Op stemdag, 1 November 2021, het ek só geredeneer: Gaan stem, want geen politieke party het dit 100% reg nie, nie eens die een waarvan jy die meeste hou nie; geen politieke party het al ooit presies gesê wat jy wil hê nie; geen politieke party gaan alles regmaak nie, ongeag die uitslag; geen politieke party is ons redders nie, geen leier die messias nie. Goed om vooraf al te weet. Gaan stem dus. Stem óf vir óf stem teen, maar laat jou geloof in God praat. So kan jy dalk tot seën wees, en God Suid-Afrika deur jou seën, wie weet? Dit is nie net jou burgerlike plig nie; om reg en regverdigheid op die stadsmure en -poorte, op die markte en stadspleine te laat hoor, is jou Godgegewe opdrag.

Ek hét besef dat om nie te stem nie, ook ’n uitspraak kan wees oor hoe ek dink en glo, en die versoeking wás daar. Die moeilikheid daarmee is net dat my geswyg ongehoord, ongeteld en geïgnoreerd sal verbygaan, en glad nie sal saakmaak nie.

Gelowiges, so is ek oortuig, glo God gee aan owerhede gesag, en dat ek sy kruis op papier sal moet trek, die kruis waarmee owerhede sal moet rekening hou. (Om te verwag owerhede sal daaraan gehoorsaam wees, is by verre te veel gevra, want nie eens die party waarvoor ek stem, kan regtig beloftes hou, of op hul eie hoop lewend hou nie.)

Terwyl ek hier sit en skryf, is nog geen uitslag vir my wyk of vir ons munisipaliteit bekend nie. Ek neem by voorbaat al vir lief dat “my” party nie een van die twee gaan wen nie.

Ek hét gebid, maar nie vir oorwinning nie; dáárvoor, het ek geweet, is ons by verre te min. Ek het gebid vir God se wil om die deurslag te gee. Daarom is ek nie in God teleurgestel nie, en sal ek ook nie wees nie. Ek is wel baie nuuskierig oor wat God se wil kan wees. Ek vra nie of reg met die verkiesing alreeds geskied het nie; ek wil weet hoe God ons met hierdie nuwe owerhede gaan begelei om nader aan reg en geregtigheid te kom.

Gesien in die lig van uitslae van elders, so lyk dit nou vir my, gaan daar hier waar ek woon, ook koalisies van kom; nie een gaan wen nie, nie één gaan kan regeer nie. Koalisies dwing mense na onderhandelingstafels toe. Samespreking verg ’n geluister, nie dat dit enigsins waarborg dat enigiemand gehoor gaan gee of gehoor gaan word nie, maar mense gaan met mekaar moet leer klaarkom, al is dit net om mekaar te leer verduur met nog ’n ekstra myl se saamloop, of weer ’n keer die ander wang te draai. Hiervoor gaan ons moet wysheid kry, selfbeheersd wees, bly hoop. Dié klink alles vir my na die goed waaroor God in die Bybel praat. Hier gaan ons nou in die politiek moet prakties gestalte gee aan geloof. Wat God oor liefde sê – die liefde vir mekaar en selfs vir die vyand, bedoel ek nou – gaan dalk moet grondvat en kan miskien nog hier en daar die deurslag gee? Dit is immers hoe God regeer, mos? Kan dit wees wat God nou van ons wil hê?

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap