Dr Cobus Jansen van Nieuwenhuizen het die PhD-graad (Pastorale Studies) aan die einde van 2021 verwerf. Hierdie artikel (Deel 1) en die teks in die Maart 2022-uitgawe (Deel 2) is ’n verwerking van sy proefskrif.

Die proefskriftema was “Stilte, gebed en Lectio Divina: Kreatiewe hulpmiddele in die pastorale intervensieproses na trauma”. Vir die doel van die studie is Richard Osmer se kwalitatiewe literêre navorsingsmodel gebruik.

Trauma en krisisse

Krisisse en trauma is deel van elke mens se bestaan en geen mens spring dit vry nie. Hierdie ongemaklike werklikheid wat mense verwond, het ’n reuse-invloed op individue se karakter, persoonlikheid, bestaanswêreld, geestes- en mediese gesondheid. Die impak van trauma en krisisse beïnvloed nie net die individu nie, maar het ook soms ’n invloed op die persoon se sosiale konteks. Die vernietigende impak wat menselewens verpletter, se nagevolge kan simptomaties soms oor generasies heen strek weens die langtermyngevolge wat trauma inhou, veral op die gebied van posttraumatiese stresversteuring (PTSV).

Die rimpeleffek van trauma-episodes verklaar waarom dit vir die wetenskap belangrik is om na meer effektiewe metodes te bly soek om getraumatiseerdes by te staan. Pastorale en psigologiese intervensieprosesse en strategieë speel gevolglik ’n belangrike rol in die herstel van traumaslagoffers nadat hul natuurlike bestaans-ekwilibrium versteur is. Hulle moet gehelp word om te voorkom dat die PTSV ’n chroniese of akute stadium met vernietigende gevolge bereik.

Die gelowige en trauma

Om ’n gelowige te wees, vrywaar ’n mens nie van trauma en krisisse nie. Dit is sekerlik God se wil dat die las wat trauma veroorsaak, verlig moet word. Indien die slagoffer met die nodige insig toegerus word en begelei, bemagtig en versterk word, sal God kreatief help skep aan ’n nuwe, standvastige normaal. Stilte, gebed en Lectio Divina is kreatiewe instrumente wat God aan die mens gee om trauma en krisisse te bowe te kom.

Daar is verhale van trauma en krisisse en die nagevolge daar-van in die Bybel, en ook sekere hanteringsmeganismes. Stilte, gebed, Lectio Divina en rus is van die meganismes wat deur God gebruik word om die mens in krisismomente te begelei.

Rus is ook ’n erkende geesteswetenskaplike praktyk wat al hoe meer gebruik word as terapie. Hierdie praktyk vind bewustelik en doelgerig plaas en staan op twee bene: (1) Dit help om bewustheid (mindfulness) en bepeinsing te bevorder; en (2) dien as “pouse-terapie” waartydens praktisyns slagoffers begelei om as’t ware ’n ruspose te neem tussen hul onderskeie emosionele reaksies, die spesifieke probleem en die terapie. Dit is tydens hierdie “ruspouses” dat daar ontmoetings tussen God, die slagoffer en die slagoffer in sigself plaasvind. Hierdie kontemplatiewe pouses kan daartoe bydra dat die amigdala-hippokampus se oorreaksies afplat en kalmeer, en die brein kreatief begin dink. In pastoraal-geestelike terme impliseer dit die neem van ’n “heilige pouse”.

Een so ’n voorbeeld is in Markus 6: 31: Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie.” In dié gedeelte beleef Jesus en die dissipels verskeie krisisse en traumas. (1) Jesus word verwerp in Nasaret. (2) Hulle bedien aan duisende mense. (3) Hulle ervaar verlies deur die moord op hul vriend, Johannes die Doper. (4) Hulle moet hom begrawe, maar moet eers sy kop gaan terugeis. (5) Hulle ervaar alternatiewe spanning weens die aanslag op Jesus se lewe. Hulle is oorwerk, oorstuur, moeg, honger, hartseer, en geestelik en fisies uitgeput. Dit is dan dat Jesus sê kom julle in persoon saam met My na ’n stil plek, waar ons kan eet en rus.

Die dissiplines van stilte, gebed, Lectio Divina, asook rus, beklemtoon ’n persoonlike teenwoordigheid en dat die persoon self aanwesig sal wees. Oefening, gesonde eetgewoontes, gesonde rus en stilte, afgesonder vir die Here, is die kern van die gedeelte. In dié momente kry God die geleentheid om hulle fisies en geestelik te voed en te versterk. Hierdie momente is so belangrik dat God dit deel gemaak het van die skepping en in sy wil ingeskryf het.

Stilte, gebed, bepeinsende tyd met God se Woord (Lectio Divina), en rus as geestelike dissiplines, is herskeppende en geestelike komponente. Dit verbeter fokus, bring kalmte en stabiliteit, terwyl die liggaamlike en geestelike vermoë versterk en herbou word. Dit kan ook daartoe bydra dat liggaamlike toestande soos spysvertering en asemhaling verbeter, dit kan spanning help reguleer en algemene gesondheid bevorder. In die proses beweeg die individu as’t ware dieper in God se arms in en word God die geneesheer waarop die individu steun, en die berader slegs die fasiliteerder.

Kreatiewe laterale denke en God

Kreatiwiteit is een van verskeie karaktereienskappe van God Drie-enig. Kreatiewe laterale denke wil traumaslagoffers vanuit ’n geloofsperspektief met God se hulp help soek na ’n roete om weer te mobiliseer. Hierdie benadering bevorder natuurlike veerkragtigheid deur slagoffers met gesonde kennisinsette te “beklee”. Dit wil slagoffers se lewe herstel en herbou, asook die trauma hanteer en verdere persoonlike krisisse voorkom.

Toegepas op die pastoraat, kan dit gestel word dat God slagoffers en beraders deur kreatiewe denke kan help om weer “senings”, “vleis” en “vel” te plaas aan die bene van die persoon wat weens die verpletterende trauma in ’n sekere sin “gesterf” het (vgl Eseg 37).

Kreatiewe denke en pastorale intervensie as wetenskap

Kreatiewe laterale denke het niks te doen met kuns nie; dit gaan wel daaroor om die kuns te bemeester om ’n krisissituasie behoorlik te ontlont, op te los en te beheer. Kuns vorm wel deel van die denkrigting en kan as proses ingespan word.

Kreatiewe laterale denke is versigtig vir logiese en vooropgestelde denke en wil eerder prosesse van vooraf begin en kennis neem van alle rolspelende faktore. Hierdie denke neem kennis van die feit dat traumareaksies en dissosiasie nie noodwendig afgelei kan word van die huidige krisis of trauma nie. Primêre en sekondêre trauma speel dus belangrike rolle, asook individue se mediese en psigiese geskiedenis.

Kreatiewe laterale denke neem met erns kennis van die feit dat die mens beskik oor ’n asimmetriese brein en dat elke individu ’n krisis of trauma verskillend ervaar en interpreteer. Daarom behoort elke slagoffer op ’n unieke wyse hanteer te word. Intervensiemetodes kan ook van persoon tot persoon verskil.

Kreatiewe denke wil elke individu se individualiteit en persoonlike voorkeure akkommodeer en erken in die intervensieproses. Soms kan dit nodig wees om bestaande modelle en teorieë kreatief aan te pas of te vervang met nuwe hanteringsmodelle. Dié denke wil ook nie net kennis neem van verwante wetenskaplike velde nie, maar wil professionele velde integreer. Kreatiewe laterale denke wil nie net oplossings soek en krisisse hanteer nie, maar wil ook voorkomende strategieë ontwikkel wat in die praktyk deur slagoffers toegepas kan word.

Die slagoffers maak deel uit van die proses. Hierdie denkrigting wil aan die individu ook die geleentheid bied om onverhinderd en natuurlik uitdrukking te gee aan wat ervaar word in terme van ’n krisisepisode; dit sluit aan by die gedagte van mindfulness.

Hierdie verstaan het gelei tot die konsep “emosionele kreatiwiteit” wat aan slagoffers die geleentheid wil bied om hul rou-ervaring te deel en hul emosies ongehinderd weer te gee. Emosionele kreatiewe denke is ’n toepaslike hanteringsmeganisme en neem die slagoffer se persoonlikheid en persoonlike ervaring in ag. Dit is funksioneel, bemagtigend en skep die gevoel van beheer en stabiliteit. Luister en selfverstaan sal die beradene en berader help om ’n beter begrip te kry van wat ervaar word.

In die proses begin die individu sy of haar eie persoonlike veerkragtigheid ontdek. Edward de Bono verwys hierna as natuurlike, oorspronklike veerkragtigheid waarmee elke mens gebore word. Vanuit ’n teologiese perspektief verwys Norman Wright na natuurlike geestelike veerkragtigheid.

Hieruit is die term “gedrag-asimmetrie” (behavioural asymmetry) afgelei wat gedrag of persoonlikheid wil meet om te onderskei tussen dissosiasie, PTSV en normale gedrag. Uit dié kennisinset het die kennisveld “kreatiewe dissosiasie” gespruit, wat gepaardgaan met die traumareaksie van veg, vlug en vries, asook die huilreaksie (attach cry response), onderdanige reaksie (submissive response), skyntevredenheid (please and appease response) en skaamreaksie (shame response), wat simptomaties getuig van ’n natuurlike oor-lewingsreaksie tydens ’n krisis of traumatiese ervaring.

In die volgende uitgawe sal onder meer gekyk word na hoe trauma die brein beïnvloed.

(Dr Cobus Jansen van Nieuwenhuizen is leraar in Gemeente Hartebeeshoek)