Jy hou vas aan jou perspektief op gebeure. Jy glo wat jy dink jy beleef. Jy leef in jou eie borrel met jou eie insigte en voorkeure en opvattings.
En dan begin dinge glip. Dalk het iets onverwags oor jou pad gekom, soos ’n onderonsie tussen twee mense wat jy aanskou het. Of ’n uitdrukking op ’n familielid se gesig, ’n skaduwee in iemand se oë. Iemand se onnadenkende woorde. Of iets groter, soos ’n pandemie, en daarmee saam isolasie en inperking, en dan skielik weer samesyn met jou geliefdes, sodat jy alles skielik in ’n nuwe lig sien, met nuwe skaduwees wat wink…
Dalk is daardie liewe, aangename familielid of vriend toe glad nie so lief en aangenaam nie…
Sou die verandering in die persoon gebeur het weens die krisis wat die afgelope jaar onder ons woed, of was die tekens lankal reeds daar, maar in jou droomwêreld vol illusies het jy dit net nie gesien of herken of geëien nie.
In hul boek Soos appels van goud haal dr Michael Mol en Dalene Reyburn aan uit Lukas 11: 11-13 in die Nuwe Lewende Vertaling (NLV). Julle vaders – as julle kinders vir ’n vis vra, gee julle dan vir hulle ’n slang? Of as hulle ’n eier vra, gee julle dan vir hulle ’n skerpioen? Natuurlik nie! As julle sondige mense dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.
Ek gaan lees dieselfde teks in van my ander Bybels: AFR2020; AFR1983; AFR33/53; Die Lewende Bybel; die Bybel vir almal. In laasgenoemde sê vers 13: Julle is slegte mense, maar julle weet om goeie dinge vir julle kinders te gee. Julle Vader in die hemel wil vir julle iets gee wat nog beter is. Hy wil die Heilige Gees uit die hemel gee vir die mense wat dit vir Hom vra.
Liewe Here, ek vra U nou. Mag ek vra terwyl ek sit en peins en werk, soos ek my lewe lank reeds met U praat – ín die oomblik, waar ook al, aaneen? Of moet ek eerder kniel, alle skanse laat val, neerslaan en ween en met verhefde stem sméék?
Nee nee nee, dis nie hoe ek bid nie. Here, U weet, dís nie hoe ek vra nie.
Maar wat is verkeerd, kan iemand vra. Wat wil jy van die Here vra?
Hoe antwoord ’n mens, selfs as ’n naaste aanbied om te luister? Die lys is immers eindeloos: Werksonsekerheid. Angs. Uitgebrand. Afgemat. Teleurgesteld. Hartseer oor geliefdes se optrede. Vrees vir ’n kind of kleinkind se toekoms…
Dus, Here, maar net dít: Help ons. Maak ons kalm. Laat die slegte mense beter mense word. Soos my kleinseun van sy tandpyn sê: Beter. Of na die reën as hy buite wil speel: Beter nou.
Michael Mol en Dalene Reyburn haal Hebreërs 4: 16 uit die NLV aan en sê: Ons is heeltemal vry om enige dag van die week, enige tyd van die dag voor sy troon te gaan staan en vir absoluut énigiets te vra. Dalk sê Hy ja. Dalk sê Hy nee. Maar Hy sal altyd antwoord in ooreenstemming met sy perfekte en wyse plan vir jou lewe.
Ek vind vandag my troos in die weergawe van Hebreërs 4: 14-16 in die Bybel vir almal: Jesus wat die Seun van God is, het gegaan tot by God in die hoogste hemel, en Jesus is nou ons groot Hoëpriester. Daarom moet ons aanhou om die dinge te glo wat ons weet is waar. Want ons het ’n Hoëpriester wat presies weet hoe dit voel om so swak te wees soos ons. … Daarom moet ons nie bang wees om tot God te bid nie, God wat op sy troon sit, God wat genadig is. Ons moet na Hom toe gaan sodat Hy jammer kan wees vir ons en genadig kan wees vir ons, en sodat Hy vir ons kan help wanneer ons Hom nodig het.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)