Ek het 24 jaar gelede, in 1997, ingeskryf aan die Universiteit van Pretoria, Fakulteit Teologie, Afdeling A om teologie te studeer met die doel om ’n predikant van die NHKA te word. Vandag, 24 jaar later, is ek ’n predikant van die NHKA wat reeds 18 jaar in die Kerk diens doen.

Wanneer ek terugkyk op my studentejare, die teologiese opleiding, is dit met dankbaarheid – dankbaarheid vir die vormende invloed wat dit op my gehad het. Die vormende invloed van die teologiese opleiding het my geestelik verryk.

Die jaar 1997 waarin ek ingeskryf het, was die eerste jaar waarin die tradisionele BA BD-kursus nie meer aangebied is nie. Ons is die eerste en die laaste groep studente van ons Kerk wat ons studies voltooi het met die grade BA (Teologie), BA (Hons) in Teologiese Studies, en MDiv. Die studente wat na my afgestudeer het, het die grade BTh en MDiv verwerf.

Dit was ’n tyd van verandering in die Fakulteit Teologie. Die jaar 2000 was die begin van ’n nuwe era in teologiese opleiding. Die twee afdelings, Afdeling A (Hervormde Kerk) en Afdeling B (NG Kerk), waar die Hervormde Kerk en die NG Kerk se studente afsonderlik onderrig is, het een Fakulteit Teologie geword.

Die verandering het meegebring dat Hervormde studente by NG dosente, en NG studente by Hervormde dosente klas loop. Dit is vandag iets wat nie meer vreemd is nie, maar in daardie tyd van die geskiedenis van teologiese opleiding van ons Kerk was dit ’n groot verandering. Dit het my wêreld vergroot.

Ek het beleef hoe hierdie verandering en blootstelling my gehelp het om te verstaan hoekom ek as student van die Hervormde Kerk dink soos ek dink oor die teologie, en dat daar ook ander teologiese perspektiewe is wat waardevol is om te hoor op hierdie teologiese geloofsreis.

Wanneer ek nou terugkyk op die verandering in die opleiding, besef ek in watter mate dit my voorberei het vir die wêreld waarin ek my tans bevind, ’n wêreld waarin samewerking met kollegas van ander kerke baie belangrik geword het. ’n Wêreld wat as gevolg van die sosiale media en die internet voortdurend aan die verander is.

Die verandering in kurrikulum was nie sonder groeipyne nie. Daar moes gereël word vir hoe en waar kerkeie onderrig sou plaasvind. Dit het gelei tot die stigting van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK). My jaargroep was waarskynlik die eerste groep studente wat by die HTK klas geloop het en ons studies voltooi het met ’n Diploma in Kerklike Bediening.

Die verandering in kurrikulum het die fokus ook laat val op die praktyk. Dit het gefokus op hoe om teologiese kennis in die praktyk, in gemeentes, toe te pas. Dit het meegebring dat daar binne die akademiese program ook tyd ingeruim moes word om saam met maatskaplike werkers en predikante in gemeentes te werk. Ek onthou dat ons ook ’n keer of twee by die Sinodale Dienssentrum gaan draai het om daar onderrig te ontvang oor die finansiële bestuur van gemeentes.

In my tyd as student het ek ervaar hoe die feit dat ons opleiding geskied aan die Universiteit van Pretoria, ook die nodige kontak bring met die teologie van die wêreld. En dat ons Kerk, al is ons in die konteks van Suid-Afrika ’n klein kerk, ook ’n teologiese stem het waarna geluister word in die buiteland.

My pad met die opleiding by die Fakulteit Teologie het nie geëindig in 2002 nadat ek my studies voltooi het om predikant te word nie. Ek het verder studeer en ook die grade MTh (2007) en PhD (2013) behaal. Die verbintenis aan die Universiteit van Pretoria het dit moontlik gemaak om tydens my doktorale studies tyd in Engeland deur te bring, waar ek die geleentheid gehad het om klasse by te woon aan die Universiteit van Chester.

My ervaring van verandering in die teologiese opleiding aan die Universiteit van Pretoria is dat dit nie iets is wat be-dreigend was vir “Hervormde identiteit” nie, maar dat dit bygedra het tot my geestelike groei. Dit het my verstaan van wat dit beteken om ’n predikant van die NHKA te wees, verruim en versterk.

Vandag is ek steeds betrokke by die teologiese opleiding aan die Fakulteit Teologie en Religie by UP, in die sin dat ek van tyd tot tyd meester- en doktorale studente se skripsies eksamineer. Ek is dankbaar vir die kwaliteit opleiding wat die studente van ons Kerk aan die Universiteit ontvang, wat hulle in staat stel om binne ’n veranderende wêreld en kerk predikante te wees.

(Dr Annelie Botha is leraar in gemeentes Mafeking en Zeerust)