My opdrag aan die twee studenteleraars wat ook artikels vir hierdie blad geskryf het, was om met die Kerk te deel hoe studente hul geloof beleef en watter rol die Kerk in die lewe van studente speel.
Ons Kerk, soos alle ander kerke – trouens, soos feitlik almal in hierdie land – beleef toenemend die finansiële druk. Gevolglik is daar van tyd tot tyd vrae oor of die geld en tyd wat die Kerk in die studentegemeentes belê, werklik die moeite werd is.
Aanvanklik wou die redaksie vra wat die studentegemeentes by hul eerstejaarskampe doen. Teen die tyd dat ek van Pretoria tot by my huis gery het, het ek egter genoeg tyd gehad om daaroor te dink. Die gemeentes se werk onder die studente, ons kinders, is nie beperk tot ’n week in hul studentelewe nie; nee, elke dag het hulle ’n steunstelsel binne ‘n geloofsgemeenskap nodig.
As ek maar net terugdink aan my eie studentejare, het van my mooiste herinneringe juis hul geboorte by die studentegemeente gehad. Ja, sou jy kon redeneer, jy was ’n tokkelok, jy móés daar wees. Nie net het ek my vrou by die studentegemeente ontmoet nie, ek het ook by die drie predikante wat in my tyd as studenteleraars gewerk het, baie ondersteuning en leiding gekry.
Toe ek in ’n stadium deur ’n geloofskrisis gegaan het as gevolg van die worsteling om geloof en die wetenskaplike bestudering van die Bybel bymekaar te bring, was dit my studenteleraar wat ure met my gesit het en my deur die stormwaters van twyfel begelei het.
In my jare as predikant was daar al vele gemeentekinders wat aan universiteite en ander tersiêre instellings gaan studeer het. Baie van hierdie kinders het ook maar in die troebel water van die lewe beland. Party het soos so baie ander mense liefdesprobleme ondervind. Net so baie is deur die druk van studies en die vrees vir mislukking vasgespin. Ander het dalk deur ’n geloofskrisis gegaan.
Baie maal beleef die ouers ’n magteloosheid om van die huis af te probeer om hul kinders op hierdie oomblikke by te staan.
Hoe groot was die verligting van almal wie se kinders by ons Kerk se studentegemeentes ingeskakel het! Net om te weet dat daar ’n geloofsgemeenskap by die universiteit is wat as vangnet kan dien en waar medegelowiges en liefdevolle leraars regstaan om hul kinders te ondersteun.
’n Mens besef eers watter groot rol die gemeentes speel wanneer jy iemand probeer bystaan wie se kind nie by die plaaslike gemeente ingeskakel het nie. Waar kry ’n mens hulp, wie kan jy skakel…
Dit is van die allergrootste belang dat ons in die Kerk so lank as wat ons kan alles moet doen om te verseker dat ons studentebearbeiding kan voortgaan. Ek skryf dit nie omdat ek die werksekerheid van kollegas probeer beskerm nie. Nee, ek kan dit skryf omdat ek self gesien en beleef het watter leemte gelaat word wanneer die bediening by ’n tersiêre instelling gestaak word.
In die laat 1990’s was ek voltyds ’n Weermagkapelaan en het ek deeltyds die gemeente Pretoria-Wes bedien. In daardie tyd is die bedieningspunt by wat vandag in die volksmond bekend staan as TUT opgeskort. Vir die gemeente in Pretoria-Wes wat reeds van ’n deeltydse leraar, wat net in die aand en oor naweke beskikbaar was, gebruik moes maak, was bediening by die studente onmoontlik.
Toe ek vroeër vanjaar ’n oproep van ’n ouer kry oor ’n kind wat daar studeer en aanpassingsprobleme ondervind, het ek nie ’n kollega gehad om te bel om as vangnet hierdie kind by te staan nie.
Die Kerk moet nooit die waarde onderskat van hierdie gemeentes en wat hulle in die lewe van ons kinders wat aan universiteite studeer, beteken nie. Ons bedank as ouers en gemeentes die leraars van ons studentegemeentes vir die werk wat julle doen.
(Ds Willem Sauer is redakteur van Die Hervormer, leraar in Gemeente Waterberg en ’n ouer)