…die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” (Genesis 3: 9, AFR1983)
Lees Genesis 3: 8-9
Aan die einde van die ou jaar en die begin van die nuwe is dit by baie ’n tyd om te besin oor die verbygegane en te hoop op iets beter. Dan wonder ek, waarom doen hulle dit? Iewers in ons bewussyn besef ons daar was maar altyd fout met ons wêreld, en dan hoop ons op iets beter. Maar wat is dan fout met ons wêreld? Die sentrale boodskap van die Bybel spreek die kernprobleem van die mensdom en ons wêreld aan, naamlik die sonde, maar verkondig terselfdertyd ook die verlossing.
Die nuus en die media herinner ’n mens daagliks aan die gebroke wêreld. Ons bespreek gereeld die toestand van die wêreld met mekaar asof ons nie deel is daarvan nie. Die wêreld is maar ’n kollektief van mense soos onsself. Die Bybel beskryf haarfyn die mens en die wêreld se toestand. Daarteenoor bekyk die wêreld sigself meer vanuit ’n evolusionêre hoek, naamlik van vooruitgang, ontwikkeling en verbetering, met perfeksie as doel. Die Bybel, die Woord van God, sny deur tot die kernprobleem van die mensdom van toeka tot nou. God het die mens geskape en in die middelpunt geplaas, in die Paradys, en met die sondeval is alles verduister. Daarom die vloek van ’n onperfekte wêreld. Met pyn en lyding sal geboorte plaasvind, in die sweet van harde arbeid sal jy jou brood eet, die bodem sal vir ons dorings en dissels oplewer, met siekte en dood as die eindspel. Sonde is ons erfdeel, daarom dat die wêreld se probleem in onsself gesetel lê. Kyk net hoe die mensdom na die sondeval ontaard het.
Baie dink ons moet net die omgewing verander om alles te verbeter. As alles wat sleg is verdwyn, of verwyder, verander of vernietig word – soos siekte, armoede, ongelykhede, sistemiese rassisme, seksisme en bevoorregting – sal ons wêreld perfek daar uitsien. Die ironie is dat die mensdom in die perfekte omgewing van die Paradys ontstaan het, en kyk net waar het ons geëindig. Die samelewing is in die verkeerde verhouding met God maar wil dit nie hoor nie, want ons weet beter en ons kan ons eie sake reël. Ten spyte daarvan is en bly die toestand dieselfde.
Ons bou oor die algemeen nie ons lewens op die Here se reëls, waardes en bevele nie. Ons keuses is maar reëlmatig verkeerd sonder dat ons verantwoordelikheid daarvoor of die konsekwensies daarvan aanvaar of aan God se oordeel dink. So was dit van die sondvloed deur Sodom en Gomorra tot vandag toe. Die Ou en die Nuwe Testament is vol van God se oordeel. Vir baie is dit geen waarskuwing nie.
Maar ons Skepper ken ons een vir een, sien alles, weet alles. Skielik sal ons hoor: Adam, waar is jy? Hy wat ons die lewe gegee het, sal ons naam spreek. Ons sondige natuur is om van God weg te draai en wanneer Hy ons roep, weg te kruip. Maar omdat die Here ons so goed ken, is Hy sy kinders genadig. Hy soek die mens uit. Daarom kom Hy ons wêreld binne, sterf op Golgota en vernietig die Bose. Hy bring verlossing en redding.
Ons moet voortdurend herinner word dat ons in ’n gebroke, onvolmaakte en sondige wêreld leef. In die geraas en gesuis van ’n onstuimige wêreld moet ons maar weer die sentrale boodskap van die Bybel hoor. Wanneer die nuwe jaar aanbreek, moet ons onthou ons leef in die jaar van ons Here 2022 totdat Hy kom. En as Hy kom en vra waar jy is, mag Hy jou dan op die regte plek kry.