Toeka was jou doopdatum belangriker as jou geboortedatum. Daarom vind ons in die oudste doopregisters in ons land dat soms slegs doopdatums vir dopelinge opgeteken is.

Dit bring ons by die geskiedkundige vraag: Wanneer is ek gedoop? Waar, in watter kerkgebou, by watter doopvont? Deur watter predikant? En so kom die onthou (of juis die gebrek aan inligting) los. Dalk het jy ’n foto wat op jou doopdag geneem is. Dalk selfs ’n video. Foto’s en videos’s vertel ook baie van modes en gebruike. Vandag trek die doopouers byvoorbeeld baie meer informeel aan as destyds.

Dalk weet jy iets van jou dooprok of doopklere. Of selfs van die doopkoek. Wie het jou ingebring by jou doop? Selfs jou doopnaam of -name vertel ’n verhaal van jou herkoms. Gaan vind gerus uit. Besoek jou doopkerk se doopvont (ook genoem doopfontein) en sê net daar dankie aan die Grote God vir sy groot genade dat Hy jou – voordat jy kon kies en vra – as sy kind uitgekies het en by jou doop gemerk het.

’n Doopvont is gewoonlik ’n silwer waterbak op ’n houtvoetstuk met ’n houtdeksel. As voorbeeld gebruik ek my eie gekombineerde tuisgemeente. Gemeente Pretoria se huidige doopvont is in 1953 gemaak volgens die seskantige ontwerp van boukonsultant M Runia tydens die groot kerkrestourasie van die 1904/5 Du Toitstraat-kerkgebou, en word tans by Gemeente Wonderboom-Suid bewaar. Die oorspronklike 1905-vont en voorleserskateder word in die SP Engelbrecht-museum bewaar. Daarop is houtkerfwerk deur Anton van Wouw. Gemeente Wonderboom-Suid s’n is in 1974 gemaak net voor die inwyding van die kerkgebou.

In die NHKA se SP Engelbrecht-museum is ’n 1900-dooptoneel in die liturgiese ruimte (oop spasie voor die preekstoel by die doopvont, heel voor die kerkbanke): deftige ouers (swart kleure, dameshoed, manel en pluiskeil) met baba/dopeling in lang wit dooprok. Vroeër is ook seuntjies in rokkies gedoop – wit simboliseer die skoon was met die bloed (water in die vont) van Christus. Dooprokke word dikwels oorgeërf van geslag tot geslag.

Ook in ons Museum is die heel eerste doopvont wat die Voortrekkers noord van die Vaalrivier in die Transvaal in Potchefstroom gebruik het. Honderde babas, indien nie duisende nie, is daaruit gedoop. Die grondlegger van ons Museum, prof SP Engelbrecht, se lang dooprok is ook te sien in die Museum.

’n Interessante primêre bron van ’n skatkis van gegewens is elke gemeente se doopregister. Baie jare se inligting van dopelinge word getrou en met keurigheid daarin aangeteken, gewoonlik deur die skriba vir registrasie, die skriba of die dominee. ’n Kommissie van die kerkraad en die Ringsvisitasiekommissie sien die register na. Elke nuwe jaar begin op ’n nuwe dubbelblad – al is net één kind gedoop. Daar staan hoeveelste dopeling jy in daardie jaar was, die datum van die doop, die plek waar gedoop, die naam van die predikant wat die doop bedien het, die naam van die dopeling, datum van geboorte, name van ouers, name van getuies (peetouers) en ’n kolom vir diverse aantekeninge. Gaan soek na jou eie of jou ouers se doopseels (sonder die deelteken) of doopbewys, of die afgelope dekades se lidmaatboekie. Herdenk jou doop! Dis jou ryke geloofsgeskiedenis.

Gemeente Wonderboom-Suid is op 21 Junie 1970 gestig, en die heel eerste dopeling was Nicholaas J Grobler, gebore 29 April 1970, wat op 30 Augustus 1970 in die saal van Laerskool Wonderboom-Suid deur ds DB Snyman gedoop is. Voordat die kerkgebou voltooi is, is daar ook soms in die ou 10de Laan-pastorie gedoop. Die eerste dopeling in die huidige kerkgebou was Madeleine Botha, gebore 13 Mei 1973 en gedoop op 23 Junie 1974. Die meeste in een jaar gedoop was in 1978 met 31, en in 2015, 2017 en 2018 elk is net een gedoop. Dr JH Breytenbach het tussen 1984 en 2006 die meeste dopelinge gedoop. In totaal sedert die stigting van die gemeente in 49 jaar se tyd is 527 gedoop, en in die kerkgebou sedert 1974 is 444 gedoop.

In totaal is in Gemeente Pretoria (gestig 8 September 1855) se Du Toitstraat-gebou, by hierdie laaste doopvont, 2 407 sedert 1958 gedoop. Die huidige doopregister is in Augustus 1958 in gebruik geneem, die vorige is in die Kerkargief. Pretoria se register is drie maal so dik as Wonderboom-Suid s’n en het ’n alfabetiese indeks. Die doopregisters is A3-grootte. Die jaar met die meeste dopelinge was 1959, met 156! Sedert 2017 was daar geen dopelinge nie, so ook in 1997, 2007, 2011 en 2015, en net een elk enkele jare. Daar is soms volwassenes in die gevangenis gedoop. Die eerste dopeling in hierdie register was op 3 Augustus 1958 deur ds Mossie van den Berg: Anna Maria van den Berg, gebore 4 Mei 1958 (nie familie van die doper nie).

Ek hoop hierdie artikel maak ons lesers weer bewus van die fisiese gebeure van hul eie doop, en hul aandeel so aan die kerkgeskiedenis!

(Ds C Johann de Bruin, siekte-emeritus, is kurator van die SP Engelbrecht-museum)