Ek het gedink ek is geseën met kollegas wat saamwerk aan preke en erediensinkleding. In my bediening was ons uit die staanspoor ’n span. Ons het gereeld byeengekom om oor Sondag se erediens te praat, saam oor eksegese en hermeneuse te dink en idees uit te ruil. Ons het saam preekbundels vir leesdienste geskryf. En soms as ons vasbrand want dis basaar en begrafnisse of Hemelvaart op ’n Donderdag, het ons by mekaar gaan hulp soek en ’n preek per e-pos gekry of aangestuur. Selde kon ’n mens ’n kollega se skryfwerk net so gebruik, maar soms, net soms, was die kalf in die put.
En ek het gelees. Soveel as wat ek kon te midde van ’n besige program. Van Barth en Browning en Bonhoeffer, die HTS tot by populêre skrywers soos Lewis en Yancey. En die Bybel, natuurlik ook in Grieks en af en toe (maar al minder moet ek bely) ook in Hebreeus.
Preekmaak en erediens aanmekaarsit was (en is steeds) ’n tweedaglange gedoente. As jy nog ’n aanddiens ook bou, is die week te kort. Ek het dikwels op Sondagmiddae vanaand se preek geskryf en die liturgie was noodgedwonge ’n sjabloon uit die Diensboek, klakkeloos oorgeneem en meganies afgelewer.
Die hulp van ’n vriend was onskatbaar. ’n Paar kollegas het preekbundels die lig laat sien en selfs verkoop. Dit was goeie waarde vir geld veral vir Sondae se tweede, maar ook die eerste uitdraf kansel toe.
Toe kom die internet. Dáár groei ’n byna onbeperkte biblioteek van preke en preekhulp. Maar jy moet katvoet loop, want die Jehova-getuies se artikels sit alewig bo-aan Google se resultate. Maar goeie oordeel was nog altyd nodig, ongeag van die bron en oorsprong. Onderskeidingsvermoë wat die koring van die kaf skei, en ’n fyn aanvoeling vir die eie gemeente wat hierdie preek hier moet hoor en met dié erediens God moet aanbid, is nog altyd ’n integrale deel van die proses. Dís immers ’n ononderhandelbare deel van die dominee se weeklikse werk. Die dominee wat onvoorbereid op die kansel opdaag, is nie die naam werd nie. Selfs al was die leeueaandeel van die voorbereiding ’n kollega s’n, is wat die dominee van die kansel af sê nou sy/haar eie verantwoordelikheid. Net met vrees en bewing kry jy opreg gesê: So sê die Here HERE. Dit sê jy net as jy saam met en soos die Kerk kan praat. Daarvoor luister jy fyn na die skare geloofsgetuies wat jou vooruitgaan, en jy fynkam tegelykertyd die bron waaruit jy jou eie preek baar. Al is jou teks ’n ander dominee s’n, jý bely hom nou. Jy staan pa. Die Woord is jou hoeksteen, die belydenis jou toetssteen.
Daar is in elke preek en erediens twee millennia se prediking ingebed. Die mate waartoe 2000 jaar se dominees vandag se erediens beïnvloed, is die een wat vandag die kansel met hierdie preek bestyg, se besluit. Dalk is die buurgemeente se predikant vandag besonder betrokke, maar dit is vir God wat hierdie gemeente moet hoor praat. Kortom: daar bestaan nie kopiereg op die evangelie nie. ’n Leenpreek is geen sonde nie. Ook geen verleentheid nie. ’n Gemeente wil weet wat hul dominee op die kansel kwytraak, kom uit die hart. En glo my, hulle weet.
Hulle onthou net nie so goed nie. Die beste preke kan maar oor en oor gehoor word. Ons werk is om mense te help om van God en van geloof te onthou. Die Bybel is vol sulke preke. Predikante herhaal maar net wat ons daar kry. En ons herhaal ook maar net wat ons in die 2000-jaar-oue kerk se prediking gehoor het. Laat ons mekaar nie verdink van plagiaat nie. En waar ons dominee se preek ook al gaan draai het, die oorsprong daarvan is God.
Dankie aan al die kollegas predikante, skrywers van boeke en bydraers tot die evangelie se teenwoordigheid op die internet vir hoe julle my preke vorm, hervorm en verkondig. Ek dink steeds julle is ’n seën. Kom ons los die agterdog.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)