Daardie oomblik wanneer dominees vinnig vóór hulle die kansel bestyg, stil staan by die voet van die preekstoel, het my nog altyd gefassineer. In daardie vinnige pouse, wat gaan alles deur die predikant se kop? Is dit ’n aarseling? Vra hulle iets vir die Here? Of haal hulle miskien net diep asem? Dink hulle vinnig of hulle alles wat nodig is vir die preek onthou het? Ek weet nou nie van ander dominees nie, maar wat deur my kop gaan op Sondaeoggende as ek daar voor die kanseltrappe staan, is: Here, help.

Daar is miskien ’n element van paniek aan hierdie kort gebedjie. Sê nou maar mense verstaan my verkeerd? Sê nou maar ek maak ’n fout, soos daai keer toe ek Herodes die Grote en Herodes Antipas met mekaar verwar het? Sê nou maar die rekenaar hou alwéér op met werk, of die verkeerde lied is op die bord? Sê nou maar! Sê nou maar! Sê nou maar!

Hierdie kort gebedjie is vir daardie tipiese vrese van wat alles tydens die erediens kan verkeerd loop. (Natuurlik is daar hoogs ongewone goed wat ’n mens nie in jou gebed in ag neem nie. Daar het in een erediens ’n duif by die kerk ingevlieg. Die voël het so rondgefladder bo my kop, ek moes ’n paar keer onder die kansel induik. Dit het definitief nie gesorg vir ’n eerbiedige liturgiese atmosfeer nie. Na daardie insident word verdwaalde voëls in my gebed veronderstel.)

Hierdie kort gebed is egter nie nét ’n paniekbevange smeking nie. Dit is soveel meer as dit. Dit is ook ’n diep versugting. Dit is nie ek alleen wat op daardie kansel klim nie. Dit vra ook: Here, help asseblief dat wat hier van die kansel af verkondig word iets van u wil en liefde sal sê. Dit is ’n oorgee aan die Here – Here, hierdie erediens is in u hande.

Hierdie kort gebed – Here, help – is nie net vir ’n Sondagmôre voor die kansel nie, maar word ook gefluister in hospitaalgange, net voor ek by Intensief instap, voor, en ook tydens, kerkraadsvergaderings, in sitkamers met huisbesoek, wanneer die mis dig is op pad na die oggend se Bybelstudie, en wanneer ek ’n halfuur lank sit en worstel om ’n WhatsApp- antwoord aan ’n lidmaat te stuur.

Daar is hierdie mooi gedeelte in Romeine 8:

26Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.

Dit laat my dink aan die Afrikaanse gesegde: ’n Volle begrip het net ’n halwe woord nodig. Ek dink die Here weet hoe om my gebed te verstaan. Dat dit my eie menslike, onvolkome en gebrekkige manier is om vir die Here te vra vir leiding, vertroue, rustigheid, insig, onderskeidingsvermoë, geduld, moed, sin vir humor en liefde.

Elke dag, nie net 09:00 Sondagmôre voor die kansel se trappe nie, behoort ons elkeen Here, help saggies te fluister soos wat ons deur die wêreld gaan.

af
af
Deel met behulp van
Copy link