Nee, ’n appèl sal nie die NHKA help om eenheid te koester en te bewaar nie. Die eenheid van die NHKA, van die kerk en liggaam van Christus wat die NHKA insluit, word nie gekonstitueer deur en berus ook nie op uitsprake van geregshowe nie. Die liggaam van Christus is ’n geloofswaarheid en ’n teologiese werklikheid.
Dit is grondliggend dat die kerk van Jesus Christus een is. Daar is net een liggaam van Christus, een bruid, een huishouding van die Vader, een tempel van die Heilige Gees. Te midde (of ten spyte?) van hierdie werklikheid, is die wyse waarop die liggaam van Christus in die wêreld na vore kom etlike diverse denominasies, en organisatoriese eenheid is die ideaal. Ons glo die eenheid moet vergestalt word in bande van geloof en liefde wat geen grense het nie, en oor institute heen strek. Natuurlik kan en moet eenheid ook organisatories blyk, en by verskeurdheid berus ons nie.
Net so is dit gegewe dat halsstarrige weerstand teen eenheid, en daarmee saam skeurmaking, afskeiding en verkettering, erge sonde is. Dit is nie sommer onbenullig nie: Die geloofsgemeenskap is tot in gesinsverband verwond. Die litigasieproses is self ook al pynlike verskeurdheid. Om litigasie te betrek om eenheid af te dwing, is nie versoenend nie en dien die vrede nie. Met die skeuring van die kerk is Christus se liggaam verskeur, dog daarteen het die gereg net mooi niks, en daarvóór ook ewe min.
Gemeentes van die Kerk wat, na wat gerug word, hulle deur die heersende hofuitspraak sou laat aanspoor om die kerkverband te verlaat, want nou sou hulle hul eiendomme kon saamvat, sou selfs voor hul formele vertrek uit die kerkverband nie meer daarop kon aanspraak maak om deel van die Kerk te wees nie: Hulle glo alreeds nie meer saam met en soos die Kerk nie. Dan is dit dalk beter dat diesulkes hul vertrek neem, nie om die kerk verder te verskeur nie, maar juis om die kerk te suiwer.
Hierdie stryd om wat wesenlik van die kerk van Christus is, voer jy nie in die howe van die wêreld nie.
Waarvan die NHKA wel deeglik moet kennis neem, is dat die Kerkorde nie met wetgewing strook nie. Die vraag ontstaan of die Kerk in haar interne ordening haar meer moet steur aan wat teologies wesenlik is, of aan die konteks waarin ons kerk moet wees, aan die Bybel of aan wette van die staat? (Dit was die motivering vir “Artikel III”; moenie dat ons weer dieselfde fout maak nie.) Natuurlik moet ons ons wel deeglik steur aan die staat se regulering van indiensnemingskontrakte, wette oor eiendomsbesit, die vereiste nakoming van fidusiêre verantwoordelikheid, veiligheidswetgewing en verantwoording aan menseregte. Maar dit is tog alles moontlik sonder om oor die wese van die kerk ’n woord te rep, uitgesonder dat onderdanigheid aan die owerheid Bybels al goeie praktyk is.
Bowendien, roeping kry jy nie in ’n indiensnemingskontrak afgedwing nie, liefde ook nie met menseregte nie, die geloof dat die wêreld en alles daarin aan God behoort, ook nie met fidusiêre verantwoordelikheid nie. Die Kerkorde moet teologies besin oor hoe die Kerk intern bestuur word. Hoe ons wil hê dat geregshowe oor die Kerk moet dink, hoort in ’n tweede dokument naas die Kerkorde tuis, ’n konstitusie waarin die Kerk haarself so goed moontlik in regsterme aan die wêreld verduidelik en haar aan die regstelsel onderwerp.
Volg tog maar net in die voetspore van Christus, getuig vroeg en laat van die koninkryk van God. As dit afskeiding nie keer nie, is wat afskeur nie kerk nie, wat agterbly wel. Dit verseker jy deur te doen wat ons opdrag as Kerk is.
Omsendskrywe 17/2022 se bewoording in dié verband lui soos volg: Intussen gaan die Hervormde Kerk voort om kerk van Jesus Christus te wees. Die Kommissie roep elke lidmaat op om in toewyding aan die Here te leef, om in die gemeente en gemeenskap diensbaar te wees, om die gemeenskap van die gelowiges op te bou, en om onverkort te getuig van die betekenis wat die sterwe en opstanding van Jesus Christus vir ons inhou.
Hieroor is ek dit roerend met julle eens, met die uitsondering van net een enkele woord: Verloor “Intussen”. “Die NHKA wil voluit kerk van Jesus Christus wees en tegelyk eenheid koester en bewaar.”
Ja!
Maar nee, dit sit nie in die broek van ’n geslaagde appèl om die ongebreidelde gees van fragmentasie en independentisme te demp, en enigiemand wat dalk nog sou oorweeg om ook van die NHKA weg te breek, te noop om eers weer te besin nie.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)
Wat gemaak as die wet, ja die trogie van die wetlike orde, so gefragmenteer is dat dit self in onvermoë is en daardeur selektief geword en in wetteloosheid verval het, sodat die regstelsel en daarmee die wet self wetteloos geword het?
Die Rots, die Substrata, is as’t ware onder die landshuis uitgeforseer deur menseregtewetgewing. Die oppergesag van die wet is nie meer God nie, maar die mens. Die landshuis is dus gebou op menseregte dryfsand. Ons sien die effek daarvan nie net in menseregte uitsprake nie, maar in alle grense, heinings wat verwyder is. Effektief ‘n skoongeveede tabula rasa waarop enigiets gepostuleer, gebou, geskrywe, besluit en uitspraak gegee kan word. Relatiwiteit word die maatstaf, die skietlood. Ons sien dit in die verbrokkeling, insinking, verkrummeling en ineenstorting van die landshuis, haar berge, institusies, haar onderrig, haar instandhouding en dienste. Hierdie ineenstorting suurdeeg deur tot in denominasionele kerke, gemeenskappe, gesinne.
Verwydering van die Rots, die Substrata van God, het die menseregte en daarmee die sand van relatiwiteit tot gode verhef.
Die wetgewende gesag het deur wetgewing ons laat sondig, ons van God laat vergeet omdat hul die Rots verwyder het en ons op die dryfsand van keuses laat loop het. Om God te vergeet, beteken dat menseregte om te kies oor geld, goed, geboue meer gewig dra as God se wil tot eenheid in Woord en Waarheid.
Hierdie wetgewing het dus die tweesnydende swaard geword wat mense kerke, denominasies, geloofsoortuigings van mekaar skei.
Die vraag vir my is: Wie hou die swaard?
Is dit God wat die skape van die bokke skei?
Is dit die mens wat gid speel en menseregte keuses maak in eie belang?
Is dit die wetgewende gesag wat skeiding tussen ons en ons geloof wil bring ten einde ons aan afgeforseerde rewolusionêre transformasie bloot te stel in ‘n stille oorlog, sodat ons deur skeiding, smart, rou swaarkry, verarming, honger, werkloosheid God vergeet omdat ons ‘n geweldige stryd om oorlewing veg? Ons noop op die daaglikse brood, alles om ons te assimmileer, te onderwerp, en onder juk wil plaas, ons inspan?
Of helaas het Satan dit reggekry om ons te laat glo dat God nie bestaan nie, ons laat glo in ‘n nuwe spirituele orde van menseaanbidding?
Dan is die uitval, die afval, die verbreking, die krummeling nie vreemd nie, ons neem dit oral om ons waar in die kosmos, die natuur en binne menseharte.
Nee, nie na die wet,
Maar na God in Christus Jesus Naam, na God op ons knieë.
2 Kronieke 7
Vir seker moet ons nie op regsuitsprake fokus insoverre dit oor geloofseenheid in die NHKA gaan nie. Laat die wat die NHKA beskuldig van kettery maar gaan. Wat egter onaanvaarbaar is, en waar die NHKA onsself op wetstoepassing moet beroep, is die vermetelheid van wegbrekers om NHKA eindomme saam met hulle te neem onder die slinkse toepassing van regstegniese aspekte.