Sou die Here my kom haal, mag Hy my dan aantref waar ek besig was om sy wil te doen. Want die geloof wat ek bely en leef, is nie ’n gekheid nie, dit is ’n geloof in ’n almagtige God. (Martin Luther)

Wat tans as gevolg van die koronavirus (Covid-19) wêreldwyd gebeur, is seker die grootste oomblik in die geskiedenis van die wêreld sedert die aankondiging van die Tweede Wêreldoorlog. Nog geen ander gebeure waaraan ek kan dink het die hele wêreld in so ’n kort tydjie so ingrypend geraak nie. Nie eens die val van die Berlynse muur het volgens my mening so ’n impak op elke land in die wêreld gehad nie.

Aanvanklik was dit ver, in China, en later Europa, waar daar baie gevalle en sterftes was. Toe hoor ons Italië is in isolasie, die hele land, ondenkbaar! Later is sportbyeenkomste gekanselleer. Die afrigter van die sokkerspan wat ek ondersteun is in Engeland met die virus gediagnoseer. My gunstelingakteur in die VSA en sy vrou het die virus. Dit was erg, maar dit was steeds ver. ’n Mens het dit maar so op ’n afstand gevolg, en toe gebeur dit: Een, twee, baie mense in ons land dra die virus. Toe land die vliegtuig met die Suid-Afrikaners uit China, en hulle is net hier naby my…

Toe, op Sondag 15 Maart, het pres Ramaphosa die nasie toegespreek oor hierdie virus wat die hele wêreld in ’n greep van angs en paniek het. Hy het sekere maatreëls aangekondig: ’n reisverbod na en van sekere lande, skoolvakansie wat vroeër begin en later eindig, en verskeie ander maatreëls om die verdere verspreiding van die virus te stuit. Een van die maatreëls was die verbod op samekomste van meer as 100 mense. Dadelik het my foon begin piep soos lidmate en vriende op die dorp by my wou weet hoe dit eredienste raak. Ons is tog altyd meer as 100 mense in die kerk, wat moet ons nou doen? Moet ons nou botteltjies handreiniger by die deure plaas en almal soos by die hospitaal dwing om by aankoms en vertrek hul hande te reinig? Moet ons nou ons kerkdeure vir eers toemaak? Moet ons almal in ons huise wegkruip tot alles weer normaal is en die virus iets van die verlede?

Ek praat met ’n vriend wat my bel en my vra of ek besef dat as die virus nie onder beheer gebring word nie, ek dalk ’n geliefde aan die dood kan afstaan as gevolg daarvan. En met ’n nuwe stukkie vrees kom ek tot die besef dat ek, en ons as Kerk, baie mooi moet dink oor hoe ons hierdie gebeure, die grootste in baie van ons se leeftyd, gaan hanteer. Gaan ons domastrant voortgaan en glo dat ons immuun is teen die virus net omdat ons glo en bid, of gaan ons die werklikheid daarvan erken? Kom ons wees eerlik met mekaar, hierdie virus het tot gevolg dat die ekonomie baie swaar kry. Nie net toerisme word geraak nie: In- en uitvoere van en na ons grootste handelsvennoot, China, het tot stilstand gekom.

En in hierdie omstandighede moet ons as Kerk hiervan sin probeer maak.

’n Vriend stuur toe vir my iets wat Martin Luther oor die swart pes in ’n brief geskryf het. Hy vertaal dit soos volg: Martin Luther skryf: Ek sal die genadige God vra om ons te beskerm. Dan sal ek my plek ontsmet, help om die lug te suiwer, medisyne uitdeel en self medisyne neem. Ek sal plekke vermy waar my teenwoordigheid nie nodig is nie om te verseker dat ander nie hul lewe deur my nalatigheid verloor nie. As God my wil neem, sal Hy vind ek het gedoen wat Hy van my verwag het en dat ek nie verantwoordelik is vir óf my eie dood óf die dood van ander nie. As my buurman my egter nodig het, sal ek nie die plek of persoon vermy nie, maar vrylik gaan soos hierbo genoem. Sien, dit is so, ’n Godvresende het geloof, omdat geloof nie ’n gekheid is nie…

Ek dink ons kan by Luther leer hoe om hierdie tyd in ons geskiedenis te hanteer. In die eerste plek moet ons as Kerk alles in ons vermoë doen om die verspreiding van hierdie siekte te verhoed. Al sou dit beteken dat ons eredienste moet afstel of van elektroniese media gebruik moet maak om die boodskap te verkondig. Al sou dit beteken dat ons een geskeduleerde Nagmaal oorslaan omdat ons nie, soos Luther ons aanraai, tot die dood van ’n ander wil bydra nie. Dalk moet ons plekke en persone vermy waar ons teenwoordigheid nie absoluut nodig is nie en daar ’n groot kans is dat ons die virus daar kan opdoen.

Maar wat ons nooit mag doen nie, is om so bang te wees dat ons nie meer daar is vir mense in nood en mekaar in hierdie uur bystaan nie. Ons mag nie ophou nie om barmhartig te wees soos die Here barmhartig is.

En soos Luther ook sê: Sou die Here my kom haal, mag Hy my dan aantref waar ek besig was om sy wil te doen. Want die geloof wat ek bely en leef, is nie ’n gekheid nie, dit is ’n geloof in ’n almagtige God.

Ek sit hier en ek wonder hoe toekomstige geslagte terug gaan kyk na die manier hoe ons as gelowiges hierdie uitdaging hanteer het. Ek glo net die tyd sal leer.

af
af
Deel met behulp van
Copy link