Hier is ons ’n jaar later… ’n Jaar waarin Covid-19 deel van ons elke dag se bestaan geword het. ’n Jaar waarin ons kerkgeboue met tye toe was en ons geleer het om die evangelie op ander maniere te verkondig.

’n Jaar waarin ons familie en vriende gegroet het wat aan Covid-19 oorlede is. ’n Jaar waarin mense baie siek was. ’n Jaar waarin baie hul werk verloor het. ’n Jaar waarin die ekonomie op sy knieë was…

Dat hierdie werklikheid wat Covid-19 genoem word ons lewens onherroeplik verander het, is ’n feit. Ek het altyd fronsend na die mense uit die Ooste gekyk wat met maskers in die strate rondloop. Nou is masker dra so deel van ons lewens soos skoene aantrek. Ek lees die ander dag ’n kenner sê dat hierdie virus in die een of ander vorm met ons gaan wees, dalk vir ons hele leeftyd.

Ek onthou die berigte oor voëls by riviere en in stede waar daar lanklaas voëls was. Van dolfyne in hawens wat te lank te besig en te besoedel was. Ek onthou berigte van die lug in stede wat die skoonste in dekades was, alles net omdat ’n virus ons wêreld tot stilstand gebring het, en ons gedwing het om op te hou om met God se skepping te mors.

En hier is ons ’n jaar later, en ek wonder: Wat het ons geleer? Het ons geleer om beter met God se skepping om te gaan? Ek wonder… Het ons geleer om meer tyd as families saam deur te bring? Ek wonder… Het ons geleer om weer selfs die kleinste stukkies genade te waardeer? Ek wonder…

Ek kry die indruk dat alles maar weer soos voor die stilstand van verlede jaar se totale inperking aangaan. Ons besoedel steeds die lug met uitlaatgasse. Ons vernietig steeds die reënwoude in die naam van vooruitgang. Ons dolwe steeds die aarde om op soek na groter wins en ’n “gemakliker” lewe. Ons werk steeds lang ure, selfs langer wanneer ons van die huis af werk. Daar is selfs minder tyd vir mense se gesinne en vir rustig raak.

Ons is steeds besig om mekaar met ons woorde en dade te vernietig, om op mekaar te trap om bo uit te kom.

Wat het nou eintlik verander?

Ek dink ons het ’n ideale geleentheid om ’n verskil te maak, by ons verby laat gaan. Ons het die geleentheid laat gaan om stadiger te lewe en meer tyd vir mekaar te maak. En in hierdie gekheid leef ons voort, as Kerk, as gelowiges.

Ek skryf hierdie redaksionele brief ’n paar dae voor Paasfees. Ek het pas ’n preek geskryf vir Goeie Vrydag, opnuut getref deur dit waardeur ons Here moes gaan. Die spot, die lyding, die dood wat Hy ter wille van ons moes deurmaak… Opnuut weer onder die indruk gekom van die groot stuk genade wat ons te beurt geval het. Ek is verlos, ek is God se kind!

En dan lees ek die koerant. Ek lees van die bendegeweld in die Kaap. Ek lees van moorde en kinders wat deur grootmense seergemaak, vernietig word. Ek lees van die geweld in die noorde van Mosambiek.

En ek wonder: Wat het ons geleer? Hoe het Paasfees ons lewens verander?

Dan lees ek weer in Markus 15: 34: Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? en ek besef: Alles het verander. Ek en jy hoef nie vasgevang te wees in die sogenaamde werklikheid van ons wêreld nie. Ons mag nie toelaat dat eksterne faktore ons manier van leef voor God beïnvloed nie. Nee, ons is God se kinders.

Jesus het ’n nuwe werklikheid vir ons aan die kruis gebring. Die werklikheid dat ons sondes vergewe is en ons saam met God nuut kan begin.

Mag elkeen van ons weer in hierdie dae die geleentheid aangryp om nie net oor ons geloof te praat nie, maar om dit te leef. Mag ons ’n werklike verskil maak.