Hoeveel keer hoor ’n mens nie in gesprekke met ouer mense hoe goed die ou tye, die verlede was nie… Partymaal vertel hulle van tye waarvan ek, ’n 55-jarige, ook nog deel was, wat ek ook meegemaak en beleef het. Soms wonder ek of ek nie op daardie spesifieke tydstip dalk deur Marsbewoners vir ’n wyle van die aarde verwyder was en ’n stukkie geskiedenis misgeloop het nie, omdat my geheue oor sekere goed in die verlede nie altyd so positief was as dié van die verteller nie!

Een van die sake wat my deesdae hierdie belewenis gee, is teologiese opleiding. Hoeveel keer hoor ’n mens nie hoe wonderlik die opleiding in die ou dae was en hoe chaoties alles vandag is nie? So asof die vertellers van die storie eerstehandse kennis het van sowel die verlede as die hede. Asof hulle die finale woord moet spreek oor hierdie belangrike saak.

Die verlede, met sy skeiding tussen die kerke en soms agterdog jeens mekaar, moes tog alles net beter gewees het as nou. Want sien, die twee kerke, die Nederduitsch Hervormde Kerk en die Nederduitse Gereformeerde Kerk, het elk hul eie studente binne hul eie fakulteit en kerklike etos aan die Universiteit van Pretoria (UP) opgelei. Ons het nooit getwyfel nie dat die NG Kerk wat op die eerste vloer klasgedraf het en spottenderwys nader aan die hemel was, die vaste fondament van die Hervormers op die grondvloer nodig gehad het.

So is ons ook maar deur dosente met, wil ek glo, goeie bedoelings gewys op die feit dat ons teologie so suiwer en wonderlik is, so al asof daar meestal net Hervormers in die hemel behoort te wees.

Toe het God ander planne met my. Na universiteit kry ek ’n aanstelling as staandemagkapelaan in die Weermag. Gelukkig vir die Weermag, so het ek gedink, is daar nou nog ’n Hervormer by om die fondament te lê en seker te maak dat die teologie suiwer is, soos my dosente my vertel het.

En toe gebeur dit. My eerste erediens as kapelaan was vir ’n saal vol diensvrywilligers. Feitlik almal van die Oos-Kaap en niemand Afrikaans magtig nie. Daar staan ek, met my suiwer Hervormde teologie en Hervormde erediens met Psalms en Gesange, voor ’n klomp Xhosa-gelowiges wat Engels praat. Dit kan tog nie. Hierop was ek nie voorbereid nie. Gelowiges van ander kerke, ander volke, swart mense…

So is my verwysingsraamwerk uitgedaag, en het ek gewens ek het meer van ander mense se belewenis van geloof en hul verstaan van teologie begryp. Ek vertel dit om u iets te laat verstaan van wat ek vandag wil aanraak.

Vandag word ons studente tussen studente van ’n verskeidenheid ander kerke opgelei. Lees ons die artikels van dr Annelie Botha en ds Marina Kok in hierdie uitgawe, word hulle deur ander tradisies en verstaan van die teologie gekonfronteer. Nou wonder ek: Is dit noodwendig sleg?

Dit is reeds bekend in die Kerk dat ons geen studente in die eerste en derde jaar op universiteit het nie. Dat gemeentedominees en ouers jong mense moeiliker en moeiliker oortuig om teologie te gaan studeer. Verder hoor ons meer en meer gesprekke onder bome van mense wat wonder of die opleiding aan die Universiteit van Pretoria nog die beste vir ons studente is.

In die artikels van prof Wim Dreyer, dr Annelie Botha en ds Marina Kok het ons probeer om u iets te laat verstaan van die geskiedenis van ons opleiding aan UP en hoe dit deur die tyd verander het. Trouens, daar is stemme wat sê dat ons by die volgende Algemene Kerkvergadering oor ons verbintenis met UP ’n besluit moet neem.

Ek self het redelik voor in die koor geskree dat ons drasties anders oor teologiese opleiding moet dink en drastiese veranderings moet maak. Ek was oortuig dat dr Botha en ds Kok my negatiewe gevoel oor die huidige model en plek van opleiding van ons predikante sou bevestig. Hoe groot die verbasing, die skok, dat hulle anders kyk na die huidige manier van opleiding. Dat ’n mens in hul woorde weer bevestiging kry dat die verlede nie noodwendig altyd beter is nie. Dat ons eerder die hoop en geleenthede in die hede moet soek.

My volgende stuk bekering was tydens ’n gesprek met ’n lid van die Kuratorium oor die feit dat my oplossings, as ek dit so kan noem, wat ek geglo het alles gaan regmaak, nie so eenvoudig is nie. Dat ons dringend debat oor hierdie saak gaan moet voer, is ’n feit. Daar is reeds ’n bosberaad oor die saak van teologiese opleiding gehou. Ons begin reeds daaroor in Blitspos berig en sal ook artikels in Die Hervormer daaroor dra.

My pleitroep is dat ons rustig sal wees in ons bespreking. Dat ons alles wat ons menslik kan doen in berekening sal bring voordat besluite geneem word. En die belangrikste, dat ons as Kerk die Heer van die kerk altyd in hierdie saak vóór die kerk van die Heer sal stel.

Mag die hemelse Vader ons as Kerk die wysheid gee om die toekoms van ons teologiese opleiding met net soveel sorg en geloof te beplan as wat die opleiding tot op hede bedryf is.

Ek hoop dat iemand êrens in die toekoms sal kan sê dat die besluite wat ons in ons tyd geneem het, werklik gemaak het dat die toekoms net so goed soos die verlede was, dat daar steeds goed opgeleide, gelowige, hardwerkende predikante vir die Kerk opgelei word.