Die jare kom en die jare gaan. Ure, dae, maande, jare skuif soos skadu’s stil verby. Niks sal met die loop van jare onveranderd hier kan bly (Gesang 570, Liedboek van die Kerk).
Vandag is ek gebore. Môre is ek in die fleur van my lewe, sterk, gesond, lewenslustig. Oormôre, is ek oud, sieklik afgeleef.
My uurglas is bykans leeg. Hulle praat van my en my tydgenote as amandeljare, die seniors, die bejaardes, die goue akkers – alles benamings wat dui op donkerte, ’n lewenseinde wat nie baie ver is nie.
Die skrywer van Prediker praat in hoofstuk 12 rustig saam en herinner my aan myself: My hande bewe, bene beweeg moeilik, ek kan nie meer behoorlik kou nie, my oë moet twee maal kyk om te sien, my hand is altyd by my oor om goed te kan hoor, my stem is dof, my slaapgewoontes swak, my hare moet ek kleur as ek nie permanent wit hare wil hê nie…
Hierdie afgetakelde, feitlik opgebruikte liggaamsdele het tot gevolg dat ek bang is vir hoogtes, ek skrik vir die geringste, funksioneer liggaamlik in feitlik elke opsig moeilik, en ek ervaar dikwels nutteloosheid. En soos die Prediker sê: Weldra sal die silwerdraad, die goue kruik, die wiel, stukkend breek. Ek sal weer een word met die stof van die aarde waaruit ek geneem is.
Wat van die toekoms? My jare wat nog voorlê?
Om oud te wees, is gelukkig nie die einde van alles nie. Ek klim nie af van die bus nie, die bus vertrek nie, en ek bly nie alleen agter by ’n gehawende stopplek nie. Nee, ek klim net oor op ’n ander bus. Ek het nie gekom by die einde van my lewe nie, maar slegs by ’n ander fase. ’n Wonderlike fase. ’n Opwindende fase. ’n Sinvolle fase met talle geleenthede.
Al is ons soos die gras, soos die stof van die aarde, die God wat ons God is, is ewig en almagtig (Ps 90: 2). Ons is verganklik, maar Hy, sy liefde, is onverganklik (Ps 103: 17). Hierdie liefde het ek al my jare ervaar. Hierdie liefde het my tot hier gedra en ek glo dit sal my verder dra. Hy sal voortgaan om by my te wees, my te versorg en te lei (Ps 92: 13-15).
In hierdie volgende fase van my lewe sal my kenniis en lewenservaring my help om verantwoordelike keuses te maak en die regte besluite te neem. Ek sal nou baie meer tyd hê om te doen wat ek nog altyd graag wou doen: meer tyd vir my lewensmaat, kinders, kleinkinders, familie, vriende, en veral vir die diens van die Here.
Ek het nog genoeg krag om op ’n afgeskaalde wyse met my beroep voort te gaan of om met ’n ander beroep te begin. Is 64% van die wêreld se grootste prestasies nie gelewer deur mense wat reeds oor 60 was nie? Met die Here in my lewe is ek sterk en lewenskragtig, en kan ek elke dag juig en bly wees (Ps 71; 90: 14; 92: 13-15).
Op my oudag sal Hy my soos in die geval van Simeon en Anna telkens lei om by Jesus uit te kom (Luk 2: 25-39). Om soos hulle te glo dat Jesus die Verlosser van die wêreld, my Verlosser, is: die Een deur wie my sonde vergeef is, my dood oorwin is en ek ’n kind van God is. Op grond van hierdie genade kan ek, nieteenstaande my ouderdom en alles wat dit meebring, met vreugde lewe, hoopvol sterwe en oral waar ek gaan, soos Anna van ouds, die evangelie van Jesus aan ander vertel.