Die afgelope ruk in ons gemeente se Bybelstudie is ons besig met die apostels. Van Petrus tot Judas Iskariot, het ons al 12 behandel so ver. Elke week het ons na een of twee apostels se lewens gekyk – wie was hulle? Waar het hulle vandaan gekom? Waar lees ons van hulle in die Bybel? Oor sommige kon ons langer gesels: Petrus, Johannes, Tomas en selfs Judas. Oor ander nou weer was daar min te sê – Taddeus, Bartolomeus, Jakobus seun van Alfeus… Net hier en daar was daar leidrade oor iets méér, ’n geskiedenis, familie, persoonlikheid en verhouding met Jesus waaroor ons net kon bespiegel. Simon die Seloot, of Kanaäniet, was so iemand.

Die enigste leidraad wat ons oor hom as mens het, is in sy naam. Hy was ’n Seloot. Die Selote was ’n vurige groep godsdienstig-politieke aktiviste. Hulle wou met alle mag en krag van die Romeinse juk ontslae raak en wou die Joodse volk en hul godsdiens weer daarstel as die hoogste gesag in die samelewing. Selfs al het dit miskien geweld beteken.

Iemand vra toe só in die Bybelstudie: Maar Dominee, was Simon dan ’n terroris?

Nou, dit is anachronisties om die woord terroris soos ons dit vandag gebruik, sommer so van toepassing te maak op Simon, maar tog steek daar iets daarin. ’n Mens sou kon sê Simon het aan ’n ekstremistiese groep behoort wat die godsdienstig-politieke belange van ’n sekere groep mense wou bevorder, al het dit miskien geweld beteken. Iemand wat vandag aan so ’n groep behoort, sou ons vir seker vinnig ’n terroris of ekstremis noem.

Dit is al wat ons weet van Simon. Hy was ’n Seloot, en hy was ook ’n dissipel. Dit is eintlik die interessantste ding. Ek wonder hoe sou Simon Jesus se boodskap van ’n nuwe koninkryk wat kom, verstaan het? Sou hy miskien ’n revolusie waar Jesus ’n nuwe orde gaan inlei, in gedagte gehad het? En hoe het Simon oor die weg gekom met die ander dissipels? Ek kan net dink dat hierdie Simon en Matteus, wat ’n tollenaar was en beskou is as ’n verraaier wat sy eie mense indoen ter wille van die Romeinse Ryk, nie aldag langs dieselfde vuur kon gesit het nie. Tog het Jesus vir sowel Simon as Matteus geroep om ’n dissipel te wees. Mense met uiteenlopende lewenswyses en maniere van dink en doen het vir Jesus gevolg en sy werk later voortgesit nadat Hy weg is.

Simon die dissipel sit my in ons eie tyd aan die dink oor hoe ons polarisasie en ekstremisme van verskillende soorte behoort te benader. Hoe behoort ons in ons eie lewens om te gaan met mense wat radikaal andersdenkend as ons is? Wanneer ons gekonfronteer word met ’n ander soort ideologie, raak ons so dikwels ongemaklik en verdedigend. Is daar ’n ander manier hoe ons met mekaar kan praat en mekaar kan raaksien wat nie ontaard in ’n Facebook- of aanlyn kommentaargeveg nie?

Kyk wat doen Jesus. In plaas daarvan om te praat van die Selote, roep Hy een om deel te wees van sy lewe. In plaas daarvan om vrees en haat te hê, bou Hy ’n verhouding met en stap hy ’n pad saam met Simon die Seloot.

In hierdie tyd van tegnologiese vooruitgang maar ook ongekende diskonneksie, eensaamheid en politieke en sosiale polarisasie en ekstremisme, is dit juis dalk die oomblik om soos Jesus meer met mekaar te praat.

af
af
Deel met behulp van
Copy link