Juniemaand is Pinkstermaand. Juniemaand is ook tradisioneel in ons geskiedenis die maand waarin ons meer aandag aan sending en evangelie gegee het.
Die rede? Dr Piet van Staden stel dit mooi in die voorbladartikel dat die uitstorting van die Heilige Gees die moment in die geskiedenis was toe die kerk begin het – toe God se Gees van mense besit geneem en hulle toegerus het om die blye boodskap van verlossing te verstaan, te glo en uit te dra in die wêreld.
Soms dink ek dat hierdie opdrag in die verlede in ons land baie makliker was. Oral was groot gemeentes wat goed gefunksioneer het. Die bevolkingsaanwas onder die Afrikaners was goed en ons het in ’n redelike mate stabiliteit in die Kerk beleef. Dinge het egter verander. Die bevolkingsaanwas het verminder, baie Afrikaners het geëmigreer, baie mense het die Kerk verlaat, en skielik lyk die prentjie anders.
Ouer lidmate praat nog met nostalgie van toe daar meer as ’n duisend lidmate in die gemeente was en daar elke jaar meer as 20 kinders belydenis van geloof afgelê het. Hierdie prentjie lyk nou anders. Nie alleen in die kerk nie – gaan kyk maar ’n slag weer hoe die leerlinggetalle in baie Afrikaanse skole oor dieselfde tydperk verminder het, veral op die platteland.
In hierdie werklikheid het die Kerk voor ’n spreekwoordelike kruispad gekom, want gemeentes krimp en krimp en is dikwels nie meer lewensvatbaar nie. Veral gemeentes op die platteland, maar ook voorstedelike gemeentes, word hierdeur geraak. Op plattelandse dorpe is daar twee of meer denominasies, maar dikwels tussen hulle almal saam nie genoeg lidmate om ’n effektiewe bediening te bekostig nie. Samewerking oor kerkgrense heen kan in sulke dorpies die voortgang van die verkondiging van die evangelie verseker.
Die kerkleiers het hierdie feit al ’n tyd terug raakgesien en begin om iets daaromtrent te doen. Reeds in 2010 is ’n bilaterale ooreenkoms tussen ons Kerk en die NG Kerk aangegaan. U kan meer daarvan lees op bladsy 4. In kort is een van die sake waarop hierdie ooreenkoms neerkom dat predikante tussen die kerke beroep kan word. In dr Wouter van Wyk se artikel op bladsy 3 word meer oor hierdie samewerking uiteengesit.
Die redaksie het egter besluit dat ons nie net teoreties oor die saak wil berig nie, maar dat ons predikante wat reeds saam met of in ander kerkgenootskappe werk, wil vra om hul ervarings met ons te deel. Op bladsye 4 en 5 kan u van die verhale lees van dominees van ons Kerk wat in ander kerke werk. Stories van hoop wat ’n mens sommer baie moed gee vir die toekoms. Stories van nuwe moontlikhede. Maar ook stories van predikante wat radikale aanpassings moes maak om die evangelie steeds in klein plekkies te kan verkondig.
Net so berig dr Van Wyk ook oor dominees van ander kerke wat Hervormde dominees geword het. Dan is daar ook die tientalle voormalige Hervormde dominees wat in gemeentes in ander lande werk. Ek self kyk gereeld na dagstukkies van ’n voormalige kollega wat in sy swaar, tipies Afrikaner-aksent die evangelie ver anderkant die water in Engels verkondig.
En hier in Pinkstermaand laat dit ’n mens weer ’n bietjie anders kyk na ons opdrag om die evangelie te verkondig. Want ons sien meer en meer dat kerkgrense nie meer in die pad staan van die verkondiging nie. Ons sien meer en meer hoe gelowiges besef dat die verskille van die verlede nie die voortbestaan van God se kerk moet terughou nie. Ek haal my spreekwoordelike hoed af vir dominees wat genoeg waagmoed het om nuwe moontlikhede te ontgin en selfs in ander kerke te werk om die evangelie te verkondig.
Ek sluit af met my gunsteling-Pinksterlied, Gesang 436, wat iets van die gees van hierdie uitgawe verwoord.
Herskep, o Gees, laat leef, o Gees,
laat kom die koninkryk met mag,
laat mense tot bekering kom,
oorreed deur u oortuigingskrag.
O Gees, verlig ons, laat ons vind
die waarheid wat u Woord ons leer –
dat ons met God en met mekaar
in Gees en liefde kan verkeer.
Herskep, o Gees, laat ons herleef,
maak wakker elkeen in u kerk.
Laat ons uit God se liefde leef,
en dankbaar waak en bid en werk.