Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. (Filippense 4: 6-7)

Ons het geleer alles met ’n te vooraan is nie goed nie, behalwe tevrede en te perd. Mag ek vra: Is jý tevrede? Op ’n skaal van 1 tot 10, hoe tevrede is jy met alles in jou lewe?

In watter mate bevorder die wêreld ontevredenheid? Dit lyk of elke generasie die balk van tevredenheid effens hoër lig. Met elke nuwe tegnologiese uitvindsel lyk dit asof ons meer en meer dinge nodig het om ons tevrede te hou en gelukkig te maak. Dit maak nie saak hoe baie ons bymekaar maak nie, dit voel net nooit genoeg nie. Dié fenomeen word die Barbie-pop-wet genoem: Bykomstighede wat eens as opsioneel gesien is, word nou as noodsaaklik beskou, wat weer begeertes en behoeftes skep waaraan ons voorheen nooit eens gedink het nie.

Paulus is seker die laaste persoon van wie ons sou verwag om tevrede te wees met sy omstandighede. Hy skryf die brief aan die Filippense uit ’n Romeinse tronk. Die lewe was nie vir hom maklik vandat die Here hom op die Damaskuspad tot stilstand gebring het nie. Gevangenskap, marteling en armoede het deel van sy lewe geword. Tog sê Paulus vir die kerk in Filippi dat hy geleer het om tevrede te wees ongeag sy omstandighede. Die inwoners van Filippi het geweet dat dit nie net lippetaal was nie. Hulle het onthou dat Paulus en Silas, toe hulle in die tronk gegooi is, in plaas van om te kla oor hul omstandighede en oor hoe onregverdig dit is, gebid en lofliedere tot eer van die Here gesing het (Hand 16: 25). Paulus se tevredenheid het gekom omdat hy waardeer het wat hy gehad het, naamlik sy verhouding met die Here en vrede met God. Die Here het ons vry gemaak sodat ons ons eie gesindheid en houding kan kies ongeag ons omstandighede.

In 1997, terwyl die wêreld se aandag gefokus was op die afsterwe van prinses Diana en Moeder Teresa, het die afsterwe van ’n ander besonderse persoon feitlik ongesiens verbygegaan. Viktor Frankl is op 2 September dood in die ouderdom van 91 jaar. Dr Frankl het dieselfde sentimente as Paulus geëggo. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is dr Frankl gevange gehou by Auschwitz, waar hy gestroop is van sy identiteit as ’n mediese dokter en gedwing is om ander werk in die konsentrasiekamp te doen. Sy pa, ma, broer en vrou is in die kampe dood. Al sy notas wat sy hele lewe verteenwoordig het, is vernietig. Tog het hy die konsentrasiekampe oorleef en deur alles heen bly glo dat alles van jou gestroop kan word behalwe een ding: jou vryheid om te kies wat jou gesindheid in enige gegewe situasie sal wees.

Ons mag miskien nie ons omstandighede kies nie, maar ons kan kies wat ons gesindheid daarteenoor sal wees. Paulus skryf: Die lewe het my geleer om klaar te kom met wat ek het, maak nie saak wat gebeur nie (Fil 4: 11, Die Boodskap). Ons het altyd ’n keuse, en daardie keuse sal altyd ’n verskil maak. ’n Goeie gesindheid, ongeag jou omstandighede, ís jou keuse.

Die geheim van ware tevredenheid is te vind in God alleen en nie in menslike uitvindsels, rykdom, vermaak of tegnologiese speelgoed nie. Dit is om te aanvaar wat die Here ons gegee het en om die meeste daarvan te maak. Ons moet die Here vra dat Hy ons met sy teenwoordigheid sal oorspoel en ons sal versterk met sy liefde sodat ons tevrede sal wees met Hom en wat Hy ons gegee het. Slegs dan kan ons ware tevredenheid ervaar.

My gebed vir jou is dat jy, ongeag jou omstandighede, sal kies om tevrede te wees. Mag die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, dan oor jou hart en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap