Sensuur? Vir alle praktiese doeleindes bestaan sensuur nog net om predikante te tug, en dan ook meestal slegs oor lewenskwessies, selde oor dwaalleer.

Wanneer ampsdraers tog getugtig word – as tugtiging immers is wat met sensuur bedoel word – is baie daaroor gegrief. Hoe ver het ons nie gekom nie, so voel dit, sedert die kerklike tug as instrument van dissipline, naas suiwer leer en sakramente, ’n sleutel van die ware kerk was? Of is hierdie drietal kenmerke van ware kerkwees regtig agtergehaal?

Die NHKA word deur kritici verwyt oor ’n sogenaamde nuutgevonde empatiese inklusiwiteit. Nuut, want die Kerk was eens glo seker van haarself (rigied, sou ander weer sê); empaties, want die Kerk het blykbaar min begrip gehad vir gebrokenheid (met weinig selfinsig, sê die ander kant); inklusief (eng, nè?), want die Kerk sou eens uitgesluit en begrens het waar die hekke nou wawyd oop staan. Talle verwelkom die gasvryheid. Ander verwyt oor die verlies aan tande. Waarheid, sê hulle, bly in die slag.

Daar kan weinig twyfel bestaan dat tugtiging deur die Kerk nie verwelkom word nie. Dit maak nie meer saak met hoeveel deernis die Kerk pleit om die primaat van die wet van God, goeie orde in die gemeente en waardigheid van die amp nie. Vir niemand regverdig dit meer die tug nie, om van sensuur nie eens te praat nie. Om opsig te versuiker deur dit te beskryf as pastorale bewoënheid en eerlike soeke na uitweë die sonde uit, is nie meer gangbare praktyk nie. En wee die kerk as dit uitlek dat dit wel nog gebeur.

Miskien is al plek vanwaar opsig, en selfs oordeel, nog geregverdig voel, die kansel. Vandaar kan ’n predikant nog stem dik maak oor al die boosheid in die wêreld en die onheil in die kerk. Daar praat niemand terug nie. Die dominee moet net nie waag om die daad by die woord te wil voeg nie. Maar as die dominee self skeeftrap, is die vet in die vuur.

’n Millenniër het te hore gekom van iewers waar dit gebeur, en my aan die strot kom gryp: Dit is hoekom ons nie meer kerk toe kom nie, sê sy. Ek gooi nog wal: God se wet beteken tog nog iets, dan nie? Jy mag nie egbreuk pleeg nie, sê sy, kom uit ’n tyd toe vroue in harems aangehou is, toe buite-egtelike kinders ’n bedreiging vir stamgrond en patriargie ingehou het, toe vroue sonder mans geen sekuriteit gehad het nie. Waarom die stomme mense in hul lyding net nog meer seermaak? Bring dit die egpaar weer bymekaar? Nee? Sulke verstoktheid! So ’n volslae gebrek aan insig en begrip! Vandaar die kerk se vasgelooptheid. Bloedneus koes ek: Wat dan van moord en diefstal? Dit staan tog ook in die tien gebooie! Maar ek het haar reeds verloor.

Die pendulum het ver geswaai.

Ek vind by Jesus rus as Hy selfs straatvroue en tollenaars ontvang. En ek het onrus oor hoe dié einste Lieftallige, met ’n sweep onder mense inklim en hul basaartafels omgooi. Hy het dit tog in beide gevalle reg?

Die Kerk het verander, kla ’n kerkraad by my. Die Kerk is nie konsekwent nie, hou self nie eens by die “goeie orde” wat hulle soms self afdwing nie. Ek hoor die verwyt agter die soms, want hulle bedoel: en soms ook nie.

Nederlandse vriende lag in die mou as ek Afrikaans praat: Waarvandaan al die verkleining? wil hulle weet. Ek dink ons wil dinge sagkens sê. Ons probeer respekvol wees, waag ek ’n antwoord, maar ek is op die agtervoet. Dit is so dat ons Afrikaanses eufemisties praat as dit by ernstige sake kom, en tug en sensuur is nie meer woorde wat ons maklik gebruik nie.

Ek is bevrees dat, as jy hier begin lees het in die verwagting jy gaan ’n antwoord van ’n dominee kry wat sy storie ken, en jou kant gaan kies, het jy dit toe mis.

Ek is steeds oortuig die waarheid en die leuen kan nie onder een dak saamleef nie. 

Ek is diep besorg oor sonde en die pyn wat dit vir sondaars aanbring. (Hier skryf een van hulle, mos, uit ryke ervaring.)

Dominees het nie die luukse van draadsittery nie. Laat my nou maar hierdie een klip in die bos waag, want die millenniër spook by my: As die Kerk moet kies, is versoening my agenda, en genade my instrument, God die Vader van Jesus Christus, oor sonde gekruisig en in heerlikheid opgewek, my Here.

Slap, tandlose ou man, hoor ek jou dink? Die volle waarheid moet geld!

Ek weet! Dit is so, my voorlopige antwoord is dalk lam en lui, dwalend selfs? Maar dit is al hoe ek snags geslaap kry, terwyl die Kerk deur my vingers glip.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)