Met harte vol dankbaarheid en oë gerig op God, vier Gemeente Losberg in 2025 haar eeufees – 100 jaar van genade, getrouheid en gemeenskap. Die gemeente wat op 16 Mei 1925 gestig is, het oor ’n eeu heen as ’n geestelike tuiste vir menige geslagte gedien. Hierdie mylpaal is met groot vreugde en verskeie betekenisvolle geleenthede gevier.
Die eeufeesviering het op gepaste wyse met ’n lofsangdiens op Sondag 18 Mei 2025 afgeskop. Tydens die geleentheid het die gemeente saam met die Potchefstroomse Mannekoor die Here geloof en geprys vir sy trou oor ’n hele eeu. Die klanke van sang, die eenheid van stemme en die boodskap van hoop het diep in harte ingeklink – ’n herinnering aan God se teenwoordigheid deur elke dekade.
Daarmee saam het die gemeente ook op 30 en 31 Mei 2025 ’n feestelike Basaar van Genade gehou. Tydens hierdie geleentheid het die hele gemeenskap rondom stalletjies, kos, handwerk, kinderpret en opregte kuier in die teetuin saamgetrek. Soos in die dae van ouds was dit nie net ’n fondsinsamelingsgeleentheid nie, maar ’n uitdrukking van die gemeente se lewenskragtigheid en samehorigheid. Die gemeente het weer aan die wêreld getoon dat dankbare dienaars altyd balans behou deur eenheid en liefde uit te straal.
Die hoogtepunt van die viering was beslis op Sondag 1 Junie 2025 met ’n spesiale nagmaaldiens en groeteboodskappe. Hier is die gemeente aan die tafel van die Here verenig terwyl groeteboodskappe onder andere deur dr Frikkie Labuschagne namens die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, di Geo Smit en Danie van Zyl wat albei vorige predikante van die gemeente was, diak Mac van Zyl namens die Ring van Losberg en oudl Willie Smith die skriba van Gemeente Losberg oorgedra. Die boodskappe het gespreek van bemoediging, herinnering en roeping tot voortgesette getrouheid aan die gemeente. In stilte en eerbied het ons saam die nagmaal met danksegging vir 100 jaar van God se verbondstrou gevier. Die gemeente het ook ’n heerlike ete ná afloop van die diens genuttig waar ons ook almal saam staaltjies en stories gedeel het. Dr Gerhard Lindeque van die Bybelgenootskap het ’n Bybel aan die gemeente ter herdenking van die feesviering oorhandig.
Sedert daardie eerste gemeentevergadering op 16 Mei 1925 het baie verander, maar een ding het dieselfde gebly: die Here ons God is ons toevlug en krag. Onder die leiding van verskeie predikante, kerkraadslede, diensorgane en die NHSV is die evangelie getrou verkondig en die belydenis van Christus kan in woord én daad gesien word.
Die gemeente dra steeds haar roeping ernstig op die hart – om ’n lig te wees in die wêreld, gegrond in die Woord, gewortel in die geloofstradisie van die NHKA en altyd strewend na diensbaarheid in liefde.
Dank aan God! Ons vier 100 jaar – nie in selfverheerliking nie, maar in ootmoedige lof aan die Here wat deur elke seisoen saam met ons gegaan het. So gaan die gemeente nou weer eens die toekoms in met hoop soos verwoord in Psalm 37: 3: Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort, soos wat dit ook op ons gemeente se gedenksteen uitgebeeld word.
Die Here wás by ons en ons glo onvoorwaardelik dat Hy ook by ons in alle ewigheid sal wees. Soli Deo Gloria – aan God alleen die eer!
(Hooffoto: Di Geo Smit en Danie van Zyl (voormalige gemeentepredikante), dr Frikkie Labuschagne (namens die Kommissie van die AKV), dr Ernest Marran (huidige gemeentepredikant) en oudl Christo Pieterse (gemeentejaarstudent))
(Dr Ernest Marran is leraar in Gemeente Losberg)

Lofsangdiens 18 Mei – Potchefstroomse Mannekoor

Vleiswerk vir basaar

Kerrie-en-rys-tafel by basaar

Medewerkers by basaar op 30-31 Mei

Voorbereiding vir 1 Junie se dankete

Die gaste verkeer gesellig