Eindelose konneksies, en tog ’n diepe dors na betekenisvolle kontak; smagtend na geestelike groei, maar skepties oor die kerk se vermoë om daarin te voorsien; ’n behoefte aan spiritualiteit, dog effens agterdogtig oor georganiseerde godsdiens. Jongmense se pogings om ’n geestelike koers te vind, is dikwels kompleks. Di Rue Hopley en Michael Müller se bydraes in hierdie uitgawe bied ’n insiggewende en hoopvolle blik op die kerk se rol in jongmense se lewens.

Tegnologie, sosiale media, ’n veranderende sosio-politieke landskap, ensovoorts, beïnvloed jongmense se geestelike ontwikkeling op maniere wat vorige generasies nie ervaar het nie. Ons word gereeld herinner aan die neiging na ’n meer persoonlike godsdiens onder jongmense wêreldwyd aangesien baie van mening is dat tradisionele godsdiensinstellings nie altyd hul geestelike behoeftes bevredig nie. Hulle soek dus na meer buigsame en individuele maniere om hul spiritualiteit te verken wat persoonlike geloof eerder as kerklike leer beklemtoon.

Die wegskram van gestruktureerde godsdiens is egter geen nuwe verskynsel nie. In die negentigerjare van die vorige eeu het ek in ’n sielkundeverhandeling (A phenomenological study of the Christian experience of God, 1998) beskryf hoe sekere gelowiges wat ’n diep individuele geloofservaring en persoonlike verhouding met God het, toenemend krities oor dogma, vorm, prosedure en tradisie geword het.

Die redes waarom gelowiges aktiewe lidmate van ’n gemeente behoort te wees, het ’n al hoe kleiner indruk begin maak. Dit was min of meer in hierdie tyd dat ’n nuwe opsie op kieslyste vir godsdiensaffiliasie verskyn het: Spiritual but not religious (SBNR). Dit verteenwoordig diegene vir wie geestelike ervarings persoonlik is en wat van mening is dat tradisionele kerkwees min of meer uitgedien is.

Die kerk durf nie voorgee dat die SBNR-groep nie belangrik is nie. Die tendens moet eerder verreken word in toekomsbeplanning. Baie van hulle het in die kerk groot geword; ander weer is besig om te ontwaak vanuit ongeloof of apatie tot ’n nuwe spiritualiteit. Albei groepe lê vierkantig op die kerk se arbeidsveld.

Hoewel eiesoortig, vertoon die kerk steeds kenmerke van ’n instituut. Hoe gemaak met diegene wat geen erg daaraan het nie – wat van mening is dat die kerk tussen hulle en hul persoonlike ervaring van God staan? Waar laat dit die kerk? Op ’n baie opwindende plek! Geleenthede om individuele spiritualiteit, veral binne die kerk, te ontwikkel, is legio en uitstekend. Die gesondste gelowige is dié een met ’n holistiese, geïntegreerde en gebalanseerde geloofslewe. Dít is die paradoks: Baie mense staan krities teenoor georganiseerde godsdiens, maar tog het hulle steeds ’n intense behoefte daaraan om te behoort.

Een lesingvrye Sondag tydens ’n studiebesoek aan Boston in die VSA, neem ek vroegoggend ’n lukrake voorstedelike trein. Twintig minute later bevind ek my in ’n immigrantewoonbuurt met ’n heerlike mengelmoes van klanke, kleure, geure en kulture. Dit raak kerktyd en ek stap straatop en straataf om ’n erediens te vind. Voor ’n klein, netjiese kerkgebou is die leraar besig om die voetpaadjie skoon te vee. Ons begin gesels en ek vra: Hoeveel lidmate is daar in dié kerk? Met ’n swaar Oos-Europese aksent antwoord hy: 46. En hoeveel verwag jy by die diens vanoggend?, vra ek. Met ’n vraende blik in sy oë sê hy: 46 – en voeg dan by: O, jy bedoel indien iemand ’n vriend saambring? Dan is ons 47. Dit het my laat wonder hoeveel gemeentes van óns Kerk kan getuig dat die lidmaattal en die bywoningsyfer Sondag na Sondag ooreenstem?

Dit mag bloot die ervaring van ’n immigrantegemeente wees waar die behoefte aan die eie en om te behoort straks besonder sterk is. En daar is ook NHKA-gemeentes wat van dieselfde samehorigheid kan getuig. Ek vermoed wel dat hulle in die minderheid is. As ’n ideaal is dit egter nie onrealisties en onhaalbaar nie – ook nie vir groot gemeentes nie. Inteendeel, dit behoort tog nie anders te wees nie…

Daar is deesdae weer ’n groeiende behoefte om te behoort – ook geestelik. Digitale isolasie is vinnig besig om sy tol te eis. Mense begin weer soek na ’n inklusiewe, nie-veroordelende ruimte waar opregte Christelike omgee en liefde gesien en ervaar word – én waar hul besondere behoeftes erken word. Die dinamika tussen individuele spiritualiteit en kollektiewe verbondenheid, skep ’n kreatiewe veld waar tradisionele en nuwe vorms van godsdiensuitlewing mekaar kan ontmoet en kruisbestuif.

Wat SBNR betref, kry ek die indruk dat, ten spyte van goeie intensies, daar nie altyd veel spiritual na vore kom nadat van religious afskeid geneem is nie. Wat ons benodig, is nie ’n óf-óf- nie, maar ’n én-én-benadering. Persoonlike geloofsbelewenisse en die georganiseerde gemeenskap van gelowiges sluit mekaar gewis tog nie uit nie. Eintlik kan die een nie sonder die ander nie – en waar dit wel gebeur, is die eendimensionele oppervlakkigheid tasbaar.

Daar is reeds gemeentes wat buite die boks dink en goed daarin slaag om pro-aktief, akkommoderend, inklusief, kreatief en divers te wees – sonder om enigiets van die kern van kerkwees prys te gee. Dit wys in hul getallegroei.

Denkskuiwe is nodig. Vir ’n kerk wat gereeld vasval in debatte oor wie welkom is by die nagmaal en oor die wenslikheid van afsonderlike kinderdienste, mag dit dalk ietwat van ’n uitdaging wees. Die NHKA het egter uitstekende praktiese teoloë wat leiding gee – want oor een ding stem ons almal saam: Die Kerk durf nie jong lidmate verloor nie – nie nóg méér nie. Gelukkig hoef ons nie…