Tinder is goed vir jou, sê die pouslike hoogheid Fransiskus I. En wat die Katolieke Kerk oor seks leer, is in sy kinderskoene. Ek bloos namens die Roomses om al die verkeerde redes; dié metafoor slaag nie! Maar tog, so berig Aina J Khan, ’n vryskutjoernalis by NBC News, die eie woorde van Vader Fransiskus.
Fransiskus was met ’n groep Spaanstalige volwassenes tussen 20 en 25 jaar oud in gesprek. Hulle het hom uitgevra oor onder andere seks, masturbasie, die Roomse Kerk se voortslepende molesteringsprobleem, aborsie en die genderdilemma. Pornografie is verskralend, sê die godsman. Om seksueel aan jou egte self uitdrukking te gee, is ’n ryke ervaring, en enigiets wat egte seksuele selfvergestalting verskraal, doen afbreuk aan mensheid, ontneem jou van jouself, verarm jou. Geslagtelikheid – ons is immers so geskape – het goeie rede: Dit is ’n uitdrukking van liefde. Seks is een van die mooi dinge wat God aan mense gun. Hou ook vroue wat van aborsie gebruik moes maak, styf vas, en moet hulle nie verjaag nie; wees deernisvol, soos Jesus is. Aldus Fransiskus.
Een van die deelnemers aan die gesprek, Celia, het gevra of die Roomse Kerk ruimte laat vir transgender mense en vir die LGBTQ-gemeenskap oor die algemeen. En dit is die antwoord wat die pous op dié vraag gegee het wat my hom by hierdie gesprek oor skade aan die kerk en uitsluiting van sedeloses en losbandiges laat betrek. Fransiskus het geantwoord: Die kerk kan niemand uitsluit nie.
Het die pous dit reg?
Julle moet oor julle eie mense oordeel: Verwyder die slegte mense onder julle uit! So sê Paulus in 1 Korintiërs 5: 12-13. Wat is die aard van die seksuele losbandigheid wat Paulus sê so onder die Korintiërs tier? Sy voorbeeld is van minagting vir bestaande verhoudings: Seuns slaap by die vroue waarmee hul pa’s getroud is.
Waar trek ons die streep? Is daar hoegenaamd nog strepe te trek?
Die pous praat hier oor taai toffies, en ek beny hom nie. Trouens, ek het waardering vir hom, veral vir sy opmerking: My werk is om te ontvang, altyd.
Om sondaarmense te ontvang, is sy bedoeling. Só herstel jy skade aan die kerk: Jy ontvang sondaars met ope arms, en jy leef met die gevolglike muishondreuk van ’n reputasie saam. Dit is paradoksaal, ek weet, dat die kerk berug is as ’n plek waar sondaars leef. Maar die stank van sonde word net in die kerk die fyngeur van verlossing. Die lyk gaan nie lank genoeg in die graf wees om te begin ruik nie; die balsems en die salwe is oorbodig.
Laas toe ek geluister het, het die Hervormde Kerk dit ook gesê: Ons is insluitend. Ons het, en is ook in die verlede al oorgenoeg uitgesluit. Ons werk is om te ontvang.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)