Die teoloog Bill Hybels het eenkeer dié uitspraak gemaak: Wat die Kerk nie het nie, is nie gevra nie, en as jy gevra het en nie gekry het nie, het jy verkeerd gevra.

Baie bejaardes voel die woorde van Prediker 12 aan die lyf: Hande bewe, bene beweeg moeilik, kan nie meer behoorlik kou nie, oë moet twee maal kyk om te sien. Hierdie feitlik opgebruikte liggaamsdele het tot gevolg dat die bejaarde bang en onseker is oor feitlik alle aspekte van die lewe.

Op 15 Junie 2020 skryf Maretha Botes op Maroela Media oor die emosionele belewenis van bejaardes in tehuise, en sê dat hul eensaamheid onbeskryflik is. Hulle beleef verlange, verwerping, vrees, angs, woede, hartseer, frustrasie en die ergste onsekerheid en magteloosheid. In baie gevalle lei dit tot depressie. Die lewe het vir baie van hulle een groot donker gat geword.

In die loop van jare het die Kerk met die NHSV aan die spits verskeie bejaardesorgtehuise opgerig waar baie van die Kerk se bejaardes op hul oudag ’n wonderlike tuiste gevind het.

Op geestelike, emosionele, fisiese en materiële vlak is daar soveel aspekte waarby gemeentes van ons Kerk betrokke kan raak. Aan die een kant is dit nodig dat die besture van tehuise hierdie behoeftes bekend moet maak. Aan die ander kant moet gemeentes spontaan uitreik na die Kerk se bejaardesorgtehuise.

Daarbenewens is daar tans by die meeste van ons tehuise ook finansiële bystand dringend nodig. Hierdie bystand het noodsaaklik geword vanweë die volgende faktore:

  • Die meeste van die Kerk se tehuise vir bejaardes is vroeg in die vorige eeu opgerig. Die tehuise is goed in stand gehou. In ’n stadium gebeur dit feitlik met alle ou geboue dat die gewone begrote inkomste nie meer voldoende is vir die instandhouding nie.
  • Staatsubsidies is nie meer ’n vaste inkomste waarop gereken kan word nie.
  • Vooggemeentes wat ruim bygedra het, is nie meer die praktyk in die Kerk nie.
  • Gemeentes ondersteun hoofsaaklik die tehuise vir bejaardes in hul eie omgewing.
  • Ons tehuise val in die meeste gevalle binne die grense van een of twee van die Kerk se gemeentes, en hulle kan nie alleen in al die noodsaaklike behoeftes voorsien nie.
  • Voor Covid-19 het die meeste tehuise basaars en ander insamelings gehou wat in noodsaaklike, nie-begrote behoeftes voorsien het, en nou kan dit nie meer gebeur nie.

By die meeste van die Kerk se tehuise vir bejaardes is daar verskeie aspekte wat verbeter behoort te word.

Daar is groot dankbaarheid vir die besondere diens wat gelewer word deur die Algemene Diakensvergadering, die NHSV en die OTMT-bestuur. Raak by enige van hierdie instansies of direk by een van die tehuise betrokke en help met bydraes in enige vorm.

Kom ons staan saam uit dankbaarheid in diens van die Here en reik ’n helpende hand uit na ons Kerk se tehuise vir bejaardes. Mag die volgende nooit van ons gesê word nie: Julle het my verwerp toe ek oud geword het, my alleen gelaat toe my kragte ingegee het (Ps 71: 9).

(Prof Bieks Beukes is ’n emerituspredikant van die NHKA)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap