Psalm 131: ’n Pelgrimslied. Van Dawid.

Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is.

Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.

Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.

As ’n bedevaartslied, is hierdie Psalm gesing deur gelowiges op pad na Jerusalem om hul offers te bring. Dit getuig van hul geloof en hoop in God, hul liefde vir God se huis en die begeerte om daar te wees.

Verder onderstreep dit vir ons die gesindheid waarmee ons na God se huis gaan. Ware, opregte aanbidding van God vestig die hoop volkome op Hom en rig tot ons die oproep om in onsself nederig en klein te word.

Vers 1 maan dat dit geen sin het nie om voor God te verskyn terwyl jy gevoelens van hoogmoed, trots, selfregverdiging en selfverheffing in jou hart dra. Dit leer ons dat selfgenoegsaamheid plek moet maak vir die besef van jou eie beperkings, anders kan jy nooit ware rus en vrede ken nie!

2020 sal altyd geken word aan die feit dat, ongeag die mens se kennis en bekwaamheid, ons moes leer dat iets klein soos ’n virus die wêreld kan lamlê. Miskien moet ons juis daarom die eerste les uit die Psalm weer leer en bely: Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is.

’n Les wat ek glo ons in elk geval nooit sal leer solank ons te veel van onsself dink nie – en nog nie geleer het nie om soos in vers 3 te bely dat ons in volkome geloofsvertroue op God wag! ’n Les oor nederigheid, en omgee vir ander, soos God vir ons omgee…

’n Les wat vra dat ons soos ’n kind word, dat ons nie in ons eie verwaandheid ons eie begeertes en wense najaag nie, want dan beweeg ons al verder van God weg, en sal ons al meer onrus beleef! Soos die Psalmdigter, moet ons die les leer om in ware geloof, gestroop van ons hoë dunk van onsself, by God rus te vind soos ’n kindjie by sy moeder – ’n kindjie wat niks vir homself kan doen nie, maar weet dat hy by haar alles ontvang wat hy nodig het om kalmte en rus te vind.

Ons moet ons bekeer van ’n houding waar ons onsself verhef bo ander. Die nederige krip vertel ons immers hoe God tyd en respek vir elkeen van ons as sondaars het. Ons moet leer om in nederigheid te lewe, met vriendelikheid en diens teenoor God en ons naaste.

Ons moet leer om al ons hoop, deur geloof, in God te plaas, want in die moeilike tye van 2020 het te veel mense gevra hoekom dit sleg gaan met hulle, terwyl hulle deur hul eie lewe en optrede al verder van God wegbeweeg het…

Ware vrede vind ’n mens net in nederigheid wat op God leun, in God vertrou, wat teenoor God eie swakheid en skuld bely.

Ware vrede vind ’n mens deur nie boek te hou van die kwaad nie, nie bly te wees oor die foute en swakhede van ander nie, maar jou eerder te verheug in wat goed en mooi is in hulle.

As ons so die gees van ’n kindjie weer ontdek in onsself en op God alleen vertrou vir alles, sal ons God se vrede en rus ken wat alle verstand te bowe gaan!