Ek het my hierdie week weer die dissipels se vraag oor wie die belangrikste persoon in die koninkryk van God is (Matt 18), afgevra. Dit is ’n belangrike vraag om te antwoord, as jy ’n dominee is. Jy moet weet wie eerste aandag moet kry. Goeie bestuur wil dit hê dat ’n mens die meeste tyd moet bestee aan die klein groepie mense wat vir jou die meeste doen. Jesus dink anders daaroor: Hy trek ’n kindjie nader en sê hier’s hy, die belangrikste van almal, ’n naamlose kind.

Dit breek my hart.

Vandeesweek het ’n gesin ons gemeente verlaat. Hulle het dit gedoen met die beste rede wat daar is: Hulle het hul kinders vooropgestel; hulle wil hê dat hul kinders tussen ander gelowige kinders moet grootword.

Ons gemeente het hierin tekortgeskiet.

Ek sê nie ons kon nie aan dié jong ouers se verwagtinge voldoen oor hier nie meer ander kinders oor is nie. Dat hier nie kinders is nie, maak geen verskil aan waarvan Jesus ons beskuldig nie:

Matteus 18 (AFR2020)

3
“Amen, Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie.

As hier nie kinders is nie, moet ons, ter wille van die kleintjies, kindertjies word. “Kleintjies” is wat Jesus sy volgelinge noem. Ons fokus nie genoeg op “kleintjies” nie. Dit spel gevaar, nie net vir die oorblywende kindertjies van die Kerk nie, maar vir al die volgelinge van Jesus wat ons nog oorhet.

Kindertjies het aandag nodig.

Ons moet ons skoei op ’n kind se afhanklikheid van en uitgelewerdheid aan ander mense, ’n kind se onvoltooide ontwikkeling, gebrekkige insig en onvermoë om vir haarself te sorg. Ons moet in dié bresse tree. Dit weet die meeste grootmense, dog verg dit Jesus om ons dié rangorde van mense se belangrikheid in die koninkryk te kom leer. Kinders is die belangrikste, want ons moet almal ingestel wees op hul menswording. Van ons wat onsself as groot beskou, hang kinders se grootword af.

Daar is dus twee goed wat Jesus sê kindertjies is, waaraan ek en jy ons moet steur:

  • Kleintjies is nie selfgenoegsaam nie. Hulle word nog mense.
  • Jy wat groot is, of ten minste groter is as ’n kind, jy moet jou instel om kleintjies veilig en geborge te laat voel, sodat hulle kan grootword. Grootword beteken om Christus te ontvang.

En wat doen ons, pleks van kinders groot te maak? Ons rol klippe in hul pad. As ons nie meer vir kinders is nie, kan die Kerk ook maar sterf.

7
Wee die wêreld as gevolg van die struikelblokke.
Struikelblokke sal onvermydelik kom; nogtans,
wee die mens deur wie die struikelblok kom.

Kinders ontvang is nie kinderspeletjies nie. Maar om ’n struikelblok te word, is dodelik. Tog is struikelblokke onvermydelik, want dis die sonde wat mense doen.

Ons kan nie in mekaar se skoene pas nie. Ons kan veral nie in kinders se skoene inkom nie. As ons maar kon, sou ons besef net hoe verlate en verlore kinders kan raak. Ons het vergeet hoe afhanklikheid voel. Ons was baie suksesvol daarmee om ons hele lewe teen afhanklikheid te verskans. Niks is tog so verontmenslikend soos om iemand anders in die oë te moet kyk om te oorleef nie. Jy wil voel jy hoef niemand iets te vra nie, jy krap jou eie potjie, baie dankie. Jy het twee hande wat raakvat, jy het twee fikse voete, en twee skerp oë; jy het niks meer nodig nie. Maar die dag as jy agterkom jou eie twee hande, jou twee voete en twee oë het jou laat voel jy is te groot selfs vir jou eie skoene, besef jy jou eie lyf het jou mislei om te dink jy is groot genoeg.

Ons moet kleiner word om kleintjies te wees, en nog kleiner as ons soos kindertjies wil word.

Kap net een van jou hande af en smyt hom van jou weg; jy sal verbaas wees hoeveel kleiner jy word net van ’n hand. Jy sal afhanklik raak van iemand met meer betroubare hande. ’n Voet sal ook werk: As jy oor jou eie voete val, is jou voete jou struikelblok. As jou oë jou swak is, ruk een van hulle uit. Jy gaan nie self beter kan vat, trap of sien nie, maar jy gaan eerstehands leer hoe voel gebrek en tekort. Al hoe jy dan weer gaan heel voel, is as ’n ander mens jou hande, voete en oë word. Eers as jy mank gaan aan iets wat jou volkome moes laat voel, kom jy agter hoe nodig jy mense het, en hoe jy nie sonder Christus kan klaarkom nie.

Voel die gemis. Ly die tekort. Verstaan nood. Leer weer hoe dit is om iemand vir iets in die oë te moet kyk. Jy sal terselfdertyd ook leer wat dit beteken om genade nodig te hê, en liefde te ontvang.

Dit is jou eie struikelblokke wat jou kortwiek. Maak jou kleiner. Raak van jou struikelblokke ontslae. Kap hulle af. Doen jy dit nie, is wat jy staan te verloor, veel erger as wat amputasie sou wees.

Die pad na kinders en kleintjies toe maak seer, maar nie seerder nie as om te beleef hoe mense die Kerk van hulle moet afkap om hul kinders elders van geloof te gaan bedien. Want dan het die Kerk self ’n struikelblok geword.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap