Een van die heel moeilikste goed wat geloof van jou eis, is dat, as jy God wil dien, jy met mense moet leer klaarkom, selfs met mense wat jy nie vanself sou liefkry nie. Ons kan nie kies om die Here te dien maar mense nie lief te hê nie. God het dié twee wedersyds uitsluitend gemaak.
As daar iemand is vir wie jy om die dood nie liefkry nie, al het jy probeer, en as daar iemand is wat jy tot nog toe botweg geweier het om lief te hê, om watter goeie rede ook al, iemand teen wie jy wrokke koester, of doodgewoon iemand van wie jy nie juis hou nie, enigeen op wie jy maklik jou rug sou kon draai, sommerso sou kon afskryf, is die slegte nuus dat nie hierdie mens nie, maar jou liefdeloosheid, jou van God kan laat vervreem. Wees tog op jul hoede teen die sonde, dat dit julle nie die kroon ontroof nie. Só belangrik is die liefde vir mense.
Liefde vir God en mense is die Koninkryk van God se Grondwet; dit geld oral waar die Koninkryk kom, maar die kerk is soos die Tent van Ontmoeting. As die liefde daarvandaan wyk, tree die Kerk uit die Koninkryk uit. Dink jou in hoe dit moet voel as juis dáár waar jy liefde verwag, by jou eie vader en moeder, en by dié Vader, diegene wat jou moes liefhê geweld teen jou aanhits!
In Romeine 14 en 15 praat Paulus oor twee groepe mense in die gemeente wat met mekaar haaks is: die ouens wat in hul geloof al sterk staan, en mense wat nog maar met geloofsgoed worstel. Elke gemeente het beide, tot groot frustrasie van albei. Paulus gee raad oor hoe die sterkes en swakkes mekaar moet hanteer. Dit loop uit op ’n rits riglyne wat Paulus soos krale aan ’n riempie ryg, maar dit kom op naasteliefde neer. Dis Jesus se samevatting van die Groot Gebooie, liefde vir God en liefde vir mense, waaraan Paulus lyf gee. In die eerste deel van die brief het Paulus dit gehad oor hoe lief God mense het, en waarom mense vir God moet liefhê. Nou kom ons liefde vir mense in die visier.
Die tweede rus op die eerste. Jy kan mense nie liefhê as God nie eerste liefgehad het nie. Maar die eerste val as die tweede misluk. Jy kan ook nie voorgee jy het God lief, as jy mense nie liefkry nie. Liefde is noodsaaklik.
Die liefde wat God verwag ons vir mekaar moet hê, het op aarde niks uit te waai met die stroop en soetsappigheid wat ’n mens deesdae oral kry, en mense “liefde” noem en waaroor al wat leef so op hul perdjie is nie. Inteendeel, die liefde wat God verwag ons aan mense moet gee, is so skaars soos hoendertande, en geen gemeente, tydgees, politiek of ideologie, geen gepreek, grondwetlike hof of menseregtehandves bring dit tot stand nie. Hierdie liefde is ’n wonderwerk wat God mense laat doen, en ook net mense wat glo, kan dit doen, teen ons sondige natuur in.
Begin hier met liefde: Sondige mense is besitlik oor liefde; ons eis dit net vir onsself op. Maar ons is nie alleen nie. God het nie net vir mý lief nie, maar vir jou ook, en ’n paar ander mense ook nog. Nou moet ons, teen die natuur in, liefde leer deel. “Ons” is nie net “jy” nie. En “ek” is nog nie “ons” nie.
Paulus is duidelik bekommerd dat in Rome hierdie liefde onder gelowiges nie gebeur nie. Gemeentelede raak omgesukkel as mense van buite die gemeente doodluiters kom aansluit en gewig rondstoot, en Joodse gelowiges het ’n broertjie dood aan heidengelowiges wat in die gemeente húl God kom kaap het met min agting vir die ou Joodse tradisies. Geskille woed nou oor alles van eetgewoontes tot huisbediendes en erediens.
Maar waaraan weet jy iemand is in die geloof “sterk” en wie “swak”? Die “sterkes” in die geloof is die ouens wat hulle aan geen wette en reëls meer steur nie, want hulle weet sulke voorskrifte bring jou net mooi niks in die sak nie. Die “swakkes” is diegene wat in streng reëls veiligheid vind. Net as alles presies verloop soos wat hulle gewoond is en voel dit moet, voel hulle geborge. Nou eet party gemeentelede sommer enigiets, tot selfs kos wat nie kosjer is nie! Hoe hulle huisbediendes behandel, is ’n skande! En daar kan nie ooreengekom word oor watter dag van die week die beste werk vir erediens nie. Dis ’n kruitvat.
Die 2020 Afrikaanse vertaling sê sterkes moenie neersien op swakkes nie: Sterkes, moet julle nie beter verbeel nie. Swakkes, moenie wil God speel en ander veroordeel nie. Aanvaar mekaar. Maklik is dit nie! Om te aanvaar, is om te offer. Christus moes sy lewe gee vir mense op wie jy neersien, en vir die mens wat jy so maklik veroordeel, het Jesus ook gesterf.
Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here. Dit is tog waarvoor Christus gesterf het en weer lewend geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes (Rom 14: 8-9).
Moet asseblief tog nie naasteliefde wat met aanvaarding werk, met die sensuur van “politieke korrektheid” verwar nie. Om iemand lief te hê, het niks te make met die liberale stroop van ons tyd nie. Jou liefde vir mense het ’n ander rede wat met politiek op dees aarde niks uit te waai het nie. Liefde vir mense gaan om die lewe en die dood en die opstanding van God die Seun, en nie omdat lewens van die een of ander skakering van watter kleur ook al meer of minder saakmaak nie. Ons behoort aan die Here. Almal van ons. Ons is broers.
Jy, waarom veroordeel jy jou broer? Of jy, waarom sien jy op jou broer neer? Ons gaan tog almal voor God se regterstoel verskyn. Want daar staan geskryf: “So seker as wat Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig en elke tong sal My as God bely.” Elkeen van ons sal dus persoonlik voor God verantwoording moet doen (Rom 14: 10-12).
Ek pleit by jou: Moenie wag tot dan nie, tot wanneer jy voor die regterstoel te staan kom voordat jy wonder oor of jy liefgehad het of nie.
Van geloofsbelydenis word ons broers en susters van mekaar. God bewerk dit so. Hieroor kry ek en jy nie te besluit nie.
As dit dan is wat God doen, vat jou geweer teen my kop weg, toe?
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)