Die notule van die eerste onafhanklike Algemene Kerkvergadering van die Hervormde Kerk aan die Kaap lees soos enige kerkvergadering s’n: redelik vervelig. Maar daar is tog hier en daar ’n juweeltjie wat by nabetragting tot vandag toe nog lig werp op ons kerkwees in Afrika.
Met die tweede sitting al, op 3 November, is die vergadering besorg oor die befondsing van die onkoste van hierdie en dergelike vergaderings van die Kerk in die toekoms. Die hoop is uitgespreek dat kerkrade ter wille van die “gesamentlike godsdiens” sou help om onkostes te dra, veral waar daar ver gereis is. Destyds was die Kerk ook prakties deel van die staatsdiens en dus gedeeltelik deur die staat befonds. Daarom sou daar ook ’n brief, in beide Engels en Nederlands, aan die regering gestuur word om te vra vir steun. In dié brief sou die goewerneur gevra word of die Kerk uit deurkollektes, lidmate se dankoffers, toegifte, boedels, nalatenskappe, doop-, huweliks- en begrafnisfooie asook sitplekkostes in die kerk ’n gedeelte kon terughou om hierdie en toekomstige vergaderings daaruit te befonds. Die besluit word met ’n meerderheid van stemme geneem, want eerw Spijker van Somerset Gemeente teken protes aan en kan nie tot ander insigte gebring word nie. Hy sê sy gemeente sal dit nie kan bekostig nie. Hoe ons volhoubaar ons “gesamentlike kerkwees” bekostig, was toe al en bly steeds ’n tameletjie.
Dat die Kerk toe eintlik nog deel van die staatsdiens was, sou daartoe lei dat die vergadering by ’n latere sitting die staat sou vra om tog uit te klaar waar die grens tussen kerklike gesag en die staat se mag lê. Geen van die vergadering se besluite sou immers geld alvorens die staat dit nie goedgekeur het nie. Die verhouding kerk-en-staat sou tot in die vorige eeu ’n warm patat bly. Deesdae sal voorskrifte deur die staat aan die Kerk nie geduld word nie. Tog is die Hervormde Kerk steeds gesteld op die kontekste van staat en samelewing, en is die Kerk verplig om wetgewing na te kom en onderhewig te bly aan die regbank.
Op 5 November tydens die vierde sitting van die sinode aanvaar die vergadering die algemeene bepalingen van het bestuur der Hervormde Kerken in die volksplanting as grondwet van die Kerk. Tot en met die konstituering van die vergadering het die kerkorde van 1804 nog gegeld. Daarmee word die Kerk aan die Kaap dan van die Nederlandse Hervormde Kerk onafhanklik. ’n Voorgestelde vereniging met die Protestantse Kerk in Skotland word voorlopig ook uitgestel sodat daar eers aan kulturele verskille aandag gegee kon word. Kultuur en die evangelie in Afrikaans sou vir die Hervormde Kerk belangrik bly.
Kerkrade se gesag oor gemeentes word tot vandag toe nog in die Hervormde Kerk aanvaar. Die 1824-vergadering het predikante wat deur vakante gemeentes op reis is, verplig om voortaan eers die plaaslike kerkraad in te lig voordat hulle lidmate doop of aanneem, of om behoorlik aan die kerkrade verslag te doen. Op die vraag of kinders van ouers wat nie lidmate is nie gedoop kon word, is die besluit aan predikante en kerkrade oorgelaat.
Reeds van hierdie eerste vergadering af gee ons voorkeur aan goeie akademiese opleiding van almal wat die Woord bedien. ’n Kommissie is by die vergadering aangewys om ondersoek in te instel na die vestiging van ’n teologiese kweekskool of seminarium vir teologiese opleiding. Sendelinge uit die Hervormde Kerk sou nou slegs na aflegging van ’n eksamen deur die kerkraad toegelaat word om die evangelie te bedien en Godsdiensonderrig te gee.
Godsdiensonderwys aan die kinders van die Kerk was hier al prioriteit. Die sinode het die staat gevra om die kategismus by die staatsdrukkery in beide Nederlands en Engels te laat druk en om dit in alle skole te versprei.
Die twaalfde sitting op 16 November het besluit dat die Kerk nie barmhartigheidsdiens tot lidmate van die Kerk sou beperk nie. Ook mense wat nie lidmate van die Kerk was nie, sou uit diakonale fondse versorg kon word. Ons missionale gerigtheid op die wêreld sou toe al wys in ons diakonale versorging aan alle mense.
Van sektariërs is verwag dat hulle duidelik moes verklaar wat die naam van hul sekte is wanneer hulle in die Kolonie optree. Dit is deesdae weer mode dat sektariërs en geloofsgroepe hul ware identiteit verskuil om niksvermoedende mense om te haal om by hulle aan te sluit. Die openbare identiteit van ’n kerk bied sekerheid van belydenis en geloofstradisie.
Sabbatsviering taan onder ons. Hierdie kerkvergadering is egter ontsteld oor hoe die Sabbat ontheilig word deur koop en verkoop, lawaai in die strate, spel en dobbelary, en ’n gedrinkery by taphuise. Die regering is toe versoek om alle taphuise op Sondae te laat sluit. Terwyl ons nie aan een dag meer waarde heg as aan ’n ander nie, is dit bitter jammer dat ons geen rusdag meer hou nie. Die geloofseis om ’n dag per week aan God te wy het grootliks in die slag gebly.
Hierdie eerste Algemene Kerkvergadering sou die gebruik vestig om by wyse van ’n herderlike omsendskrywe met gemeentes van die Kerk kontak te maak. So ’n herderlike skrywe sou gemeentes inlig dat die sinode voortaan elke tweede jaar op die eerste Dinsdag van November sitting sou neem. Die skrywe wat aan alle gemeentes voorgelees sou word, sou lidmate aanspoor om die Christelike geloof, veral in hulle eie huisgesinne, te help versprei. Daarbenewens is lidmate aangemoedig om aan die owerheid gehoorsaam te wees; die owerheid van die dag was immers die een wat God besluit het oor hulle sou regeer. Dog, die eerste Trekkers het alreeds noord van die Oranje gaan verken.
So baie hiervan klink bekend, nè? Dit is bemoedigend dat die probleme wat die Kerk van 1824 in die gesig gestaar het, ook dié is waarmee ons steeds stoei. Ten spyte daarvan kan ons getuig dat die Kerk nou nog, 200 jaar later, steeds hier is. Dit is te danke aan God se sorgsame genade aan die Kerk, nie net die afgelope 200 jaar nie, maar nimmereindigend. Dit is ons hoop vir die toekoms van ons Kerk.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)