Ek was van plan om vandag my werk te doen – maar ’n bruin voëltjie het in die appelboom gesing, en ’n skoenlapper het oor die veld gefladder, en die bome se blare het my nader geroep. Die wind het oor die land gesug, die grassies heen en weer gegooi, en ’n reënboog het sy skitterende hand uitgesteek … Wat kon ek dus anders doen as om te lag – en saam te gaan? (Richard le Galienne)

Watter “klein goedjies” maak jou bly? Op watter oënskynlik onbelangrike goed fokus jy jou aandag, wég van frustrasie en irritasie, hartseer en pyn?

Om vir iemand ’n verjaardaggeskenk te koop, raak soveel makliker as jy iets weet van sy of haar voorkeure – die “klein” goed waarvan die persoon hou. Om met iemand saam te leef in een huis, of selfs net saam te werk, is makliker as julle mekaar so ’n bietjie ken.

Práát met mekaar, luister, voor dit te laat is. Voor die dag kom dat jy moet sê: Ek het nie geweet nie. Ek het nie verstaan nie.

Ken jy my nou? Het jy die spieël gesien en ken jy jou?

Toegegee, hierdie woorde van NP van Wyk Louw gaan oor die bose wat ons met ons saamdra. Maar ons dra ons hele menswees, ons hele wese met ons saam. En hoe eensaam bly almal as niemand naderkom en hóór nie?

Vertel jou mense: Ek hou van sagte blomme soos rose, kronkelende takke soos jasmyn, geure en kleure en móói. Nie stywe, gestileerde rangskikkings nie, asseblief. Vloeiende, strelende musiek, nie skreeuende stemme en weergalmende simbale en ander instrumente nie.

Dr Lukas skryf mos: Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar. Is dit nie so nie dat die klein goedjies belangrik is in ’n verhouding? Klein goedjies vorm saam groot dinge, en word dikwels kosbare herinneringe. En buitendien, soos Emily Dickenson sê: As jy sorg vir die klein dinge, sal die groot dinge vir hulself sorg.

Nou in die moeilike inperkingstyd hoor ons dikwels dat rituele belangrik is. Hou by jou roetine, skep voorspelbare strukture, hou beheer oor dit wat jy kán beheer. ’n Positiewe en aangename ritme is ’n kragtige hulpmiddel wanneer ons met soveel onsekerheid moet saamleef.

Watter “klein” dinge kan ons help? Al kan julle nie by mekaar uitkom nie, hou die stemme van jou geliefdes in jou gedagtes, voordat die dag kom dat daardie stemme stil raak, en jy dit nooit weer hoor nie.

Geniet die koppie koffie en beskuit vroegoggend saam met jou geliefde – dit is mooier en kosbaarder as wat jy miskien nou dink.

Geniet die stil oomblikke wanneer jy heeltemal alleen is en in rustige nabetragting kan dink aan al die dinge en mense in jou lewe – ook al die probleme en bekommernisse, want in stille nadenke is daar dikwels oplossings te vind. Hoe mooi sê William Cowper: Wysheid is ’n pêrel wat die maklikste gevind word in kalm waters en onder ’n helder hemel.  

Gepraat van ’n helder hemel: Wanneer laas het jy net opgekyk na die wolke – die delikate kwashale van veerwolke (cirrus), die lae stapelwolke wat soos bolle watte lyk (cumulus)? Het jy al die jongste persoontjie in jou familie daarvan bewus gemaak?

Ja, daardie klein gesprekkies met jou kind of kleinkind, die momente wanneer jy hom of haar help om die wêreld te ontdek – hoe kosbaar is dit nie?

Wys hulle die verskillende blare aan die bome en plante in jou tuin – onthou jy nog hoe ons op skool verskillende blare moes pluk en saamneem klas toe? Het jy al gedink hoe afhanklik ons van plante is, maar dat plante heeltemal goed sonder ons kan klaarkom? Ja, mens en dier is afhanklik van klaargemaakte kos, maar die plante maak self hul kos uit eenvoudige chemiese stowwe uit die aarde en die lug. Wonderlik!

Klein en groter goed. Skrik jou kleinkind nog vir die dondie? Leer hom, en hy sal gou die verband tussen die geluide en die reën snap. Mettertyd kan jy hom meer vertel: van die elektriese spanning in die dampkring, en die opbreking van die waterdruppels wat opbou tot die dramatiese elektriese ontlading en die verblindende weerligstraal en die geweldige donderslag…

Ag, en die reënboog, wanneer die son die vallende waterdruppels binnedring…

Het jy nog ’n paar boeke in jou huis? Al is jy een van die niemand-lees-meer-boeke-nie-mense, is daar darem seker nog êrens ’n klein 1953-vertaling van die Bybel in jou studeerkamer. Blaai daardeur, lees weer Psalm 23: Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. Dink terug aan jou Sondagskooldae, die orrelmusiek voor die erediens, die woorde en wysie van die ou Gesang 118: Middelpunt van ons verlange, Trooster van ons bang gemoed…

Sien, klein goed wat eintlik groot goed is. Dinge waaroor jy aan die etenstafel, wanneer jy en ál jou mense weer mag saamkuier, kan vra: Onthou julle nog…?

Want die slim mense sê dat jul verhale en rituele en herinnerings deel is van jou persoonlike identiteit, van jou eie besondere menswees. En dit vorm deel van jou gesin en familie se waardes en spiritualiteit.

Maak al die stories en rituele en onthou op vir die slegte dinge wat om ons en met ons gebeur? Seker nie, en seker tog.

Audrey Blignault, in haar essay Nogtans sal ek jubel in die bundel Met ligter tred (1962), verduidelik: Twee vernietigende wêreldoorloë het in my leeftyd plaasgevind. Skrikwekkende revolusies het gekom en nuwe kringlope van haat in beweging gebring. … En tog is daar nou oral die rooi van winterblomme in die tuine: die vlampunt-sterre van die poinsettias, die brandende kerse van die vuurpyle, die gloeiende dolke van die aalwyne, die gesellige rooi lampies van die hibiskus. Rooi blomme in die strakke raam van die winter. Rooi blomme om op die koudste dag langs ’n kleurlose straat of teen ’n kaal muur ’n koesterende warmte te skep. Sal ek dan nie bly wees oor hulle nie? … Seker het hulle nie ’n plek in die oorloë van die wêreld … nie. Tog – die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, word só beklee. Sal daar dan nie te midde van verwoesting en haat ’n plekkie gegun word vir ’n flentertjie rooi kleur in ’n aalwyn wat teen ’n klipmuur bloei nie?

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)