Onlangs is daar oor die radio vir gelowige mense se menings gevra oor die stand van sake in die Midde-Ooste, en spesifiek oor hul siening van Israel. Talle mense het geantwoord dat hul dominees die hele krisis in die Midde-Ooste ignoreer asof dit nie bestaan nie. Ander het gesê dat op hulle neergesien word omdat hulle dit nie oor hul harte kan kry om die sogenaamde uitverkore volk van God – bedoelende nou die huidige staat Israel – te ondersteun nie. Kom ons stel dit vandag reg: Kom ons sê wat ons dink van die oorlog teen Gasa, die aanvalle op Iran en die bestaan van die hedendaagse staat Israel.
Maar om te verhinder dat ons abstrak dink, filosofies raak of politiek praat, kom ons praat oor konflik en vrede, oor vredemakers en versoening.
Wat moet ons nie doen nie?
- Dit is baie maklik om ’n sondebok te kies en as ’n swartskaap te brandmerk. Maklik is nie wat God doen nie.
- Swartsmeerdery is ook maklik, net so selfregverdiging. Daar is geen sondelose onskuldiges op aarde nie. Almal sondig. Praat die waarheid oor almal. Wees ewewigtig. Veral as die mense van Iran en Gasa radikaal anders glo as ek en jy. Israel glo ook nie wat ek en jy glo nie.
- Kantkiesery is nie profeties nie. Profeties is wat ware profete sê God wil hê moet gebeur. En dit is nie eers noodwendig wat die profeet self sou wou sien afspeel nie. Maar God het die laaste woord.
- Die Bybel is nie gister geskryf nie. Die Bybel is nie sonder interpretasie sommerso op vandag van toepassing nie. Oor die Bybel moet jy dink voor jy praat. Nie God of die Bybel is maklik om te verstaan nie. Beide praat teen ons instinkte en geneigdheid in.
Oor die staat en volk Israel net die volgende: Hulle is in die Bybel God se eie uitverkore volk. God het daarmee ’n doel gehad: Om Godself aan die wêreld te openbaar sodat die ganse mensdom, al wat ’n nasie is – ons ook! – die een ware God, dié God wat Hom aan Abraham, Isak en Jakob (later genoem Israel) verbind het, sou kom aanbid. As jy daarvan wou aflei dat dit altyd met daardie Israel net goed sou gaan, maak jy ’n groot fout. Daar is ontelbare kere in die Ou Testament wanneer God besluit om sy verbintenis met Israel op te skort. Of, indien nie so drasties nie, hulle met die roede by te kom want hulle was skandelik ongehoorsaam en soms selfs so goddeloos soos enige ander volk op aarde. Israel is ’n voorbeeld vir die nasies, maar nie ’n voorbeeld van voorbeeldigheid nie. Israel word die toonbeeld van God se liefde vir sondaars en van God se woede oor volhardende ongehoorsaamheid. By God kry jy baie seën, en by dieselfde God kry jy baie seer.
Israel self het dit al verkeerd verstaan, en baie van ons maak steeds dieselfde fout om aan Israel te dink as vir ewig in God se goeie boekies, ongeag hul optrede. Inteendeel, die dag as Israel vir God ’n verleentheid word, gaan hulle dit meer as enige ander mens berou. God laat nie met Hom mors nie. En as hulle nou nog in God se vertoonkas stelling wil inneem, moet hulle besef dat hulle maar bra breekbaar is, net soos my ouma se fyn porselein.
Ek hoor God in die Bybel sê Hy sal Israel nooit heeltemal uitroei nie, al was daar vir 2000 jaar geen grondwetlike staat met dié naam nie. Dié nasie het dit staatloos oorleef, soms ook maar net-net en hulle is baie onlangs in 1948 (14 Mei van daardie jaar) eers weer in ’n staatkundige sin onafhanklike en volwaardige staanplek tussen die nasies gegee. Wel half en half. Dit was eindtydgebeure!
Sedertdien het hulle hulle nie juis godvresend gedra nie. Die moderne geskiedenis van die huidige staat Israel is alles behalwe maanskyn en rose.
Geliefd is Israeli’s ook nie. Maar dít verras nie, want ons almal is van nature geneig om hatig teenoor ander te wees. Mense haat veral God se witbroodjies, as dit is wat hulle wil voorgee om te wees. Hul gedrag help nie juis om ons gevoelens te paai nie. Hulle tree meerwaardig op, is baasspelerig en gooi hul gewig rond. Hulle glo dat die wêreld hulle kwansuis iets skuld. Só word wyd oor Israel gedink.
Met dié is nie almal gediend met selfs net die blote bestaan van die staat Israel en sy mense nie. Hulle word met ’n wrewelrige haat gehaat sodat selfs terreur teen hulle gemik, goedgepraat word.
Is die Midde-Ooste, daar waar Israeli’s nou ’n staat van hulle eie het, ’n Tuin van Eden, ’n paradys met mooi onskuldige mense wat niks weet van appels eet nie? Alles behalwe. Dit is juis daar waar die verbode vrugte vandaan kom. Ek sal nie soontoe trek nie, al bedreig volksmoord ons hier. Dit is juis volksmoord wat die Israeli’s soontoe laat koers kies het, van die vet in vuur, so voel dit. Want die mense daar is op die oog af onrehabiliteerbaar wreedaardig en oorlogsugtig. Hulle gun jou nie eens die basiese reg op bestaan nie.
Die probleem met die Midde-Ooste myns insiens is dat dit nie meer moontlik is om agter te kom wie se skuld hierdie debakel is nie. Toeka het ek gou geleer dat die grootste fout wat ek kon maak as ek op my kinders afgekom het wat aan’t baklei is, was om te probeer agterkom wie nou eintlik die geveg begin het en ’n afranseling verdien. Vrede, het ek geleer, staan maar net op wat die Bybel ook sê: vergifnis. Vergifnis bestaan uit louter genade. Genade is offerbereid. Vredemakers ignoreer nie die pyn van verlies en verledes nie, maar probeer dit ook nie ontrafel deur sogenaamd waarheids- en versoeningsgewys wraakgierig skuldig te bevind of ligtelik vry te spreek nie. Dan bly die sonde net spook.
Nee, Israel is nie voor God meer bevoorreg as die res van ons nie al is ons Messias ook Joods en Jesus Christus die Koning op die Dawidstroon. Ons het almal God se eie geword. God noem ons sy kinders en ledemate van sy liggaam, aldus Jesus Christus. In óns woon die Heilige Gees. Christengelowige Israeli’s weeg ook ’n ons of wat in ons pond. Maar niks wat ek hier gesê het kan daartoe herlei word dat God Israeliete vergeet, of Israel afgeskryf het nie. Ons en Israel is ’n én-én, nie ’n óf-óf nie.
Ignoreer ons die Midde-Ooste? Ek hoop van harte nie so nie – God se kinders woon ook dáár. Ons almal se veiligheid het buitendien belang by vrede.
Is dit vir gelowiges ’n verleentheid dat mense wat God ken van beter te behoort weet as om kwistig met die dood om te gaan? Beslis! En is dit skreiend dat mense mekaar met terreur afmaai of met oorlog uitroei? Sonder twyfel. So eer jy nie vir God nie.
Minag ons mense wat klagtes oor Israel het? Asseblief tog nie! Sulke mense herinner ons dat ons eie gewetes aandag nodig het. Maar lekker om te hoor, is dít natuurlik ook nie! Wees dus maar verdraagsaam as jy voel ons is nie verontwaardig genoeg nie. Ons vind dit soms maar bra moeilik, weet jy, om gedink te kry soos God goed vind. Maar moenie ten alle koste ophou om ons neuse daarin te vryf nie. Hoe anders gaan ons mekaar én vir God hoor?
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)
Met alle eerbied wil ek die volgende kommentaar lewer op die bogenoemde skrywe.
Ek vind dit moeilik om te verstaan dat Israel uitgemaak word as verwaand en oorlogsugtig, gesien uit die oogpunt van historiese en hedendaagse gebeure.
Vir ‘n nasie om terug te sit en wag dat ‘n doodskultus hulle voor die voet uitmoor, is ongehoord en verregaande. Elkeen van Israel se oorloë was die gevolg van herhaalde aanvalle deur die kultus wat niks anders wou hê as die totale uitwissing van die Jode nie.
Dit word nie bespreek dat daar in die Quran herhaaldelik gevra (/ beveel) word vir die uitwissing van die Jode nie.
Die Quran wettig ook ‘n hele klomp ander goed teen Jode, Christene, en ander nie-Moslemgelowe wat indruis teen ons Christelike beginsels, onder andere verkragting en pedofiele gedrag. Muhammad het self “getrou” met Aisha toe sy maar 6 jaar oud was.
Om Israel te probeer skets as ‘n oorlogsugtige nasie is een van die grootste foute wat ons kan maak. Die Joodse geloof en geskiedenis is die basis van die Christendom. As die basis uitgewis word, is dit soveel makliker om die Christendom volgende uit te wis.
Daar moet veel eerder aandag gegee word aan die gevare wat die Moslemkultus vir ons Christene inhou. Hoe dit in ons alledaagse lewe inkruip en ons stadig soos die padda in die pot gewoond maak om gekook te word.