Op 17 Januarie 2020 het ons Chrisjan op die lughawe gegroet om solank te begin werk in Australië. Die laaste reëlings moes afgehandel word en die totsiens sê aan almal was een van die moeilikstes. Êrens tussendeur die laaste rukkie se werk, afskeidspartytjies, regpak en uitsorteer, het ons op televisie gehoor van ’n virus wat uitgebreek het in China, ver van ons af! Maar Covid-19 was die minste van ons bekommernisse, ons houer met al ons besittings moes gepak word.

Met gemengde gevoelens van vrees, opwinding, onsekerheid en dankbaarheid, het die dag aangebreek vir my, Wessel en Kialize om op die vliegtuig te klim en ons pragtige land te verlaat. Vir ’n dogter om haar ma te groet en vir kleinkinders om oumas te groet, is hartverskeurend, maar gelukkig sou ons gou weer kom kuier om my ma te help sodat sy ook by ons kon aansluit in Australië.

Met ons aankoms in Mauritius, waar Kialize aan ’n tuimelkompetisie deelgeneem het, is ons temperatuur gemeet, en die werklikheid van hierdie onbekende virus het ’n bietjie meer ingeskop. Die paar dae was lekker en kommervry saam met mede-gimnaste en goeie vriende van Suid-Afrika.

Op 26 Februarie land ons in Adelaide en ons nuwe avontuur begin in ’n vreemde land, in ’n vreemde huis, ’n vreemde motor tussen vreemde mense…

Terwyl Chrisjan werk, het ons drie die omgewing begin verken en besluit om eers oor ’n maand te dink aan ’n skool. Skaars ’n week in hul nuwe skool, kry ons ’n e-pos wat aanbeveel dat die kinders by die huis moet bly indien moontlik as gevolg van die virus. Die skool was nie amptelik gesluit nie, maar daar was net 50%-skoolbywoning. Aanlyn klasse is aangebied en my kinders het dit vreeslik geniet, alhoewel dit hulle gekeer het om nuwe maats te probeer maak. Almal was maar onseker oor wat gaan volg. Die inperkingsreëls in Suid-Australië is ingestel: slegs vir noodsaaklike items winkels besoek, 1,5 meter van mense afstand hou, geen kuiers by vriende, restaurante gesluit, geen sport,  en maskers dra was opsioneel. Aangesien Chrisjan boer en dit ’n primêre produksie-industrie is, het hy nog elke dag kon werk – waaroor ons baie dankbaar is.

Ons het gou tot die besef gekom dat ons dit net gemaak het tot hier voor die internasionale vlugte gestaak is. Ons harte het weer eens oorgeloop van dankbaarheid. In Suid-Australië was ons baie gelukkig, die Covid-19-gevalle was min en hulle kon gou die beperkings lig. Ons bly op die grens tussen Suid-Australië en Victoria, en die mense in Victoria was nie so gelukkig nie, die gevalle daar was heelwat meer en hulle was vir maande in lockdown. Chrisjan het soms anderkant die grens gewerk en moes elke twee weke ’n Covid-toets doen.

Ons vrees vir hierdie virus het vinnig al minder geword, maar om te sien hoe ons ouers in Suid-Afrika eensaam ingeperk is, was kommerwekkend. Dit het groot spanning veroorsaak en skuldgevoelens oor ons nie daar is om te help nie. Chrisjan se ma was baie siek weens kanker, en die magtelose gevoel dat daar geen manier was om in Suid-Afrika te kom nie, was geweldig groot. Ons kon nie haar begrafnis bywoon nie en dit maak alles net soveel erger.

In Desember was daar ’n enkele Covid-geval in Adelaide wat die hele staat in ’n ses-dag-inperking geplaas het. Dit is vinnig onder beheer gekry en na net drie dae is die inperking opgehef.

Alhoewel Covid-19 nie fisies so ’n groot invloed op ons gehad nie, was en is dit steeds emosioneel moeilik aangesien dit nou lank raak sonder ’n ouma se drukkies en ondersteuning. Ons is elke dag bekommerd en die onsekerheid knaag maar aan ’n mens. Ons hemelse Vader se genade is groot en ons glo en vertrou dat ons vinnig weer na ’n normale samelewing sal terugkeer.

(Lizelle Swart is ’n voormalige lidmaat van Gemeente Waterberg)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap