En hier is ons in grendelstaat hoofstuk 2… Elke dag as ek die nuus op die internet soek, sien ek presies hoe lank ons reeds in isolasie is: 23 dae, 12 ure en 52 minute… en so tel ons.
Indien iemand my Oujaarsdagaand sou sê dat ons jaar so gaan uitspeel, sou ek gewonder het waarteen hy sy kop gestamp het. Maar helaas, dit is waar, ons beleef ’n tydperk in die geskiedenis van die wêreld waarop niemand ons kon voorberei nie. En hier is ons nou in hierdie maalstroom en al wat ons kan doen, is om te swem.
En swem ons nie!
Hierdie onverwagse plettervat so van die blinde kant af het ons as gemeentes en Kerk genoop om nuut oor kerkwees te dink.
Ek sou nooit kon raai dat ek mense wat by ’n begrafnis teenwoordig is, moet vra om ’n teenwoordigheidsregister te teken nie, of dat lidmate hul hande moet bespuit en ’n meter en ’n half van mekaar af met maskers en handskoene in die kerk moet sit nie. Wat nog te sê eredienste lewendig op Facebook uitsaai.
Skielik hou ons internetvergaderings waar elkeen in sy of haar eie huis sit en ons die werk soos normaal, as daar nog iets soos normaal is, laat voortgaan.
Die ander kant van hierdie werklikheid – wat eintlik ’n nagmerrie is – is dat gemeentes skielik finansieel onder geweldige groot druk verkeer. Fondsinsamelings kon nie gehou word nie, diakens kon nie deur die wyke gaan nie en deurkollektes bestaan eenvoudig nie.
Verlede Sondag preek ek toe lewendig op Facebook oor hoop, oor die feit dat God ons in die verlede gered het en weer sal red. Ja, dit is nie net die President wat sê dat hierdie tyd sal verbygaan nie. God sê op baie plekke in die Bybel vir ons dat Hy ons sal red. In die preek haal ek twee mense aan, Paul Valery en Jürgen Moltmann.
Ek lees toe eers die aanhaling van Paul Valery wat sou sê dat ons in besonderhede vrees, maar net vaagweg hoop. Ek moet erken, hierdie aanhaling het my nogal geruk, want dit is tog nie waar nie, of is dit? Ek doen toe baie goed voorraadopname van my gedagtes. Vrees, bekommernis, moedeloosheid en al daardie negatiewe gedagtes aan die een kant, en hoop en positiewe gedagtes aan die ander kant. En tot my skande moet ek erken dat hy reg is, ek vrees ook in besonderhede, maar hoop maar so vaagweg.
Dit het my laat wonder hoekom dit so is. Hoekom vrees ek in soveel besonderhede?
Hier in ons dorp begin toe iets gebeur. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het gevra ons moet name instuur van mense wat kos nodig het sodat hulle kan help. Hulle begin toe assesseer en kontroleer, en na ’n week het die mense nog nie kos nie. En tipies van ons dorp, begin mense planne maak, kos bymekaar maak, en siedaar, honderde gesinne kry kos. Ook gesinne wat klein besighede het en skielik nie meer ’n inkomste het nie.
Hoekom hoop ek vaagweg? Ek het begin wonder of dit nie is omdat ek uit my eie oorvloed hoop nie. Daardie mense wat alles verloor, wat honger is, het nie die luukse om vaagweg te hoop nie, hulle hoop is uit nood gebore. Hulle het nie die luukse om in besonderhede dinge te vrees wat hulle nie kan verander nie.
En dit bring my by die tweede aanhaling. Ek lees dat iemand Jürgen Moltmann soos volg aanhaal: Hoop word gebore daar waar ’n mens bo jou eie wanhoop uitstyg deur betrokke te raak by die vreugde en pyn van ander. Hoop groei in kommunikasie met die naaste.
Dalk is dit die probleem: Ons is as gevolg van die inperking verplig om in isolasie te leef, ons raak so vasgevang in ons eie situasie dat ons as’t ware op ons klein eilandjies begin bestaan. Klein mensies in klein wêreldjies…
Dan hoor jy van mense wat planne maak, wat ’n verskil maak. Jy praat met die nuwe superhelde in hul bakkies en jy sien lig in hul oë, want hulle het bo hul eie wanhoop uitgestyg deur betrokke te raak by die nood van ander. Hulle maak planne om kos te neem na waar daar honger is. (Dit gaan egter steeds my verstand te bowe dat ons nie warm etes na honger bejaardes mag neem nie…)
Dit het my laat dink, wat kan ek en jy doen? Watter verskil kan ons maak?
Ek dink daar is baie wat ons kan doen. Dink ’n bietjie, wie is stoksielalleen in jou omgewing? Bel hom! Wie het nie kos nie? Maak ’n plan. Of bid, bid vir iemand wat jy weet deur ’n moeilike tyd gaan.
Toe die inperking begin het, het ek en my kollega, dr Barry van Wyk, besluit om elke oggend ’n kort boodskap vir ons gemeente per WhatsApp uit te stuur. Van die mense het besluit om nie in hul eie wanhoop vasgevang te word nie en dit begin verder stuur. In hierdie stadium bereik ons elke oggend net na 06:00 meer as ’n duisend mense in nege verskillende lande, want ons 300 boodskappe word aangestuur na ander wat dit nodig het. Iets kleins wat ’n groot verskil maak.
Kom ons gryp hierdie tyd aan om anders te dink oor kerkwees. Gryp geleenthede aan, doen dinge anders en raak betrokke by mekaar. Gaan kyk ons na die voorbeeld van die Handelinge-gelowiges, dan is dit juis een van die goed wat hulle anders gemaak het.
Onthou, hoop word gebore daar waar ek en jy bo ons eie wanhoop uitstyg deur betrokke te raak by die vreugde en pyn van ander.
Hou moed, want God sal ons, soos in die verlede, weer red.