Ek vermoed dat as die Here Jesus ’n huis van sy eie op aarde gehad het, die vreemdste mense sy drumpel sou deurtrap en gasvry ontvang sou word. In die kultuur van die tyd was dit immers goeie maniere om jou gaste iets te ete aan te bied.

Ek is daar doodseker van dat die Here Jesus niemand sou weier om binne te kom nie, en hulle nog minder met ’n leë, honger maag sou wegstuur. Hy sou gasvry wees met elkeen wat gebrand het om die goeie nuus van verlossing en die aanbreek van God se koninkryk te hoor. Hy sou waarskynlik aan tafel, oor ’n versnapering of twee, met hulle gekuier het.

Wat het verander? Is gasvryheid nie nog steeds ’n gawe van die Heilige Gees waarvan die Bybel pertinent praat nie?

Ons het, vertel my agterkop my, sku geraak vir mekaar. Ons is nie meer broers en susters in gemeentes van die Kerk wat mekaar met liefde, vertroue en gasvryheid by die erediens of elders ontmoet nie. Soos familie wat mekaar jare laas gesien het en nou agtergekom het hulle het eintlik niks meer vir mekaar te sê nie. In huisgesinne en families hoort dit gewoon nie só nie. In die Kerk en haar gemeentes nog minder!

Dis nog steeds goeie maniere om gasvry te wees en iemand iets te ete aan te bied. Dit is nog steeds ’n skande om mense wat vakansie hou by ’n vreemde gemeente, of nuwe intrekkers wat skamerig eenkant staan, nie met die warmte van die Here Jesus self in te nooi, tuis te maak en iets te ete en drinke aan te bied nie. Dalk voel lidmate tuis waar selfs vreemdelinge ook gasvry ontvang word.

Gemeente Laer Suidkus is ’n konglomerasie van mense uit alle hoeke en oorde van ons land. Gebore en getoë “See-Natallers” is hier skaars. Veel eerder is hierdie ’n gemeente wat borrel van ’n pruttende bredie Hervormdes uit menige gemeentes van die Kerk. Kuiergaste is hier baie – ook uit menige gemeente van die Kerk. En hier is baie vreemdelinge (dis mos lekker by die see!) met honger mae wat kom inloer vir ’n skeppie evangelie, maar dalk meer dikwels vir die tee en verversings wat elke Sondag ná erediens bedien word vir álmal om te geniet. Hier, glo ek, lê ’n ope geheimenis van kerkwees in klein gemeentes.

Dis geen geheim nie dat ons mekaar met warmte moet ontvang. Saam-kuier en saam-eet was deur die eeue die manier waarop bande gebou is, transaksies beklink is, vriendskappe gesluit is, vrede gemaak is en die liefde geblom het.

Hoe werk suksesvolle klein gemeentes? vra ons. Nie met ’n stywe bankrekening nie. Daarvan het Laer Suidkus dekades se ondervinding. Geld is gemaklik, maar meer dikwels die oorsaak van euwels. Veel eerder behoort mense – lidmate, kuiergaste en vreemdelinge – met gasvryheid, liefde en deernis ontvang te word. Want sien, mense maak vir Jesus saak. En die Kerk en al haar gemeentes bly sy Kerk. Die Kerk moet Jesus Christus se verlossing Skriftuurlik en suiwer aan al hierdie mense wat vir Jesus saak maak verkondig, sodat almal kan hoor van die onuitspreeklike liefde wat God in Jesus Christus vir ons het. Die Heilige Gees sal sorg dat hulle dit glo, en ons as lidmate van die gemeente moet hulle met die gasvryheid behandel wat hulle van die Here Jesus self sou ontvang, sou hulle aan sy voordeur geklop het.

Suksesvolle klein gemeentes werk nie aan partytjietruuks om lidmate nader te lok met ’n glansvertoning nie. Prag-en-praal-kerkgeboue het ons in ieder geval nie. Ons hoef ook nie lammes uit rolstoele, soos hase uit hoede, te pluk om onsself relevant te maak nie. Gemeente-wees, ook klein-gemeente-wees, is gewoon om naby Jesus Christus, die Hoof van die kerk, te wees. Só naby dat mense – medelidmate, kuiergaste en vreemdelinge – Hom by ons sien en ook so naby aan Hom wil wees.

Om gemeente van die Here te wees in die tyd waarin ons leef, is ’n uitdaging. Selfs klein gemeentes, dalk juis klein gemeentes, mag nie stagneer sonder verantwoordelike vernuwing in die bediening van die evangelie en die uitreik na die wêreld nie. Wil ons stagneer, gaan ons soos die dinosourusse verdwyn. Maak ons ons eie lidmate, kuiergaste en vreemdelinge ontuis, en laat ons by hulle die ondervinding dat die liefde wat die Kerk preek ontbreek by haar lidmate, gaan ons mense verwilder en wegjaag na die groener weivelde van ander kerke en gemeentes waar die vuur dalk warmer brand as by ons waar hulle ervaar dat dit koud is.

Laer Suidkus is net een van baie gemeentes in die Hervormde Kerk. Ons is nie uniek in ons kerkwees nie. Ons streef soos al die ander gemeentes van die Kerk daarna om die evangelie van die Here Jesus Christus te verkondig aan ons eie mense en aan alle ander mense in ons omgewing. Ons glo dat niémand, oud of jonk, nuwe intrekker of kuiergas, vreemdeling of geliefde vriend, arm of ryk, op die grasperk langs die kerk alleen moet staan, sonder om gegroet te word, ingenooi te word, tuisgemaak te word en iets te ete en te drinke aangebied te word nie.

Geld het ons nie. Wat ons wel het, is die liefde en versorging van die Here Jesus wat ons noop om in sy voetspore te volg.

Gasvryheid is ’n gawe van die Heilige Gees.

(Ds Jacques Pieterse is leraar in Gemeente Laer Suidkus)

af
af
Deel met behulp van
Copy link