Nuwejaarsvoornemens is nie regtig my ding nie. Maar oujaar en nuwejaar gee ’n mens wel kans om die verlede te konsolideer en ’n gesonde ingesteldheid te kweek vir die toekoms. Hierdie jaar het ek my voorgeneem om my tande met my linkerhand te borsel, omdat ek gelees het dat dit ’n mens se brein stimuleer as jy ’n daaglikse aktiwiteit met jou nie-dominante hand doen. Op dag 14 van die nuwe jaar gaan dit nog goed met hierdie voorneme.

Amper soos nuwejaarsvoornemens, is etiek en moraliteit nie my gunstelingonderwerp om te studeer nie. Jakobus 4:17 sê dan: As mense weet wat die regte ding is om te doen en hulle doen dit nie, is dit sonde. So het ek in die verlede met Jakobus saamgestem. Maar dit was voor ek van woorde soos tydgees en konteks en dominante diskoers geleer het. Die “regte ding om te doen” gaan nie noodwendig in alle tye vir alle mense dieselfde wees nie. Dit en die spoed waarmee ons wêreld verander en die nuwe uitdagings wat ons in die gesig staar, maak dit miskien nodig om so af en toe ons morele kompas te herondersoek.

Van 31 Desember tot 2 Januarie is ek vir drie opeenvolgende dae die ontvanger van onwelkome WhatsApp-boodskappe.

Die eerste boodskap op 31 Desember spot met die lyf van ’n persoon wat miskien nie weet dat dié foto die rondte doen op sosiale media of toestemming daarvoor sou gee nie. Die onderliggende boodskap van die grap sê uitpeuloë, uitstaantande, bakore, knopknieë, vreemde gelaatstrekke, te vet of te maer lywe val nie binne die “standaard” vir menswees nie en mag daarom mee gespot word.

Die tweede boodskap op 1 Januarie verbind die gesig van ’n anonieme persoon met die insinuasie van verkragting en mishandeling. Ongeag of die persoon nie werklik ’n verkragter is nie, dink die vriende en familie na dese so. Ek wonder dadelik of die grap ook gestuur is vir ’n gemeenskaplike vriend wat wel verkrag is.

Hierdie eerste twee boodskappe was prentjies of memes, bedoel as grappe. Meme is ’n term uit die kognitiewe wetenskap. Dis ’n idee wat sonder veel kognitiewe moeite of inspanning vinnig, maklik en ver kan versprei in mensekoppe.

Die derde boodskap op 3 Januarie is iets anders. Dis nie bedoel om ’n grap te wees nie. Dit lewer ’n emosionele pleidooi dat mense teen die nasionale gesondheidsplan moet stem. Die boodskap skrei ten hemel. Enkele van die heelparty onchristelike sentimente lees: Ons gaan regtig die laaste wat ons nie mag verloor wel verloor … Mediese fondse gaan geflood word deur ongewenstes … dokters en spesialiste word gedwing om die ander te bedien…

Hier is die implikasie dat ons sosiale groep wat oor eeue heen gesosialiseer is om te dink dat ons beter en meer verdienstelik as ander sosiale groepe is nog steeds so dink. Ons is nie bereid nie om ons oortuigings te ondersoek om te sien of dit ooreenstem met wat ons glo God se wil vir die wêreld is.

Ons kan nou wel nie verantwoordelik gehou word vir die geestelike onkruid wat aan ons gestuur word nie, maar ons kan verantwoordelikheid neem vir dit wat ons weer verder deel.

Ons vergeet maklik dat die werklikheid nie staties en vasgelê is nie. Die werklikheid word sosiaal gekonstrueer. Die grense van ons sosiale wêreld het reeds drasties verander en verander steeds.

Ons kon in die verlede aanneem iemand is ’n Christen as hy of sy op ’n Sondag kerk toe gaan, ’n Bybelstudie bywoon en vir ’n verdienstelike saak geld skenk, want dit was hoe ’n Christen 30 jaar terug gelyk het.

Vandag kan ’n mens sien hoe ander se geloof lyk in die dinge wat hulle op sosiale media deel. Dis ’n duidelike getuigskrif – dit getuig oor ons verstaan (of dan eerder ons gebrek aan begrip) van sosialisering, politiek en geregtigheid.

Dit beteken dat elke enkele item wat ons via tegnologie deel, hetsy dit in ’n e-pos, ’n private WhatsApp-boodskap, ’n WhatsApp-groep, op Facebook, Instagram, Twitter of YouTube is, bou aan die wêreld waarin ons bestaan.

Of dit nou in grappe of waarskuwings is.
Watse bouers wil ons wees?

Hoe wil ons bydra?

Is dit ’n onsinnige vraag om te wonder wat Jesus op sosiale media sou deel?

Mag God ons in 2020 gebruik om die wêreld ’n beter plek te maak vir mense wat nie binne die “standaard” vir menswees pas nie.

Mag lywe waarmee gespot word, trauma wat nie ernstig geneem word nie, en sosiale voordeel wat net vir dié wat dit kan bekostig beskore is, in 2020 iets van die verlede wees.

Mag die wêreld wat ons help bou in 2020 koninkrykswaardes weerspieël.

Mag ons in 2020 moeite doen om die onderliggende implikasies van dit wat ons op die oppervlak sien, te verstaan.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap