Lees: Lukas 24: 13-35
Die afgelope paar weke het dit toenemend moeiliker geword om van al die nuus oor die oorloë, ekonomiese probleme en allerhande ander ontstellende gebeure te ontsnap. Oral hoor ons mense vra: Waar is God in dit alles? Dit voel asof die wêreld al hoe donkerder word en dit al hoe moeiliker word om sy teenwoordigheid raak te sien.
In Lukas 24 ontmoet ons die Emmausgangers – twee dissipels op pad na ’n klein dorpie met die naam Emmaus. Hulle loop met ’n swaar gemoed omdat hulle hoop op ’n Messias, wat aardse mag sou kom vestig, deur die kruis vernietig is. Hulle bely: Ons het so gehoop…, maar hul hartseer word vererger deur ’n dieper probleem – hul geestelike blindheid. Alhoewel hulle fisies naby aan Jesus gestap het, het hul eie voorveronderstellings van die Here se optrede hulle verhoed om Jesus te herken.
Hierdie manne het geglo, maar hulle het nie verstaan wat God besig was om te doen nie. Die kruis het vir hulle soos die einde van alles gelyk. Hulle soek God in oorwinning en in mag – in plekke waar hulle ’n groot en magtige koning sou verwag. En tog het Hy hom in die lyding, in die donker van die wêreld geopenbaar. Die skerp kontras tussen hul fisiese nabyheid aan die Here en hul onvermoë om die Skrif te verstaan, wys vir ons dat hulle nie net in die donker geloop het nie, maar ook in hul eie verstaan vasgevang was.
Jesus stap saam met hulle. Hy lê vir hulle die Skrifte uit om vir hulle te wys dat die lyding nie ’n fout was nie, maar nog altyd deel van God se plan was. Jesus leer vir hulle dat die weg na heerlikheid deur lyding gaan. Die kruis is nie die plek waar God afwesig is nie, inteendeel, dit is juis daar, in die donker van die kruis, waar God besig is om te werk. Dit is die plek waar God die sonde en die duisternis oorwin het.
Ons kan ook nie na die kruis kyk sonder die opstanding nie. Die opstanding bevestig die kruisgebeure as die voltooide oorwinning. Waar die kruis vir ons wys dat God ook in die donker teenwoordig is, wys die opstanding vir ons dat die donker skadu van die kruis nooit die laaste sê het nie.
In die donker van die wêreld, vol oorloë en onsekerheid wonder ek of ons nie ook soms soos hierdie Emmausgangers is nie. Soek ons nie ook dikwels God in mag en oorwinning nie? Maar God werk dikwels juis daar waar ons Hom nie verwag nie – in die gebrokenheid van die wêreld. Mag ons vandag leer om deur die lens na die wêreld te kyk, sodat ons God nie in ons eie verwagtinge van sukses soek nie. Mag ons Hom in die donker oomblikke ook raaksien met die wete dat Hy reeds vir ons die weg gebaan het.