My telefoon lui… dis die begrafnisondernemer. 

’n Paar vrae jaag dadelik deur my gedagtes. Wie is dood? Wat het gebeur, want ek weet nie van iemand wat nou siek is nie. Wil die ondernemer dalk reël om by ons nissies uit te kom?  Al hierdie vrae vra ek myself nog voor ek my telefoon antwoord.

Ek antwoord toe my telefoon met ’n gevoel van onheil wat by my kroontjie begin en in my voete eindig. So verduidelik die ondernemer aan my dat daar ’n oom in die ouetehuis waar ek betrokke is, oorlede is. Dominee, sal jy asseblief die oom se diens kan behartig? word daar vir my gevra. Die ondernemer noem dat daar net ’n paar van die inwoners en familie sal wees, dus word die diens sommer by die ouetehuis gehou. Ek stem in om die oom se roudiens te behartig.

Ek daag die dag van die diens so ’n halfuur voor die diens moet begin by die ouetehuis op.  Alles staan gereed. ’n Kateder staan statig voor seker 50 stoele waarin daar reeds inwoners sit, reg vir hierdie diens. Die tyd vir die diens om te begin, kruip stadig maar seker nader. So vyf minute voor ek wil begin, vra van die ouetehuis se personeel my of ons nog tien minute kan wag vir die oom se familie. Natuurlik wag ons nog ’n paar minute, maar die diens moet voortgaan, en so daag daar toe nooit enige tyd deur die diens van die oom se familie op nie. 

Dit was eerlikwaar vir my een van die moeilkste roudienste wat ek nog behartig het. Ek het nie die oom geken nie, maar my hart het vir hom gebreek daardie dag. Wanneer laas het hy enige van sy familie gesien? Het hy so sonder familie geleef soos wat hy gesterf het?

Hierdie is maar net een van sekerlik duisende verhale waar van bejaardes vergeet word.  Ons land se media ontplof die afgelope ruk met berigte oor die marteling van bejaardes op plase; geweld teen vroue en kinders; ons lees van die Dros-verkragting; #AmINext word oral gesien; en dit is heeltemal reg so! Ons moet van al hierdie dinge hoor en die wortel van die vrotspul moet gesoek word. Ons samelewing is besig om uitmekaar te val en homself te vernietig. 

Ek het hierdie stuk begin skryf met die oog op bejaardes wat iewers by ’n ouetehuis afgelaai word, en dan sien hulle nooit weer hul mense nie. Maar soos ek skryf en dink aan die gebeure van die afgelope paar weke, besef ek dat dit nie net bejaardes is waarvan vergeet of wat afgeskeep word nie. 

Ons Minister van Polisie, Bheki Cele, het by die begrafnis van Uyinene Mrwetyana wat op 24 Augustus 2019 verkrag en vermoor is, gesê ons moet nie net vra waar die polisie is nie, maar ook waar die ouers is. Om eerlik te wees, ek het my eers ’n bietjie vererg vir hierdie opmerking, maar hoe meer ek daaroor gedink het, hoe meer het ek gevoel die man het ’n punt beet. Dit is ongelukkig so dat vanweë omstandighede gesinne nie altyd funksioneer soos ons dit graag sou wou hê nie.  

Ouers is deesdae soms te besig vir hul kinders, huweliksmaats leef by mekaar verby in die hardloop van die rotresies en ja, bejaardes word iewers afgelaai waar iemand anders na hulle kan kyk. En toe lees ek hierdie harde woorde van 1 Timoteus 5: 8: As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ’n ongelowige. Sjoe, as dít ’n mens darem nie laat dink nie, dan weet ek nie. 

Ons, die mense, is aan mekaar gegee om na mekaar om te sien. Ons praat in die Kerk van mekaar as broers en susters, ons is ’n huisgesin al is ons nie bloedverwante nie, ons het dieselfde Vader. Daarom behoort daar nie meer begrafnisse sonder familie te wees nie. As ons in ons samelewing weer saam met Josua bely en soos hy doen, sal ons die wêreld kan verander!

Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien. (Josua 24: 15)

af
af
Deel met behulp van
Copy link