2020 was ’n jaar vol trauma en intrige. Gedurende Maart is die hele wêreld tot stilstand gebring deur Covid-19 – ook Suid-Afrika en dan ook in die besonder ons kerke. Geen eredienste of enige byeenkomste kon gehou word nie.
Begrafnisse is op heel volksvreemde wyse gehou en dominees het alle vorme van die media gebruik net om met hul lidmate kontak te behou en die Blye Boodskap uit te dra.
Siek mense en geliefdes in die hospitale kon nie besoek word nie. Telefone was in die meeste gevalle die enigste kontak wat families en predikante met siek mense en mense in nood kon hê.
Die Covid-inperkings is mettertyd verslap. Sedert Augustus, September, het die samelewing weer normaal begin funksioneer, afgesien van die inperkings wat nog gegeld het. Kleiner gemeentes soos Coligny en baie ander kon weer op streng voorwaardes begin eredienste hou.
Die eerste Sondag waarop ons kon erediens hou, het ons voldoen aan al die nodige voorskrifte, met maskers en al. Dit was weer ’n voorreg om die orrel te hoor speel en heerlik as gemeente saam te kon sing, saam te kon bid en na die Woordverkondiging te kon luister.
Op Sondag 15 November het die gemeente weer Nagmaal gehou. Weer eens nie op die normale wyse nie: Die gemeente het verspreid die hele kerk vol gesit. Afstand moes gehandhaaf word. Die kerkraad het rondom die Nagmaaltafel gesit. Die dominee en kerkraadslede het die beker gebruik en die gemeente is bedien met kelkies. Dit is ’n gebruik wat vreemd is in ons Kerk. Wat egter van belang was, was dat ons gemeente Nagmaal kon vier.
Sondag 22 November was dit danksegging, en die Doop is bedien. Gemeentelike aktiwiteite funksioneer weer normaal, het ons gedink. Die daaropvolgende Sondagoggend 29 November is dinge weer nie normaal nie. Erediens word gelei deur ’n ouderling, want Dominee is by die emeritaataanvaarding van ds Jan Wilson in Klerksdorp.
Sondag 6 Desember was daar geen oggenderediens nie, maar wel die aand ’n diens om 18:00. Dit was ons Kerssangdiens, ’n pragtige geleentheid. Die geleentheid is deur die hele gemeenskap bygewoon en ons het die aand met groot dankbaarheid in ons harte uitmekaar gegaan. Die laaste woorde van die preekstoel af was ’n Kersfees-groeteboodskap van die Hervormde Kerk Coligny aan al die ander Christelike gemeentes in ons gemeenskap. Min het ons op daardie tydstip geweet wat vir ons gemeente voorlê.
Dinsdag 8 Desember het normaal verloop, soos enige ander dag in ons lewens. Om ongeveer 22:00 lui die foon. Met duidelike hartseer in sy stem kom die boodskap van oudl Jan Hayword:
Ds, ons kerk is besig om af te brand.
Die boodskap laat my stom. Hy verduidelik dat, vanwaar hy die gebeure aanskou, dit duidelik is dat daar geen kans is dat die brand geblus sal kan word nie. Ds, ons kerk gaan tot op die grond afbrand! Ons groet en oomblikke later stuur hy foto’s en ’n video van ons brandende kerkgebou.
Ek is in Klerksdorp waar ek woon. Moet ek nou deurjaag om te gaan help? vra ek myself af. Besluit daarteen en bly telefonies in kontak. Na middernag laat die skriba, oudl Oelof Vorster, weet dat hy die kerkterrein beveilig het en met nuwe slotte die hekke gesluit het. Sy woorde: Ds, daar is niks van die kerkgebou oor nie. Net die mure en toring wat nog staande gebly het.

Net na 06:00 Woensdagoggend stop ek in die straat langs die kerkterrein. Dit is somer en vroeg lig, en ’n mens kan die verwoesting van die nag nou duidelik sien. Dit is nie ’n mooi gesig nie! Ons eens pragtige kerkgebou met al sy herinneringe wat die klein gemeentetjie met alles tot hul beskikking netjies gehou en versorg het, is net ’n ashoop met murasies.
’n Mens staan verslae en verstom. Eerstens die vraag: Hoekom, Here? Dan die besef: Hý is in beheer, sý wil sal geskied. Die gedagte bring berusting.
Mense begin stop om die verwoesting van die vorige nag beter te aanskou. Vra wat het gebeur, maar daar is nie ’n antwoord op die vraag nie. Bejaarde en oudlidmate kom vertel hoe hulle in die ou kerkie gedoop is (nou ons saal), en later in die nuwe kerk aangeneem en voorgestel is. Later is hulle getroud en hul kinders weer hier gedoop, aangeneem en voorgestel.
Een tannie, ’n oudlidmaat, nou van Bloemfontein, het by haar suster kom kuier, net om te sien hoe hul familiekerk besig is om af te brand. Trane rol oor haar wange. Ons orrelis stop en vertel van al haar herinneringe van die kerkgebou, oë rooi gehuil. So stop baie mense om verhale te vertel en die verwoesting te aanskou. Dit is erg, Dominee! Dit is soos om by die sterfbed van ’n geliefde te staan, is een lidmaat se opmerking.
Dan tref die realiteit ’n mens: Daar lê groot werk voor! Hierdie kerkgebou moet weer herstel of heeltemal herbou word!
Gou word ’n buitengewone kerkraadsvergadering belê. Sommer 12:00, Dominee. Ons moet praat! Om 12:00 is die kerkraad en die Sinodale Kantoor se verteenwoordiger en die versekering se verteenwoordiger van Pretoria ook teenwoordig. Hul vinnige optrede en teenwoordigheid word waardeer. Die kerkraad word ingelig wat die versekering betref en dit bring rustigheid in almal se gemoed.
’n Boukommissie word saamgestel. Die toekoms word bespreek en daar word beplan hoe Gemeente Coligny in die komende twee jaar gemeente gaan wees. Ons nuwe normaal. Ons ken nie al die antwoorde nie, maar ons weet vir seker dat ons hemelse Vader ’n doel met hierdie gebeure het. Ons weet ook vir seker dat Hy nie sy kinders alleen sal laat nie.
(Ds Gert Beukes is leraar in Gemeente Coligny)