Dit is Februarie van die nuwe jaar, en ons is almal siek. Nee, daar is nie ’n nuwe pandemie nie, dit het niks met Covid uit te waai nie. Ons is aan die begin van elke jaar só siek. Want ons kan weer medisyne bekostig, ons mediesefondsvoordele het weer ingeskop.

Rory Petzer, ’n grapjas op Twitter, skerts oor wat jy by die eerste afspraak met ’n moontlike lewensmaat moet afpraat. In die ou dae, sê hy, moes jy in die eerste afspraak weet wat die persoon doen om brood te verdien, wil sy trou en kinders hê, wie is sy familie en waarmee hou hulle hulle besig, waar kom jy vandaan en waar woon jy? Wat glo dié mens alles? Deesdae moet jy met die eerste afspraak al by die ware belangrike goed uitkom, goed soos: Het jy ’n kragbattery? Het jy ’n JoJo-watertenk? Het jy sonkragpanele? Besit enigiemand in jou familie ’n vulstasie? Het jy ’n Europese paspoort? Het jy ’n Checkers-spaarkaart? Hierdie is nou die werklik belangrike vrae wat jy op ’n eerste afspraak al moet uitklaar, sê hy.

Ek sou kon byvoeg: Hoe groot is jou mediesefondsspaarplan? Tot hoe ver in die jaar gaan hy hou?

Geld laat hom nie inhou nie. Al het jy die mooiste waardes, geld laat jou gou van hulle vergeet en waardes geld letterlik nie meer nie. Want besigheid is mos besigheid. Geld en geloof is daarom nie boesempelle nie.

Stories uit Efese vertel hoe die Judaïste daar die Jesusbeweging tot hul voordeel uitgebuit het (Hand 18 en 19). Paulus het drie maande lank in die sinagoge vrugteloos met die mense daar oor die koninkryk van God geredeneer. Die mense was koppig, en wou hulle nie laat leer nie. Toe hulle in die openbaar die leer van die Here belaglik begin maak, het Paulus die sinagoge verlaat, en die gelowiges het daarna twee jaar lank daagliks in die saal van Tirannus bymekaargekom vir Bybelskool van ’n aard.

Rondom Paulus het wonderbaarlike dinge begin gebeur, letterlik vertaal: buitengewone wonderwerke. Beswete serpe of voorskote wat aan sy lyf geraak het, is op siek mense gesit sonder dat Paulus self eens naby was, en hulle het gesond geword. Selfs bose geeste het uit mense padgegee.

Dit herinner aan wat Markus van Jesus vertel. In Markus 5 (27, 28) word ’n vrou gesond nadat sy net aan Jesus se klere geraak het. Dieselfde gebeur in Markus 6 (56) toe mense hul siekes op ’n sentrale bymekaarkomplek kom neerlê het en gevra het Jesus moet tog toelaat dat hulle net aan die soom van sy klere kon raak. Hulle het gesond geword. Met Petrus was dit ook die geval: Handelinge 5 (15) praat daarvan dat mense hul siekes op straat uitgedra het en hulle daar op draagbare en beddens laat lê het in die hoop dat, as Petrus daar verby sou kom, selfs net sy skaduwee op hulle sou val. Dit was soos Januarie in Jerusalem; die mediese fondse betaal weer. Jesus is terug!

Veral in die Ortodokse en Roomse geloofstradisies het hierdie verskynsel in relikwieë ’n durende uitwerking gekry. ’n Relikwie is ’n item wat aan die een of ander heilige mens verbind kan word. Iets soos ’n kledingstuk wat aan die persoon sou behoort het, of ’n stukkie van so iemand se skelet, waaraan dan groot magiese krag toegeskryf word, soos dat dit jou kan gesond maak. Grillerig nè, maar iets waaraan baie groot waarde toegeskryf word. Die Turynse kleed is seker een van die bekendste relikwieë.

Die beswering van bose geeste was in Efese ’n winsgewende bedryf. Van dié besweerders was Joods. En nie sommer oningeligte Jode nie, dit was die sewe seuns van ’n Joodse priesterhoof, Skeva, wat dit gedoen het. En met dié dat Apollos en Paulus die Jode daar so met Jesus op hul herrie gegee het, en hulle kon sien hoe Paulus se klere demone verjaag, het hulle ’n goeie geleentheid vir geldmaak gesien. Nie geloof nie, geld. Sinies, ironies, hoe sou ’n mens dit beskryf? Jy sién wat die Naam van Jesus aan demone doen, maar vir jóú laat Hy koud. Hulle het by demoonbesete mense die name van beide Jesus én Paulus as ’n towerspreuk gebruik: Ek besweer julle in die Naam van dié Jesus wat deur Paulus verkondig word.

Tot op die dag toe hulle hul moses met so ’n demoon teëkom. Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle. Wie is julle? wil die demoon van hulle weet. En dié ou duiweltjie spring toe onder die sewe broers in sodat hulle kaal en voos geslaan op vlug slaan. Dit word hoofnuus in Efese, onder Jode en Grieke, en baie mense het gelowig geraak. Maar vir die bedryf van demoonuitdrywery in Efese is hierdie nie goeie nuus nie.

Oor boekbrandery het ek altyd gemengde gevoelens, ongeag van wat in die boeke staan, maar die weersin wat in towerkunste ontstaan het, het mense hul boeke oor toordery self in die openbaar aan die brand laat steek.

Daar staan in Handelinge 19: 19 dié interessante voetnoot: Hulle het die waarde daarvan – dis nou van die boeke wat verbrand is – bereken en gevind dat dit vyftig duisend silwermuntstukke werd was. Die rand is nie veel werd nie, maar vyftig duisend van hulle kan nogal ’n verskil maak, soos aan ’n mediesefondsvoordeel byvoorbeeld. Dit was ’n aansienlike bedrag, en ’n swaar slag, indien nie die doodslag nie, vir Efese se besweerdersbedryf. God en geloof in Jesus Christus het ’n hele winsgewende industrie in die hek laat duik.

Maar weeg ’n mens die waarde van boeke in silwer af?

Die silwersmede van Efese het die evangelie in silwer geweeg en gans te duur bevind. Nou begin die pot éérs kook.

’n Man met die naam Demetrius, ’n silwersmid wat Artemis-tempeltjies uit silwer vervaardig het, het ’n inkomste wat glad nie gering was nie, aan die ambagsmanne verskaf. Artemis was dié godin van Efese. Daar het glo ’n beeld van haar uit die hemel geval. Dié beeld is toe in ’n tempel ingebou. Toeriste het van heinde en ver kom kyk, en net soos ons, as ons Parys toe reis, ’n beeldjie van die Eiffeltoring, of uit Londen ’n beeldjie van die Elizabeth-toring (die een waarin Big Ben hang) as aandenkings sou wou huis toe bring, net so het Demetrius en kie se brood en botter op die gewildheid van Artemis gereken.

Demetrius sien hier kom moeilikheid, en die Jood, Paulus, is die vlieg in die salf.

Hy het hulle, en ook ander wat soortgelyke ambagte beoefen, byeengeroep en gesê: “Manne, julle weet dat ons welvaart van hierdie bedryf afhanklik is, en julle sien en hoor dat hierdie Paulus nie net in Efese nie, maar in byna die hele Asië ’n groot aantal mense oorreed en mislei het deur te sê dat gode wat met die hand gemaak word, glad nie gode is nie. Dit hou die gevaar in dat nie net ons beroep in onguns raak nie, maar ook dat die tempel van die groot godin Artemis as onbenullig beskou word en dat sy, wat in die hele Asië en die hele wêreld vereer word, van haar grootheid beroof sal word.” Toe hulle dit hoor, het hulle woedend geraak en geskreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!” (Hand 19: 25-28, AFR2020).

Intussen het hulle bly skreeu, sommige dit en ander dat, want die volksvergadering was in verwarring, en die meeste het nie eers geweet waarom hulle bymekaargekom het nie (Hand 19: 32, AFR2020).

Klink bekend, nè? Toe die Jode een uit hul geledere, ene Aleksander, wou laat praat om die skare tot bedaring te bring, het hulle vir twee ure lank uit een mond aangehou skreeu: Groot is Artemis van die Efesiërs! Dit is hoe ’n mens deesdae ook openbare debatte wen: Jy hou net aan skreeu tot almal anders stilbly.

Die stadsklerk het die skare egter tot bedaring gebring (Hand 19: 35, AFR2020).

Deur net te sê: Daar is geen rede vir hierdie oploop nie. Politiek so oud soos die berge. Maar wat ons daaruit leer, is dat ganse ekonomieë deur geloof geraak kan word. Geloof kan ’n invloed word waarmee sakebedrywe en owerhede moet rekening hou. Geloof, as gelowiges die dag saamstaan, kan gevaarlik raak.

Ek het hierdie week lank gewonder of daar regtig nog sakesektore of iets in die openbare lewe is waarvoor geloof ’n bedreiging kan inhou. In die VSA, toe Roe vs Wade (die waterskeidingsuitspraak wat aborsie daar geregverdig het) verlede jaar herroep is, het die hele aborsiebedryf in duie gestort. Die mense het ook op straat histeries geskreeu Groot is Artemis van die Efesiërs, net effens aangepas na Groot is die Vroue van die VSA. Dog, aborsie hét daar grootliks in die slag gebly.

Sou geloof in Jesus Christus hier in Suid-Afrika ook vir ’n geldmakery gevaarlik kon wees? Vir korrupte regering miskien? Ja, ek dink so, die dag as besluit word korrupsie is vir ons belangrik genoeg om dit uit te roei.

En duur medisyne. Gesondheid is die een ding wat Jesus en sy apostels gratis geloop en uitdeel het, aan mense wat hulle nie eens geweet het gelowig was of nie. Genesing sommer deur die some van hul klere, hul skaduwee, die sweet aan hul serpe en voorskote. Nóú nog met relikwieë, handoplegging en gebede. (Ons wil so graag help, so graag lyding verlig. Waarom, o Here, kan ons nie?) Daar is iets gruweliks oneties aan ons gesondheidsorg, nie net aan die onbekostigbare prys daarvan nie, maar ook aan hoe gesondheidsorg pure winsbejag word. Dit het van Groot Farma biljoenêrs gemaak, mediese fondse skatryk, en helaas, ondernemers ook. Daar is iets tragies, iets krimineels, aan hoe ons tot Januarie moet wag voor ons weer mediese sorg kan bekostig.

Ek weet, ordentlike mense skreeu nie op straat nie. Net soos beskaafde mense ook nie boeke verbrand nie. Miskien is ons té ordentlik. Miskien skrik ons te gou vir die openbare gevolge van wat ons geloof kan doen. Weet dan, mense ly omdat ons niks daaraan doen nie.

Al wat ek bly hoor, is: Groot is Artemis van die Efesiërs. Pasop dat die boses ons nie eendag antwoord en sê: Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?

Groter is Jesus, die Christus van God.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)