Lees: Filippense 3: 12b
Ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het (AFR83).
Ons kan en moet daagliks leef uit die triomf oor die dood as volgelinge van Jesus Christus. Paastyd herinner ons nie net daaraan dat Jesus opgestaan het nie, maar dat sy opstanding ’n nuwe werklikheid oopgebreek het waaraan ons nou reeds mag deel. Tog word ons so maklik vasgevang in ’n lewe wat nog deur doodsheid gekenmerk word – doodsheid in ons denke, ons gewoontes en ons optrede.
Dit is juis hieroor waaroor Paulus in Filippense 3: 12-14 skryf. Kyk net watter woorde gebruik hy: Ek span my in … ek maak my los … ek strek my uit … Hierdie is nie passiewe woorde nie. Dit is die taal van iemand wat besef dat die lewe in Christus ’n aktiewe, doelgerigte beweging is. Tog lê die fondament nie in ons inspanning nie, maar in God se genade: Christus Jesus het my reeds Syne gemaak. Ons jaag die lewe na, juis omdat ons reeds aan Hom behoort.
Daarom roep Paulus ons op om los te kom van wat agter is – die doodsheid wat ons so maklik vasvang. Dit sluit nie net ons sondes in nie, maar ook ons vrese, ons mislukkings en selfs ons selfbeperkende denke. Die opstanding van Jesus wek ons op uit hierdie doodsheid. Dit roep ons tot ’n lewe van vreugde, hoop en verwagting. Sy opstanding maak ons nie net dankbaar nie; dit maak ons opgewonde. Dit vul ons lewens met nuwe energie om voluit te leef.
Hierdie lewe is nie iets wat ons eers eendag in die hemel sal ervaar nie. Dit begin nou. Te dikwels leef gelowiges asof hulle net wag vir die hemel, asof hierdie wêreld bloot ’n wagtyd is. Maar die evangelie sê iets anders: ons is nou reeds geroep om hier op aarde te leef as mense van die opstanding – as getuies en verteenwoordigers van God se koninkryk. Dit is waar die hemelvaart ’n nuwe dimensie oopmaak. Jesus se hemelvaart beteken nie dat Hy ver weg is nie, maar dat Hy regeer. Daarom word ons roeping op aarde juis bevestig en verdiep. Soos 2 Petrus 3: 13-14 ons herinner, leef ons in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde waar God se wil sal heers. Die skepping word herskep.
Dit beteken dat Christene nie wêreldvreemd is nie. Ons word juis al hoe meer aan hierdie wêreld verbind – om deel te wees van God se verlossing en herskepping. Ons lewe, werk en getuig in hierdie wêreld met die wete dat God besig is om alles nuut te maak.
Jesus se opstanding en hemelvaart sit ons dus nie op die kantlyn nie – dit sit ons aan die werk. Ons rol ons moue op, nie uit dwang nie, maar uit hoop. Want Hy leef – en daarom kan en moet ons ook werklik leef!