal wees, en skielik moet een van ons lidmaatskap bedank en by ’n ander kerk aansluit. Alles gebeur baie vinnig en voor ons weer sien, neem ons ’n foto van die treklorrie op pad Upington toe.
NGK Oranjevallei is ’n konserwatiewe gemeente waar die predikant nog toga dra, die kerkraad in hul eie banke sit, die erediens met ’n vol liturgie ingekleur word, en die lidmate steeds opgewonde is oor Bybelstudie en huisbesoek. Die feit dat die ooreenkomste tussen hierdie gemeente en dit was ons ken in die Hervormde Kerk so baie is, het die skuif vir ons as gesin makliker gemaak. Was dit nie vir die naambord buite nie, sal ’n deursnee-lidmaat van die Hervormde Kerk waarskynlik eers wanneer die eerste kollekte, hier na die einde van die diens, in die kerk opgeneem word, agterkom dit is nie ’n gemeente van die Hervormde Kerk nie.
Met die skuif na die NG Kerk besef ons dat daar, binne hierdie gemeente se konteks, baie van dieselfde uitdagings in die NG Kerk as in die Hervormde Kerk is. Dalende lidmaatgetalle, kinders wat wegraak uit die kerk uit nadat hulle belydenis van geloof afgelê het, lidmate wat nie so betrokke is soos wat die predikant en kerkraad hulle graag sou wou hê nie – al hierdie dinge waaroor ons saam met ons kollegas in die Hervormde Kerk bekommerd was en waarvoor ons oplossings gesoek het voor die skuif, is dinge waaroor Nelius se kollegas in die NG Kerk ook kopkrap en oplossings voor soek. Ons betrokkenheid by die NG Kerk laat my wonder of dit nie nodig is nie dat meer van ons ons pastorie vir ’n NG kollega moet oopmaak en ons saam moet begin soek na oplossings vir die krisisse in ons kerke?
In ons huis is ons nou genoodsaak om verby die verskille te kyk, die ooreenkomste raak te sien en daarop te fokus. Ons kry nou die geleentheid om saam te soek na dit wat ons een geloofsgemeenskap maak, in plaas van dit wat ons lidmate van twee verskillende denominasies maak. Wanneer ek die uitwerking van hierdie kopskuif (en waarskynlik ook hartskuif) van ons sien, wonder ek hoeveel baat die verskillende kerke dalk ook daarby sal vind?
Die Sustersvereniging is nou ’n Vrouediens, en die vroue wil liefs nie susters genoem word nie. Ons hou nou tien dae lank Pinkster en nie meer net een Sondag nie. Een van ons het nou ’n Algemene Sinodevergadering en die ander ’n Algemene Kerkvergadering. Ons kerkordes verskil, maar ons roeping en ons passie is gelukkig steeds dieselfde: om die Woord te bedien aan die lidmate wat aan ons toevertrou is, om Jesus se hande te wees in die gemeente en gemeenskap, om God se liefde aan die wêreld uit te dra, ongeag watter een van ons se kerkvaandel ons daardie dag gebruik.
(Ds Marsulizé van Niekerk is tans nog as leraar aan Gemeente Windhoek verbonde, en preek van tyd tot tyd in Upington)