Wanneer ’n mens bejaardes vra om hul emosionele belewenis rondom die Covid-19-pandemie en die inperkings te verwoord, is dit uit die antwoorde duidelik dat daar negatiewe én positiewe ervarings is.

Bejaarde 1: Ek ervaar diep jammerte vir die kinders wat gebuk gaan onder die impak op hul lewens, en ook hul ouers. Ek ervaar ook dankbaarheid dat ons geseënd was om ons kinders in stabiele tye te kon grootmaak.

Bejaarde 2: Inperking smokkel met my kop.

Bejaarde 3: Ontwrigtend en eensaam.

Bejaarde 4: Bang en onseker.

Bejaarde 5: Dit het my weer laat besef hoe afhanklik ek daarvan is om naby die Here te leef.

Bejaarde 6: Ja, ons is soos grassade in die wind, vandag hier en môre net weg.

Bejaarde 7: Hierdie tyd het ’n mens geleer wat jou geloof vir jou beteken, want al was jy vasgekluister, was jy nooit alleen nie. God is binne jou, om jou en saam met jou … deur alles. Sy wil geskied ook met ons.

Bejaarde 8:
Covid, die monster!
Gestenig deur angs, kommer, selfbejammering, frustrasie, hartseer en verlange…
BOG MAN!
Maak ’n kopskuif.
Positiewe denke lig my uit die as.
Ontdek jou gawes, lag en sing.
Kniel aan die voet van die kruis met gebed en lofsang.
Ek het. Wat ’n ontdekking.
Oepsie, nog ’n ding – gee jou oor aan kou en smul.
’n Nuwe maatjie – ’n yslike ronde bal.

Bejaarde 9: Onskuldig sonder verhoor gevange geneem!

Bejaarde 10: Vir my persoonlik is hierdie virus boosheid wat ons nou ervaar, ’n bitter moeilike en onsekere, onaangename ondervinding met ’n onbeskryflike seer wat baie diep sny. Dit laat by my ’n ongekende verwarring in my gemoed. Hieruit ook dan, kom die spreekwoordelike talle onbeantwoorde vrae, want om twee van die dierbaarste vriendinne van my lewe baie vinnig en kort na mekaar te moes afstaan, was vir my in alle eerlikheid net totaal onaanvaarbaar. Ek beleef dit as ’n onverklaarbare en verwarrende ramp in my lewe. Ek is nie verbitterd nie, maar net verward en seer, maar bly bid vir genade vir al God se kinders reg oor die wêreld… Net sy genade alleen is vir ons genoeg.

Ons kan na die sielkundige teorieë gaan kyk en sal waarskynlik breë trekke kon skilder van die emosionele ervarings van mense in nood, hartseer, eensaamheid en krisis, en so sal ons ’n breë prentjie kon teken van die invloed van die Covod-19-pandemie op bejaardes se emosionele ingesteldheid.

Tog is dit verstommend om uit die mond van die bejaarde self die antwoorde te kan kry. Daarin sien ons die verskillende effekte wat die pandemie het – negatiewe sowel as positiewe ervarings.

Die negatiewe word beskryf met woorde soos jammer vir ander; onsekerheid; ontwrigting; eensaamheid; angs; woede. Woorde soos dankbaarheid; geloofsvertroue; die ervaring van God se nabyheid; positiewe denke; volharding in gebed; humor omskryf die positiewe ervarings by talle.

Dit is uit die reaksie ook duidelik dat onderskei moet word tussen emosie en geloof.  Bejaardes erken dat hulle soms in hierdie tyd emosioneel af voel, en dan ervaar hulle dat God op die oomblik ver van hulle is.  Al staan hulle vas in die geloof in God, is die kans daar dat hulle by tye depressief sal voel. Dit is normaal, dit is menslik, dit sal gebeur. Tog is dit die wonder van geloof: Jou emosies of gemoed wissel, maar in jou geloof kan jy vas staan op die rots – God self. Dit is duidelik uit baie van die opmerkings.

Bejaardes is in hierdie tyd inderdaad bang en onseker soos grassade in die wind. Dit het tot gevolg dat baie van hulle depressief voel. Hulle is hartseer en beleef maklik ’n gevoel van leegheid. Kuiertjies van vyf tot tien minute deur tralies of ’n heiningdraad of ’n venster versterk die leë gevoel.

Waar daar nie moontlikhede is vir ’n mate van aktiwiteite nie, verminder baie bejaardes se belangstelling in enige aktiwiteite waarvoor hulle in die verlede lief was. Daarby word ’n rusteloosheid beleef, nie net omdat hulle bang is om die virus op te doen nie, maar as my buurman of buurvrou of mede-inwoner siek word of sterf, het dit ’n invloed op my emosies.

Nie net die hede het ’n emosionele impak op bejaardes nie, maar natuurlik ook die onsekerheid oor die toekoms. Bekommernis en selfs ’n mate van onkunde of oningeligtheid oor die entstof, wat ’n einde sou kon bring aan die pandemie, maak baie bejaardes ook rusteloos. Phil McGraw noem in sy boek Family First: Your step-by-step plan for creating a phenomenal family ’n waarheid wat ons hier kan toepas: There is no time like the present, and change starts with acknowledgement.

Dalk het dit nodig geword dat elkeen, nie net ons bejaardes nie, erken:  Alles sal aan die einde wel wees, en indien dit nie is nie, dan is dit nie die einde nie. Daarby moet elkeen, soos talle bejaardes in hul reaksie gesê het, erken dat God se genade vir ons genoeg is. Mag elke bejaarde sy of haar diepste emosies en gevoelens eerder teenoor God verwoord as om weg te draai van Hom af. Mag elkeen kniel aan die voet van die kruis met gebed en lofsang. Moenie toelaat dat Covid-19 en die inperkings met jou kop smokkel nie. Moenie ophou praat met God nie.

(Ds Frikkie van Wyk is leraar in Montana-Oos en voorsitter van die OTMT-direksie)