In die NHKA het ons dié twee al te dikwels met mekaar verwar. 

Dis seker te verstane, siende dat ons kom uit ’n onlangse verlede toe om aan ’n kerk te behoort nog in bykans al wat ’n openbare sfeer is, die deurslag gegee het. En natuurlik moes dit ook die “regte” kerke wees. Glo jy dít nog, bedrieg jy jouself. Of hoop jy dit gaan soontoe terugneig, bou jy lugkastele waar jy droom die hoofstede van God se koninkryk gesetel gaan wees. 

Vir baie is kerk nie meer noodsaaklik nie, en vir talle maak kerk glad nie meer saak nie. Die josefskleed van die kerkewêreld het gehelp dat jy na hartelus ’n gunstelingkleur kon kies, of dat jy kon voel niks wat reeds bestaan, werk vir jou nie, en jy besluit op deurskynende onsigbaarheid: gelowig, maar kerkloos. Dié demokrasie is voordelig: Hoe jý oordeel, is áltyd reg. Daar is geen nodigheid vir aanpassing, verantwoordelikheid of versoening nie, vir gehoorsaamheid of aanspreeklikheid nie. Daarbenewens is daar ook die ongelukkige ontnugtering van ’n onverkwiklike veelheid, wat diegene van ons wat swart en wit bo reënboogskakerings verkies, laat besluit as nie álmal reg kan wees nie, is niémand dit nie, en volslae geloofloosheid is die gemaklike uitkoms. 

Dis Februarie, sien, en hier in die Hervormde Kerk is dit sensustyd. Toe ek jonger was, het dit beteken jy loop met ’n reuse-sigblad van deur tot deur en vra die GETP-vraag. Is jy die jaar minder geesdriftig, en jou evangelisasiegesindes uitgedun, trek jy trekkers en afgestorwenes van jou Almanak-gegewens af, tel geboortes en belydenisse by, en kom jy in die versoeking oor diegene wat jy drie jaar laas in ’n erediens gesien het, glad nie offer nie, en jou steeds duur kos aan lidmaatskap en jou begroting aan inkomste per lidmaat uit die staanspoor al laat pannekoek soos mooibroodjies bak. Namate die “sinodale dankoffer” (kom ons noem dit liefs maar wat dit is: ’n heffing, of ’n lidfooi; politieke korrektheid werk nie vir my nie, ook nie in die kerk nie) meer word, word die versoeking groter. Haal ek hulle van die lyste af, weet ek wat kom: Ons gaan “vergeet” om hulle verder te bedien. En dit gaan darem baie sleg lyk as met mý bediening die gemeente so gekrimp het! 

Dissipelskap was op ’n tyd gróót. Dié woord het ook maar sy eie moeilikheid. Maar dalk het ons nou dié groot woord vervlak tot “lidmaatskap”, asof om net iewers op ’n naamlys te staan, alles omvat wat gelowig wees is.

Ek vermoed dat ons met lewenslange lidmaatskap van een enkele denominasie dit mishet, ongeag al die voetangels wat ’n bonte verskeidenheid inhou.

’n Ouderling troos my nou die dag toe ek in my hande wou huil oor hoe min mense in die erediens was. Onthou, Dominee, sê hy, in die ou dae móés ons kom. Nóú, as ons hier is, is dit oor ons hier wíl wees. Skrale troos, maar dit help, ’n bietjie.

Toe dit blyk die begroting gaan teen die einde van vandeesmaand vér tekortskiet, trap ons in die slaggat: Vra die mense om ten minste darem net hul eie heffings te vereffen, ’n lidmaatfooi te betaal, dus. Want skynbaar is om op die lys te wees tóg belangriker as om in die gemeenskap van die heiliges te glo. (En, ek weet maar alte goed dat as ek van “heffing” en “lidfooie” sou blý praat, ek dié dwaling net aanhelp…)

Wat het geword van ledemaat wees? Is ons nog deel van die liggaam van Christus? Of liewer: Het ons nog enige erg aan die liggaam waarvan ons deel is?

af
af
Deel met behulp van
Copy link