Hierdie dag moet vir julle ’n gedenkdag wees. Julle moet dit as ’n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit ’n vaste instelling wees wat hulle moet vier. (Eksodus 12: 14, AFR1983)

Lees Eksodus 12: 1-27

Ons kan die volle omvang van God se genade nooit begryp nie, want daar bestaan niks – nie in hierdie wêreld of enige iets wat ons kan uitdink – waarmee dit vergelyk kan word nie. Tog doen die Heilige Gees uitsonderlike moeite in die Bybel om ons te leer wat sy genade beteken en word Paasfees ’n kleurvolle uitbeelding van God se genade in aksie.

Moses kry tydens ’n wonderbaarlike ontmoeting met die Lewende God opdrag om die nageslag van Jakob se 12 seuns uit Egipte te gaan haal. Dié opdrag was deel van die vervulling van ’n belofte wat God 500 jaar vantevore aan Abraham gemaak het: Abraham se nageslag het in dié stadium reeds duisendvoudig vermenigvuldig, en Moses sou hulle begelei om die tweede deel van die belofte te vervul – dat hulle in hul eie land sou gaan woon.

Die verleentheid was egter dat nie Moses óf die mense na wie hy gestuur is, meer kon onthou van die belofte nie en ook nie meer geweet het wie God is nie. Oor die verloop van die voorafgaande 430 jaar het hulle so erg van God vervreem dat hulle nie eens meer sy Naam geken het nie. Maar God het onthou, en so word Paasfees die fees van ’n nuwe begin!

In die verhaal is die Egiptenaars maklik herkenbare heidene: Hulle het nie die ware God aanbid en geëer nie; hulle het van die Israeliete slawe gemaak; en hulle het die seuntjies van Israel in die Nylrivier gegooi om te verdrink.

Maar die Israeliete was net so skuldig: Hulle het stelselmatig in Egipte al hoe losser en verder van God af gelewe, totdat hulle ook nie meer die ware God aanbid en geëer het nie. Hulle het ander gode begin dien. Hulle was ondankbaar, hardkoppig en eiewillig. Egiptenaar en Israeliet was ewe sondig, en albei het straf verdien.

En tog, al was hulle ewe skuldig, tref God ’n onderskeid tussen Egiptenaar en Israeliet. Dit is merkwaardig dat die dood van die eerstelinge net die Egiptenaars getref het, maar dit was ongetwyfeld ’n wonderwerk dat die Israeliete hoegenaamd ’n kans gegun is om van dié tragedie te ontkom. Dit was juis hierdie “oorslaan” of “verbygaan” waarna die woord pasga verwys. Die Israeliete is gepasga, nie omdat hulle so goed was nie, maar omdat God hulle liefhet en aan hulle genade betoon. Dit was sy belofte.

Met die instelling van die Pasga het ’n lammetjie se bloed en ongesuurde brood tekens geword van God se reddende genade. Vir geslagte daarna is Paasfees gevier om die volk daaraan te herinner dat God hulle uit slawerny van die Egiptenaars bevry het. Jesus Christus het aan die ou-bekende instelling ’n nuwe inhoud en verstaan kom gee. Jesus het daarin uitgemunt om tradisies en gebruike met ’n nuwe inhoud te vul, en Hy doen dit ook met mense…

In die wêreld waarin ons vandag lewe, is daar al hoe meer mense wat nie meer aktiewe lidmate van die kerk is nie. As mense uit die kerk uit wegraak – ongeag of dit deur hul eie besluit en toedoen is, en of dit die gevolg is van omstandighede wat van ouers of vorige geslagte oorgeërf is – wanneer dit gebeur, raak dit al hoe moeiliker om na hulle uit te reik.

Christene is soms geneig om mense wat weggedryf het of doelbewus die rug op God gedraai het, af te skryf. Ons vergeet soms dat een van die belangrikste momente in die geskiedenis van God se besigwees met mense tydens Paasfees gebeur het, juis met sulke mense… Dit was waar van die Egiptenaars en die Israeliete, en natuurlik is elkeen van ons ook by hierdie lys ingesluit, want ons is almal in God se oë sondaars. Goddank dat sy genade ons ook insluit. Ons sal die volle omvang daarvan seker nooit begryp nie.