Op heden 13 Junie 1925 is de gemeente Parys als een afsonderlike gemeente afgesticht met een deel van de oude gemeente Heilbron…

Met hierdie woorde uit die eerste kerkraadsvergadering se notule het die eeufeesviering van die Gemeente Parys op 14 en 15 Junie 2025 begin. Dit was ’n besondere geleentheid van herinnering, dankbaarheid en geloof.

Die gemeente het deur die jare ’n betekenisvolle rol in die geskiedenis van die NHKA gespeel. Ds LE Brandt was die eerste predikant van die gemeente én voorsitter van die Algemene Kerkvergadering (AKV) van 1916 tot 1937. Sy eggenote was Johanna Brandt, ’n bekende skrywer, spioen en baanbreker tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Saam het hulle die fondament  van toewyding en visie vir die gemeente gelê.

Die kerkgebou is destyds met ’n lening van £1 200 opgerig wat deur kreatiewe fondsinsamelings en die verkoop van unieke items soos kalkoenkuikens terugbetaal is. Te midde van twee wêreldoorloë, die Groot Depressie en verskeie ander uitdagings, het die gemeente volhard. Vandag staan Gemeente Parys steeds as ’n volhoubare en groeiende gemeente, finansieel stabiel en geestelik gefokus, vasgewortel op die oewer van die Vaalrivier.

Die feesviering het ook met die veertigjarige herdenking van die Andries Marie Oosthuizen-tehuis (Ons Tuis: AMOT) saamgeval. Die tehuis is ’n aftreeoord op die dorp wat ontstaan het deur die visie van mev Marie Oosthuizen, eggenote van ds Andries Oosthuizen en die eerste voorsitter van die NHSV. Haar bydrae tot die vestiging van vrouebediening in die Kerk bly ’n kosbare nalatenskap waarop die gemeente trots is. AMOT getuig steeds van ’n diakonale bediening wat leef.

Die eeufees het afgeskop met die onthulling van ’n gedenksteen deur ds De Beer voor die kerk se ingang. Dit is oorkant die oorspronklike hoeksteen van 1925 wat destyds deur ds Brandt gelê is. Só is ’n tasbare simbool aan hierdie gedenkwaardige dag gevestig. Daarna het die gemeente in ’n feestelike erediens saamgekom waar lofprysing en verkondiging die middelpunt was.

Tydens die diens is ’n nuwe kanselkleed onthul met die woorde uit Kolossense 3: 11: Hier is Christus alles en in almal. Dié teks is ook as slagspreuk vir die eeufees gevestig en die kleed is met sorg deur mevv Hester Smit en Diana van der Westhuizen voorberei. Dit was ’n betekenisvolle oomblik vir die visie en die toekoms van hierdie gemeente.

Tien jongmense van die eeufeesbelydenisklas van 2025 het tydens dié diens hul geloof bely – ’n oomblik waar die handdruk van erfenis en nuwe toewyding mekaar in geloof ontmoet het.

Die aandfunksie was ’n geleentheid van herinnering en dankbaarheid. Gemeentelede, verteenwoordigers uit die ring, die Kommissie van die AKV en susterkerke het die funksie bygewoon. Daar is verskeie groeteboodskappe gelewer. Dr Frikkie Labuschagne en mnr Koos Botha (vanuit Australië), beide voormalige predikante van die gemeente, het die gemeente toegespreek. Sop en sjerrie is daarna in ’n gees van samehorigheid en vreugde bedien.

Op die Sondag is ’n spesiale nagmaaldiens gehou waartydens ds De Beer en dr Labuschagne beurtelings die sakrament bedien het. Dit was ’n besondere geleentheid vir die tien nuwe belydende lidmate om vir die eerste keer aan die tafel aan te sit. Die viering is afgesluit met ’n geurige gemeente-ete wat liefdevol deur die NHSV voorberei is.

Honderd jaar later staan Gemeente Parys steeds as ’n lewende getuienis van God se trou. Deur tye van swaarkry en voorspoed het die gemeente met volharding en geloof gebou aan ’n erfenis wat met dankbaarheid gevier is. Op die oewer van die Vaalrivier waar drie provinsies bymekaarkom, dien hierdie gemeente ’n wye gemeenskap met toewyding.

Met Christus as middelpunt en Kolossense 3: 11 as rigtingwyser bly hul roeping helder: om kerk te wees – vas in die geloof en vol moed vir die pad vorentoe. Gemeente Parys sal vir die volgende 100 jaar en nog honderde jare later getuig: Hier is Christus alles en in almal.

(Hooffoto: Onthulling van gedenksteen)

 (Ds Juan de Beer is die leraar van Gemeente Parys)

Eeufeesbelydenisklas van 2025 

Besoekende predikante tydens die eeufeesviering

Ds Waldo Pretorius, dr Frikkie Labuschagne, di Willem Kok en Juan de Beer tydens eeufeesfunksie

Belydenisklas tydens die formulier

Ds Juan de Beer en sy gesin

Belydenisklas tydens die formulier