Hier op die platteland is vernuwing nie altyd goeie nuus nie. Waarom torring aan wat werk? So voel ons. En kom dit by liturgiese verandering, skop ons vas. “Stoer”, so noem ons onsself, en “behoudend” is wat dit beteken.
As daar nou een ding is wat krap, is dit kerkkonsert. Hieroor is ons erg Protestants, Calvyn verby: Erediens is nugtere nadenke oor God, en daarom is die preek die ding waarvoor ons kerk toe kom, nie juis skuldbelydenis of vergifnis of seën nie. En met soetsappigheid moet jy ons nie wil sagmaak nie, nie eens met mooi musiek nie!
Net een ding pas ons tradisievastheid nie: Ons wil sing. Dog, wil jy glo, ons sing nie! Ons prewel. Terwyl ons dus met sang die tradisie troef, bly ontevredenheid oor die liedere wat die dominee opgee, ’n heilige koei, want léér, gaan jy ’n nuwe lied nie.
Dit help ook nie as ’n gemeente geen begeleier of kerkorrel het nie. Op die platteland is dit ons lot. Voorsangers is hier ook maar yl gesaai.
Nou kyk, nootvas is Afrikaanses oor die algemeen nie, en beskeidenheid maak ons verder sangsku. Hier en daar lewer ons ’n Coertse of ’n Korsten op, maar ons beny die Walliesers. Dog, snaaks, die Britte sing gesange by rugby, maar selde in die kerk.
Ons síng by Algemene Kerkvergaderings!
Die tegnologie het toe eindelik ook hier by ons uitgekom, en daaroor sing ons hallelujas: MP3-opnames van Psalms en Gesange met kerkorrelbegeleiding!
Kerkmusiek, soos ons dit sing, is ’n aangeleerde smaak, soos Kaapse rooi en Skotse mout. Ek hoop ons kan so leer dink oor die musiek wat die Hervormde Kerk in eredienste gebruik: ’n Smaak om aan gewoond te raak, maar ’n unieke geur wat by die erediens pas, want jy kry dit nêrens anders nie as net waar gelowiges God aanbid. Dis ons temamusiek, die klankbaan van ons geloof.
Afgelope Sondag kon ons, danksy nóg splinternuwe opnames van sang en musiek, vir die heel eerste keer in die erediens saamsing uit die nuwe versameling kerkliedere orals elders al bekend as VONKK: Voortgesette Ontwikkeling van Nuwe Klassieke Kerkmusiek.
Nou moet ek sê: Ek het versigtig gekies aan hierdie eerste liedere. Vir eens was nuut ook goed. Hier is lofsange oor VONKK, en geen beduidenis van verset nie! Die taal en klank waarmee ons die Here dien, is verfyn, ons liturgiese gereedskapskas aangevul, uitgebrei en pasgemaak.
Ons hét gesing.
Baie dankie vir die berig Hennie! Ek is so bly dat die opnames van die orrelbegeleiding van die VONKK-liedere positief ervaar word. Mag die geloofsklanke wyd eggo!
Hannes, ek kom nou eers agter water reuse aandeel jy het aan die tekste van VONKK. Dankie vir prag werk.
Ongelukkig is daar kerkraadslede wat altyd n demper plaas , wanneer nuwe liedere aangeleer moet word. Diesulkus verhinder dat die gemeente predikant die fonk en ander liedere gesing word. Vrywillige gemeentelede wat sang wil ly word nie die geleentheid gegun om dit te doen nie. Dit moet altyd n ouderling wees wat dit n paar minute voor die aanvang behartig.
Voorsang sal die gemeente aanmoedig om saam te sing terwyl hulle die kerk binne gaan. Dit bou kameraadskap en n gevoel van toegewydheid en samehorigheid.
Dit sal verhoed dat jongmense nie tuifvoel in die kerk nie.
Sang is beslis goeie gereedskap wat ons almal help deelneem aan die erediens. Gaan gesels bietjie hieroor met jou ouderling en jou dominee. Hulle het pas by die Algemene Kerkvergadering pragtige VONKK-liedere gehoor en saam gesing. Dalk voel hulle nou anders?