Wat as Kersfees nie meer so voel nie? Kan jy Kersfees onthou vir jou as kind? Daardie opgewondenheid? Die aftel van die dae – en nie om te kla oor hoe vinnig die jaar verbygegaan het nie, maar omdat Kersdag om die draai is.

Ja, toe ons klein was, was deel van die opgewondheid seker omdat Kersvader kom kuier het. Maar dit het tog gegaan om daardie Kindjie. Daardie Kindjie het ’n verwondering en opgewondenheid soos niks anders nie in ons kinderharte laat leef.

Ek was bevoorreg genoeg om in dieselfde dorp groot te kon word as waarin albei my grootouerpare gebly het. Dus was ons reëlings rondom Kersfees heel eenvoudig. Een jaar was ons Oukersaand by die een oupa en ouma en dan Kersdag by die ander, en volgende jaar was dit omgekeer. By die een huis het Kersvader ’n klokkie gelui om sy aankoms aan te kondig, en by die ander het hy sommer op die rug van ’n perd gekom in die vorm van een van die plaaswerkers in ’n Kersvaderpak.

Maar voor al hierdie dinge het Oupa – waar ons ook al was – eers vir ons boekegevat. Dan is die wonderlike verhaal, die verhaal van hoop, liefde, vrede en lig, weer aan ons vertel, en ons het soms ook ’n paar liedere saamgesing. En dan is daar geskenke uitgedeel en natuurlik saamgeëet soos net Suid-Afrikaners kan. Kersoggend het ons dan vroeg opgestaan om kerk toe te gaan. Om saam met die gemeente weer na Oupa (hierdie keer as predikant) te luister terwyl hy vir ons hierdie wonderlike verhaal vertel. Om mekaar ná die diens ’n geseënde Kersfees toe te wens. Daardie Kindjie en ons saamwees as familie in vrede en vreugde het sentraal gestaan in die Kersfees van my kinderdae.

Maar tog voel dit vandag asof ons Kersfees iewers langs die pad verloor het. Iewers het ons die essensie van Kersfees verloor.

Die vier Sondae voor Kersfees staan ons in afwagting voor die Here. En ons praat oor die hoop, liefde, vrede en lig wat hierdie Kindjie na ons elkeen gebring het. Ons sing in hierdie tyd van die jaar van die mooiste liedere in die erediens.

Maar dan breek Kersdag aan, en ek kan seker op my twee hande tel hoeveel mense vir my kom sê het dat dit nie soos Kersfees voel nie. En ek tel onder daardie mense. Ek het van soveel hartseer gehoor hierdie jaar oor en rondom Kersfees. ’n Vrou wie se man twee dae voor Kersfees oorlede is. Planne wat nie uitwerk soos wat dit moes nie. Kinders wat ’n eerste Kersfees oorsee deurbring nadat hulle geëmigreer het. Families wat in stryd staan met mekaar. Hartseer wat die vreugde van Kersfees heeltemal oordonder.

Iewers het ons die verwondering en opgewondenheid rondom Kersfees verloor. Dalk iewers tussen kindwees en grootmenswees het ons die vermoë om die wonder van Kersfees raak te sien, misplaas. Die wonder om te weet dat daardie Babatjie vir my gebore is. Dat daardie Babatjie ’n Man geword het wat die wêreld kom verander het, mý wêreld.

Dalk moet ons weer soos kinders in verwondering en opgewondenheid voor God gaan staan. Nie net wat Kersfees aanbetref nie, maar oor alles wat ons so onverdiend ontvang.

Hier waar ons al ’n paar dae lank in die nuwe jaar staan, hoop ek dat elkeen ’n geseënde Kersfees gehad het. Mag ons in hierdie nuwe jaar ons oë gerig hou op die Here, mag dit ons nuwejaarvoorneme wees. En mag ons verwonderd en vol opgewondenheid voor Hom as ons Koning buig.

af
af
Deel met behulp van
Copy link