Gemeente Potchefstroom-Studente kan getuig dat ons Here die getroue en liefdevolle Skrywer van die gemeente sowel as elke gemeentelid se lewensverhaal is. Vir die afgelope 58 jaar bied die gemeente aan jongmense ’n tuiste weg van die huis. Ons leuse vir 2025 is: Geloof bou ons op, liefde bind ons saam! Ek deel graag iets van ons kerk- en gemeentewees met elke leser van Die Hervormer.

In biddende afhanklikheid het ons as gesin verlede jaar die beroep aanvaar en verhuis – al sou ons nie die verwagte groeipyne vryspring nie. In elke groeipyn gee die Here ook ’n geleentheid om te groei. Ons moes baie besluite neem en snoei om plek te maak vir die nuwe groei. Daar is ook groei in my persoonlike lewe. My humorsin het beslis verbeter vandat ek hier is, en my slaappatroon het natuurlik ook baie verander. Ons lag te heerlik en het baie pret – en ons dien die Here op die studente se unieke wyse. Ons gesin beleef die Here se troue sorg, en ons is dankbaar vir sy hulp en krag.

Dit is vir ons as gesin ’n voorreg om saam met die gemeente te kan groei en die besondere geloofsbelewenis en die geestelike groei van die jong lidmate te ervaar. Ek en my vrou, Andrea, bid gereeld saam oor elke student wat ons aanneem. Ons beleef die groei in ons Bybelstudiegroep en in die aksies wat ons reël. Die studente wil almal saamwerk en -bou – hulle is geesdriftig oor menswees én oor kerkwees. Ons permanente lidmate speel ook ’n belangrike rol in die volhoubare groei en ontwikkeling van die gemeente.

Op die verwelkomingskamp in Januarie het ons die meeste van ons nuwe jong lidmate ontmoet en ons gesin het heerlik saam met eerstejaar- tot finalejaarstudente gekuier en so mekaar beter leer ken. Dit was ’n besondere manier om die jaar af te skop! Ons is dankbaar dat die kerk vir hulle ook belangrik is, en ’n plek is waar hulle tuis kan voel. Daar is by my geen twyfel nie dat hierdie jong lidmate met hul opregte geloof, goeie waardes en diensbaarheid nog diep spore in die NHKA gaan trap.

Die gemeente bied ’n huislike gevoel vir diegene wat hulle ver van hul ouerhuise af bevind, hulle word deel van ’n kerkfamilie. Ons is daar vir mekaar – hier dien ons saam, leer ons saam, groei ons saam en deel ons saam in die genade van die Here.

Ons as gesin het al baie mooi geleenthede beleef sedert ons deel van die gemeente geword het, byvoorbeeld die HSV-bestuur vir 2025 se verkiesing, die studente wat slaggate in die paaie rondom ons kerk en kampus herstel het, en die stap vir Bybels wat ons saam met die NG-studentegemeente onderneem het.

Ons het twee eredienste elke Sondag. Die oggenddiens is ’n ruimte waar meer van die permanente lidmate en jong katkisante tuis voel. Almal wat die erediens bywoon, is beslis nog jonk van gees. Daar word ná die erediens saam gesels met ’n heerlike koppie koffie of tee. Die aanddiens fokus op die studente. Ons gee geestelike voedsel, sowel as ’n geleentheid om ná die diens saam te eet en te kuier. Die gesellige atmosfeer laat jou sommer dadelik tuis voel.

Tydens Bybelstudie wandel ons saam in God se Woord en leer sodoende saam. Die studente stel aktuele temas voor waaroor ons ’n informele gesprek voer. Ons Bybelstudie gee die geleentheid vir die studente om al die vrae te vra oor aangeleenthede waaroor hulle wonder. Derhalwe bid ons ook saam en deel in mekaar se bekommernisse en blydskap.

Ons sosiale geleenthede word só gereël dat ons saam met medegelowiges blywende herinneringe kan maak. Dit sluit geleenthede in soos Valentynsaand, Velliefees en aande waar ons saam braai, karaoke sing, en mekaar leer hoe om te sokkie. Ons speel potspel, veerpyltjies, kaarte en bordspeletjies. Ons geniet jonkwees binne die veilige ruimte van ons kerk.

Net soos baie ander gemeentes het ons ook uitdagings. Een groot uitdaging is finansies. Ons werk dus baie hard aan ons fondsinsamelingsaksies en het deur die jaar geleenthede waar ons kosverkope hou. Ons het ook ’n baie lekker studentebasaar – die Straatfees.

Bid asseblief vir die studentebediening. Die gemeente wil graag aanhou groei en al die geleenthede wat ons Hemelse Vader ons bied, aangryp.

(Ds Michael Müller is predikant in Gemeente Potchefstroom-Studente)