Wanneer ons oor kunsmatige intelligensie (KI) nadink, kyk ons selde na die verlede – ons kyk eerder verstard na die toekoms. Benewens ons gefikseerde blik wat voortdurend vorentoe gerig is, kan dit soms wys wees om ’n tree terug te gee en die waarskuwings uit die verlede te oorweeg – hetsy feitelik, fiktief of êrens tussenin. Dit is waar dat ons in die hede ingeslinger word danksy die pas waarteen alles beweeg, en na die toekoms geprojekteer word. Dit bly egter belangrik om stil te staan en te begryp waarvandaan ons ingeslinger is. Die verlede bied ’n beginpunt, nie om nostalgies oor te tob nie, maar om die uitdagings waarmee ons te kampe het, in die lig van die onbedoelde en onbesonne toename in die gebruik van KI sonder etiese verantwoordelikheid te begryp.

In Frankenstein, of The Modern Prometheus (1818), waarsku Mary Shelley die leser op byna profetiese wyse teen innovasie sonder verantwoordelikheid. Shelley, as die moeder van wetenskapsfiksie, tree as ’n wyse – selfs as ’n filosoof – op deur die gevare van vooruitgang ter wille van vooruitgang te beklemtoon, veral met betrekking tot tegnologiese (en moontlik kunsmatige) ontwikkeling. Learn from me, if not by my precepts, at least by my example, how dangerous is the acquirement of knowledge, and how much happier that man is who believes his native town to be the world, than he who aspires to become greater than his nature will allow, aldus Shelly. Soos haar skepsel, is KI ’n wonder – ’n bewys van die mens se vasberadenheid om na grootheid te streef. Tog maak sy dit deur die verloop van haar roman duidelik dat kunsmatige vooruitgang in sekere omstandighede nadelig kan wees. KI is dus nie inherent gevaarlik nie, maar die blinde benutting daarvan wek kommer.

Daar is ’n groot aantal denkers wat die gebruik en afhanklikheid van KI aanraak of deeglik ondersoek. Hierdie denkers beroep hulle op Kant, Bentham en Aristoteles om die etiese dimensies van so ’n afhanklikheid van ’n relatief onlangse tegnologie te verstaan. Ondanks die uitputtende bronne van etiese ondersoek en morele selfrefleksie wat hulle bied, dring hierdie denkers nie altyd deur tot die kern van die uitdagings wat na vore kom in ’n wêreld wat toenemend waarde heg aan die magie van KI nie.

Die 20ste eeuse filosoof, Martin Heidegger, voer aan dat ons primêre etiese bekommernis die syn self is, spesifiek syn as werkwoord. Tegnologie is volgens Heidegger, en in aansluiting by die Griekse begrip technē, nie bedoel om die lewe geriefliker te maak nie, maar om ons te help om syn, dus onsself, beter te verstaan. Met ander woorde, die etiek van KI behoort nie in die eerste plek te fokus op of dit reg of verkeerd, moreel of immoreel is om hierdie instrument te gebruik nie, maar eerder op of hierdie nuwe of relatief nuwe instrument ons help om onsself beter te verstaan.

Indien die antwoord nee is, is dit nie verstandig om ’n wonderlike uitvinding soos hierdie summier te verwerp nie. ’n Nee vereis eerder ’n oomblik van stilstand en nadenke. Kwantifiseer KI die menslike ervaring? Ondermyn dit ons aangebore neiging om te skep? Ontbloot dit ons behoefte om die menslike werklikheid tot voorspellende voorkeure te reduseer en ons syn as ’n datastel weer te gee? Hier bestaan geen eenvoudige reg of verkeerd nie.

Soos ander nuwe tegnologieë in die verlede, bied KI nie ’n etiese tweedeling nie. Dit bied ’n geleentheid om die algoritmiese das gerede (praat of klets) stil te maak. Die pas waarteen alles rondom KI vorder en die diskoers daarrondom, maak dit moeilik om te rem en oor die etiese gebruik van hierdie instrument na te dink en om die voordele en nadele van hierdie wonder van menslike ontwikkeling, en toewyding aan vooruitgang te oorweeg.

Vooruitgang ter wille van vooruitgang behoort egter self rede tot waaksaamheid te wees. Is ons nie medeverantwoordelik vir die onverantwoordelike en opportunistiese gebruik van hierdie instrument in ons poging om sin te maak van ons ervaring in die wêreld – van ons syn-in-die-wêreld nie?

In hierdie opsig, strek nadenke oor die gebruik en misbruik van KI tot die toenemend sentrale rol in verhouding tot ons menslikheid. Is dit ’n opvolger of is dit ’n assistent? Is dit dryfkrag of gedrewe? Belangriker nog: is KI ’n naïewe, sterre-oë toekomsvisie, of ’n deeglik oorwoë werklikheid in die hede? Laasgenoemde stel ons in staat om verantwoordelikheid na eersgenoemde te projekteer.

Met hierdie kort stuk in gedagte, gaan dit nie bloot daaroor om hierdie uitvinding te vermy of te veroordeel nie, maar eerder om die onverant-woordelike kwantifisering van die menslike ervaring te vermy en ons verantwoordelikheid te aanvaar om in-die-wêreld te wees sonder dat ons hulpmiddel ons projeksie na die toekoms monopoliseer. Shelley het ons gewaarsku dat die mal wetenskaplike en sy mal wetenskap nie daardie etiket op grond van sielkunde verdien nie, maar vanweë hul blindheid vir die gevolge van menslike innovasie. Ons as mense staan by ’n kruispad. Benut ons hierdie kosbare instrument om die beste moontlike toekoms te verseker, of laat ons dit toe om die parameters en inhoud van daardie toekoms te bepaal?

Ons het die verantwoordelikheid om versigtig te wees, nie veroordelend nie; om reflektief te wees, nie neerhalend nie. Hierdie oproep weerklink in skoolbanke, professionele kantore en kerkportale. Hierdie uitvinding behoort nie ons menslike ervaring in te perk nie, maar ons eerder aan te moedig om verder te skep en te innoveer. Dit moet ons aanmoedig om ’n wêreld te visualiseer waar mense sulke instrumente vir verbetering gebruik, eerder as om uit gemak oor te gee en ’n kunsmatige suksessie toe te laat. Enigiets minder is nie ’n ernstige oorweging van die etiek van KI nie, maar ’n stereotipe en nalatige ontduiking van ’n geleentheid tot selfverbetering.

Eenvoudig gestel: KI is nóg vriend nóg vyand, maar ’n spieël wat ons moet aanspoor om die beste moontlike werklikheid te begeer. KI en die etiek daarvan is in die eerste plek, ten minste voorlopig, ’n etiek van menswees in die wêreld. Ons toekoms was nog altyd onseker, maar met die toevoeging van KI verskuif ons fokus effens na ’n toekoms waarin die biologiese, die geestelike en die kunsmatige moet saam bestaan. Die oopheid van die etiese vraagstuk rondom die gebruik of misbruik van hierdie instrument weerspieël ’n toekoms wat nog altyd oop was – een wat stille besinning en aandagtige opgewondenheid oor ons nuwe kunsmatige assistent vereis, sodat dit altyd gereed-tot-hand kan wees, by die snypunt van technē en psychē.

(Hierdie artikel volg op die outeur se navorsing oor die etiek rondom KI wat hy vir sy honneursstudie gedoen het.)

(David Barnard (jr) is lidmaat van Gemeente Magaliesmoot)