Fotografie, dink ek soms, leer ’n mens om te sien. Dit leer jou om ráák te sien. En as ’n mens eers sien, dan word jy oorweldig deur al die skoonheid om jou.
Die Engelse digteres Elizabeth Barrett Browning het geskryf:
Earth’s crammed with heaven
And every common bush afire with God,
But only he who sees takes off his shoes;
The rest sit round and pluck blackberries.
Ons het ’n kerklied wat dit baie goed verwoord.
Gesang 464 in die Liedboek van die Kerk sing:
O Heer, my God, as ek in eerbied wonder –
en al u werke elke dag aanskou:
Die son en maan, die aarde, sterre, wolke,
hoe U dit elke dag so onderhou …
Dan moet ek juig, my Redder en my God!
Hoe groot is U; hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit saam:
Hoe heerlik, Heer, u grote Naam!
Hierby is ’n aantal foto’s wat my by die neem daarvan en by die agterna kyk daarna, telkens laat neurie: Hoe groot is U; hoe groot is U!
Foto’s in die normale volgorde van bo af:
Lewerikkotiljons:
’n Rooineklewerik sing sy pronkliedjie terwyl hy elke nou en dan in die lug op wip en sy vlerke klap. Dis lente. Tyd vir nuwe lewe.
Cricket:
Insekte, soos hierdie koringkriek, bied besondere uitdagings aan die natuurfotograaf, omdat hulle so klein is. Maar as ’n mens jou eers in die wêreld van insekte begeef, word dit ’n eindelose ontdekkingsreis.
Streepkoppie:
Mooi, sagte oggendlig is ’n fotograaf se grootste vriend, soos hierdie foto van ’n rooivlerkstreepkoppie wys.
Keeping up with Mommy:
Foto’s van olifante leen hulle dikwels tot goeie verwerking na swart-en-wit toe. Hier is ’n klein olifantkalfie in die veilige nabyheid van sy ma.
Ligte ontbyt:
Party van God se maaksels, soos hierdie kuifkopvisvangertjie, is self so mooi dat ’n mens net kan aanhou om vir hulle te kyk.
Hiëna op die rant:
’n Gevlekte hiëna kort voor sonsopkoms in die Kalahari, ’n harde omgewing waarby die hiëna goed aangepas het. Wie weet wat sy dag gaan inhou?
Neus-in-die-lug:
Mooi van lelikheid? Dié klipkoggelmander is een van die ryke verskeidenheid reptiele in die natuur.
In verwondering:
Dit is ’n asemwegslaanervaring om voor die Augrabies-waterval te staan as dit in vloed is. Daarom heet hierdie foto: In verwondering.
Noem my druppeltjie:
’n Geelbekeendjie op die water. Is dit nie genoeg om ’n mens se hart te laat vermurwe nie?
Witstreeprooitjie:
Eers was dit ’n ruspe, in baie mense se taal ’n wurmpie. Maar nou is dit ’n witstreeprooitjie, een van honderde skoenlappersoorte wat in Suid-Afrika voorkom.
Welwitschia mirabilis:
In die barre leegheid van die harde Namibwoestyn leef die welwitschia, ’n plant wat soms as prehistories bestempel word.
(Neels Jackson is ’n stokperdjiefotograaf van Centurion)