Augustus is Vrouemaand en in hierdie uitgawe gee ons eer aan die vroue van ons Kerk.
As hoërskoolkind toe ek in Hoërskool Pietersburg was, het ons in ’n stadium ’n Geskiedenisvereniging gehad. Een van die dinge wat die Vereniging gedoen het, was om een maal ’n jaar die een of ander historiese plek te besoek. Die een jaar het ons Beyersnek besoek, daar waar generaal Beyer en sy manskappe die Engelse tot oorgawe gedwing het. Vir my was dit ’n besonderse ervaring omdat my Oupa Sauer ook daar as penkop geveg het.
’n Ander jaar het ons die roete oor die Drakensberge gestap waar die Voortrekkers met hul waens oor is. Daar waar die geskiedenis ons leer die Voortrekkervroue met kaal voete oor die berg is ter wille van vryheid. As tiener het dit my gefassineer hoe iemand enigsins so ’n tog sou aanpak, wat nog te sê met vroue en kinders by hulle. Ons het teen styl opdraandes opgesukkel en teen gevaarlike afdraandes af. Ons het gesien waar klippe gepak is om die oppervlakte gelyk te kry om met waens daar oor te gaan. In my geestesoog het ek die bekende skildery gesien van manne en vroue wat met rieme agter die wa rem dat dit nie teen die berg afhardloop nie. En daar op daardie berg het ek respek gekry vir die vroue van ons volk, ons Kerk.
Later jare het ek deur ’n konsentrasiekampkerkhof gestap en die rye en rye grafte van vroue en kinders gesien en besef dat dit nie die generaals was wat die helde in die Vryheidsoorlog was nie, maar die vroue wat agtergebly het en selfs met hul lewens betaal het.
In my tyd as predikant in Groot Marico het die ou inwoners my vertel hoe die vroue die plase aan die gang gehou het en uiteindelik in die klowe weggekruip het om aan die Engelse te ontkom. Hierdie dapper vroue was die voorsate van die vroue wat vandag in die banke van ons Kerk sit. En niks het verander nie, want dit is steeds hierdie dapper vroue wat aanhou om voor te loop, op te offer, ’n verskil te maak, hard te werk.
Dit is hierdie vroue wat volgende geslagte van die verlossing in Jesus Christus leer. Hierdie vroue wat spreekwoordelik met kaal voete oor berge sal gaan vir hul God, hul geloof, hul gesinne en dit waarvoor hulle staan.
Vroue van ons Kerk, ons salueer julle.
In hierdie uitgawe het ek op die voorblad probeer om in ’n ode aan die vrou iets van hierdie sterk vroue te probeer vasvat. Maar soos ek skryf, besef ek dat nóg digters, nóg skrywers, nóg skilders, nóg beeldhouers die ware wese van die vrou kon vasvang, wat nog te sê ’n gewone ou domineetjie…
Op bladsy 3 skryf dr Annelie Botha ’n aangrypende artikel oor haar tyd as vrouepredikant in ons Kerk. Ek onthou nog hoe trots en bly ek was toe sy as ringskriba verkies is in die ring van Zeerust; ek was voorsitter en ons het daardie jaar met die kerkskeuring met baie moeilike sake te doen gekry, maar haar rustigheid en deeglikheid het ons telkens deurgedra. En toe doen sy die amper ondenkbare om as vrou voorsitter van die ring te word. Lees ’n mens haar verhaal, sien jy hoe sy elke geleentheid, ten spyte van al die eerstes en die onsekerheid, elke keer suksesvol deurvoer. Aangrypend vertel sy hoe sy as kind net eenvoudig geweet het dat sy predikant wil word. Die werklikheid is dat daar ’n dag gaan kom, en nie ver van nou af nie, dat, gesien in die lig van die hoeveelheid manne en vroue wat teologie studeer, ’n manlike dominee die uitsondering gaan wees…
Vrouepredikante van ons Kerk, dankie vir jul werk wat julle baie maal met soveel opoffering doen.
Op die middelblad word met opgewondenheid berig oor ons Kerk se nuwe webblad wat ’n nuwe era vir ons publikasies en kommunikasie inlei. Maar met al die dank en opgewondenheid saam wil ek ’n spesiale woord van waardering rig aan prof Ernest van Eck en sy span wat ’n klomp jare gelede die eerste webblad die lig laat sien het. Dankie vir die harde werk wat julle gedoen het. Ek glo nie ons het julle ooit genoeg daarvoor bedank nie. En ook dankie aan almal wat die nuwe webblad moontlik gemaak het. Vir al die beplanning, ure se harde werk en ook al die tyd wat van hier af aan hierdie projek bestee gaan word. Ek weet dat hierdie nuwe webblad ons net so trots gaan maak as die eerste, en dat hierdie webblad ons sal neem na nuwe hoogtes in ons Kerk se kommunikasie.
Ons gee ook graag vir ons predikante wat promoveer die geleentheid om iets van hul navorsing met die Kerk te deel. Lees gerus dr Andorette Hill-Jowett se artikel Die ervaring van verlies in die aannemingsdriehoek en dr Johan Bester se artikel Gemeenteontwikkeling en begeleiding in veranderende omstandighede. Die Kerk is trots op julle. Dankie vir jul studiewerk.
Wintergroete!